Gedigte van AD Keet

GEDIGTE VAN AD KEET

Alfabetiese lys van gedigte van AD Keet wat getoonset is. Waar moontlik bied ons die gedig in sy eie handskrif aan. Druk op die gedig vir meer inligting.

Aan die Vierkleur
Rooi, wit, blou en groen,
Wat het die Boere met jou gedoen?
Het jul jou diep in die graf laat daal
Saam met die keur van ou Transvaal?
Het hulle dit met jou gedoen,
Rooi, wit, blou en groen?

Kyk hoe ‘n nasie van een miljoen,
Wakker geskud deur ‘n groot klaroen,
Rondom jou vaandel samestroom,
Roep om sy Vryheid, en nie meer droom!
Wapper maar fie ren vry en koen,
Rooi, wit, blou en groen.

Rooi, wit, blou en groen,
Kyk hoe ons mense jou kleure soen!
Nimmer sal jy uit ons land verdwyn,
Steeds sal die sonlig op jou skyn.
Wapper maar fier en vry en koen,
Rooi, wit, blou en groen!

Toonsetter

Aan die kruis

O, Heer, wat nog kan liefhê aan die Kruis,
Ten spyte van smaad en laster en verraad,
Leer my die les dat in U Vaderhuis
Daar plek is net vir liefde, nie vir haat.

O, Heer, leer my die les dat trots ‘n Judassoen
Ek nog moet liefhê dag en nag;
En wat vir onreg mense ook mag doen,
Te antwoord net met liefde, en te wag.

Toonsetter

Aan my Moedertaal

Dreun soos kanonne wat alles verdowe,
Dreun in die berge, oor die kranse en klowe,
Eggo en eggo weerom!

Bulder en dreun met die waterval-strome,
Jubel en juis met die voëls in die bome,
Juig en jubel alom!

Vlieg met die winde oor woude en rande,
Styg met die kwartel uit koringlande,
Om in die bossies te skuil!
Sweef met die voëls wat dwaal by die wolke,
Bruis in die strome en draai in die kolke
Rondom die kafferskuil!

Klink oor die vlakte helder en luide,
Galm jou klank van die Noord tot die Suide,
Dwarsoor Rhodesia!
Klink met die klank van die kerkklok-toring,
Ruis in die ranke en ruis in die koring,
Taal van Suid-Afrika!

Toonsetters

Aandmymering / Op die stoep van ‘n Boereplaas
Dis stil…
Geen blaartjie roer,
en die hele werf
rus sag in die skoot van diepe vergetelheid.
Die dag is dood
en lê begrawe –
Stil.

Soas op Sabbatsmôres ‘n tortelduif
die stilte in die lug nog stiller maak,
deur af en toe te koer en dan te swyg –
So kan jy hoor
daar onder by die voor,
waar nou net modder van vroeëre strome vertel,
hoe die paddatjies die ontsaglike stilte verstoor,
Hulle kwik en kwek en kwaak,
dat dit kraak!
om dan weer almal op te hou –
Ineens!
Maar nie vir lang nie,
ontevrede bid
en soebat hul vir reën –
Hul ween
en gaan dan slaap, vermoeid en uitgeput.

Ver
in die veld
gaan ‘n skreeuende kiewiet te keer.
Hy vlieg op en neer,
heen en weer,
verskrik
deur ‘n jakkals wat tjank in sy buurt…
Dis roerloos stil.

En die sterre,
O, God, die sterre!
Hoe mooi
is die firmament versier
en uitgetooi,
asof daar altyd feeste word gevier
daar bo in die hemel,
Ver –
Ver van hier!

Toonsetters

Adoratio
    Ik sien jouw beeld in elke blom,
    En die sonlig vleg sij reënboog-ringe,
    Glorie-kringe,
    Aanbiddend om jou om.

    Ik hoor jouw stem bij iedere see
    Wat ‘s awends laat, bij sterrehemel,
    Van branders wemel,
    En kniel dan neer, tevree….

Toonsetter

Allerliefste

O, sê my nooit, my allerliefste,
dat jy ‘n ander meer bemin,
as dit so is, my allerliefste,
wil ek jou liefde nogmaals win.

Want sonder jou kan ek nie leef nie,
om jou draai heel my wêreld rond,
en wie sal nie sy lewe gee nie
vir haar in wie hy liefde vond?

Toe antwoord sy: “My teerbeminde,
ek het maar net met jou gespeel –
jy weet tog goed, my teerbeminde,
dat ek jou lief en leed wil deel!”

Toonsetter

As Saans

As saans die son stilswygend sterf
daar oor die wester-rand,
dan straal hy wondertekens uit
aan elke volk en land.

As saans die skemersluier sak
in stille segetog,
dan veg die dag sy doodstryd voor
sy laaste ademtog.

As saans die donker duister daal –
die doodskleed van die dag –
dan hou die kinders van die son
hul ligtend sterrewag.

Toonsetters

Berou / Dit is laat in die nag / Treurlied

Dit is laat in die nag
En ek wag, en ek wag –
Vir wie wag ek nou?
Vir jou, vir jou.

Toonsetters

Bimbamboela

Bimbamboela,
Amanoela,
Habiboela –
Ek is ‘n soela!

En ek voela
Vreeslik koela
Teenoor die hele boela
Van julle-a

Toe sê Boela,
Bimbamboela,
Amanoela,
Habiboela,
Ewe koela
“Wat bedoela
Jy, lelike Soela?”
Hou jou smoela!
Of ons woela
Jou net-nou met ‘n stoela
Op jou koppa!!!”

Toonsetter

Corrie

‘n Klein, rooi rosie op haar hoed,
en aan haar voete
Swart-fluwele skoentjies
Soete soentjies
Wemel om haar mond rond
En vol van gloed
Haar wange is –
O, ek mis, ek mis haar nou:
Corrie, kind, ek hou van jou!

‘n Klein, rooi rosie op haar hoed
en vlak daaronder
wonderlike oë,
Stil, bewoë,
Helder, blou en mooi
Rooi gekleur van gloed
Haar wange is –
O, ek mis, ek mis haar nou:
Corrie, kind, ek hou van jou!

Toonsetter

“Dichter sind lugner” – Ewig, ewig so (Vry vertaal)

Ewig, ewig sou ek so –
As ek nou my hart moes glo –
Met my hoof op jou kan rus
Diep ontroer deur elke kus –
Ewig, ewig, ewig so –
As ek nou my hart moes glo!”

“O, maar jy kan vreeslik jok!
Dink jy om my so te lok?
Wat jy my nou daar vertel
Het jy ook gesê vir …Nell
Ewig, ewig is jul so –
Nooit sal ek in digters glo!”

Toonsetter

Die Maan

Die maan is ‘n kwaai ou kêrel,
Sy gesig is maar altyd stram.
Al loop jy nou in die Pêrel
Al staan jy in Amsterdam.

Nog nooit het die ou gelag nie
Nog nooit het die ou “ge-smile”
En hy sê ook nooit vir mens nag nie –
Presies soos die “bull” van oom Daiel!

Toonsetter

Ek Haat Die Felle Daglig
Ek haat die felle daglig,
verag die grote son –
Ek sou hul albei martel
en ophang, as ek kon!

Gist’rawend in die maanskyn
het ek my nooi gesoen –
Vandag toe ek haar aankyk,
wou sy dit nie weer doen!

Ek min die sagte streling,
Die streling van die maan –
Die daglig bring verveling,
en maak my nooi net skaam.

Toonsetter

Ek hou van blou
O, vra my nie my liefde,
ek het dit weggegee
aan ‘n kleine koringblommetjie
en aan die grote see.

Ek hou van bloue blomme,
‘k aanbid die hemelblou,
jou oë vermy dit kon ek nie –
ek min hul meer dan jou!

Toonsetters

Gelykenis

Hoog en helder skyn die maan
Baie myle hiervandaan.
Wolkies kom en gaan verby,
Stil en langsaam, op 'n ry
Wolkies wit en wolkies geel,
Almal deur die maan gestreel.
En die wolkies gaan verby,
Stil en langsaam, op 'n ry.

Soos die wolke trek en gly
Langs die lugbaan, op 'n ry;
Soos die maan daar rustig staan
Myle, myle hiervandaan,
Is die lewe- glo vir my:
Almal trek en gaan verby,
Net die wêreld bly maar staan
Met sy sterre en sy maan.

Toonsetter

Gisteraand
Hoe triestig die wêreld vanaand
Gistraand
Wat dit heeltemal anders –
Toe was ek nog by die branders.
Die mense was vrolik,
Die golwe was bly,
Huppelend, skuimend,
Ry aan ry !
En my liefste, my liefste,
Sy was by my !

O was dit maar weer gistraand !
Vanaand
Is ek stil en verlate –
Weemoedig loop ek deur die strate.
Die mense is vrolik,
Die mense is bly,
Laggend en skertsend
Maar my liefste, my liefste,
Is nie by my !

Toonsetter

Groot Suid-Afrika
Van waar die Zambezi dreun
Tot Tafelberg se top,
Groot rys Suid-Afrika
Voor my verbeelding op:

Ek sien hoe groot riviere
Deur onse hand gelei,
Verkwikking bring vir diere
En mense, moeg gestry.

Ek sien hoe koringvelde
Ons dor Karoo verryk;
En oral vir ons helde
Gedagt’nis-tekens pryk.

Ek sien wel duisend stede
Verrys vanuit die grond;
Ek sien ons volk tevrede,
Herenig en gesond.

Ek sien die Afrikaander
Regeerder van sy land;
Ek sien die buitenstaander
Reik hom die broederhand.

Ek sien ons arendsvlugte,
Ek sien ons bloue lug.
Ek hoor geen droewe sugte,
Ek sien ons Vryheid t’rug.

Suid-Afrika is groot,
Suid-Afrika is ryk –
Dit sal nog uit sy hart
En sy harsings blyk!

Toonsetters

Heimwee / Verlange

Ek verlang na die land, waar koppie en rand
verrys van die vlakke veld,
waar die bossie-twyg sy kransies ryg,
oor die graf van menige held,
na die land daar ver, waar die skape blêr
as hul saans na die kraal toe kom.
Waar die kokkewiet sing en die tyding bring
dat die dagbreek is weerom
en die mannetjie’struis, as sy bloed opbruis,
Met sy vlekvere staan te pronk
‘wyl hy dreunend brom, met sy nek gekrom
en sy bene so rooi soos ‘n vonk.
Ag, ek sug na die land, na my vaderland,
waar die son so skitterend skyn.
O, warme son, o, heerlik bron
waarsonder ek steeds sal kwyn!

Toonsetter

Kafferkindjie

Ek ken ‘n klein swart kindjie
Wat maer en uitgeteer
Daar by sy pa se strooihuis sit
En bid: Ag, Liewe Heer…

En die skrale najaarswindjie
Speel oor hom, heen en weer.

Ek vra die klein swart kindjie
Wat hom dan tog makeer.
Toe antwoord net die windjie:
Ag foeitog, Liewe Heer…

Toonsetters

Kinderlied / Vlindertjies

Kom, kom, kindertjies
Buite vlieg die vlindertjies -
Hier, daar, oweral.
Al die kleine stakkertjies
soek hul bonte makkertjies:
kyk, kyk, ag hoe mal!

In die kleine kommetjies
Van die bloedrooi blommetjies
Duik, duik, duik hul in.
Reguit naar die suikertjies
Vlieg die bonte duikertjies:
suig, suig, suig daarin.

Toonsetters

Klaas Vakie / Wiegeliedjie

Ek sal nou maar so saggies aan
na bed toe gaan –
My ogies is al baie vaak,
Ek dwing al om hul toe te maak –
Ek sal maar bed toe gaan.

Ek sal nou maar my moeder kus,
en dan gaan rus –
My ogies is al baie moe.
Hul val vanself al sommer toe –
Ek sal maar nou gaan rus.

Ek sal nou maar my ogies sluit;
die lig is uit.
en haar gesig die sien ek tog,
aan haar dink ek gedurig nog –
Al is my liggie uit.

Toonsetters

Kom, Afrikaners

Kom, Afrikaners, sing ‘n lied,
Laat hoor jul stem in sang:
‘n Nasie in sy lentetyd
Gevoel die digkuns-drang.

Hef aan ‘n lied van heldedaad,
Van mag teen owermag:
‘n Nasie wat sy helde eer,
Sal niemand ooit verag.

Sing saggies van jul vroueleed –
Maar wees op almal trots:
‘n Nasie, wat sy vroue eer,
Staan vaster as ‘n rots.

Sing oor die vrede van die veld,
Van koppie en van rand:
‘n Nasie wat sy woonplaas eer,
Bou nooit op losse sand.

Kom, Afrikaners, sing nou luid,
En laat jul stemme hoor,
Hef aan ‘n lied wat oweral
Ons nasie sal bekoor!

Toonsetters

Kontras

Kersmis 1914

Wit is die wêreld,
Wit van die sneeu;
Bokant die water
Sweef daar ‘n meeu.
Blou is die hemel,
Nêrend ‘n wolk;
Orals is vrede
Rondom die kolk.

Spierwit wêreld,
Diep in jou siel
Sug jy en smag jy
Om te verniel;
Skyn is jou vrede,
Donker jou hart.
Jy is maar bly oor
Ander se smart!

Toonsetter

Lied van die See

Die branders breek, die branders breek,
In die dag,
In die aand
Elke week, elke maand:
Breek, branders, breek!

Die golwe dreun, die golwe dreun
Hulle kreun,
Hulle steun
Op die ou, ou deun:
Dreun, golwe, dreun!

Die aarde blij maar stil en swijg
In die dag,
In die aand
Elke nag, elke maand:
Swijg, aarde, swijg!

Toonsetters

Maar een Suid Afrika / Gee My

Gee my ‘n roer in my regterhand,
Gee my ‘n bok wat vlug oor ‘n rand –
en ‘n flukse perd om hom weg te dra:
Gee my Suid Afrika.

Gee my ‘n kamp waar bossies groei,
Gee my ‘n fraai volstruis wat broei –
en ‘n boereseun wat baie wa:
Gee my Suid Afrika.

Gee my ‘n koppie om op te staan,
Gee my die Swartland met al sy graan –
en nooit of te nimmer hoor jy my kla:
Gee my Suid Afrika.

Gee my ‘n vlakte ruim en wyd,
Gee my die veld se oneindigheid –
en die lekker geur wat die lug daar dra:
Gee my Suid Afrika.

Toonsetters

Moeder

'n Vertaling van Moeder het verskyn in die artikel "The Soul of Afrikaans poetry" in die Sunday Express, 11 Desember 1938. 1938 was die jaar van die Vootrekker Eeufees. Daar is nie voldoende bewyse wie “AJB” was nie. Keet se handskrif in rooi.

Nou is sy oud en afgeleef,
Haar rug is krom, haar hande beef –
My moeder!
Ek weet nie wat ek nou moet doen –
Ek stuur maar elke week ‘n soen -
Aan Moeder,
My moeder!
Waar ook my voetstap heen mag gaan,
Daar is maar een wat my verstaan –
My moeder!
Ek weet my moeder bid vir my –
O, Heer sien neer in medely
Op Moeder,
My moeder!

Toonsetters

Muskietejag
Jou vabond, wag, ek sal jou kry,
van jou sal net ‘n bloedkol bly
hier op my kamermure.
Deur jou vervloekte gonsery,
Deur jou gebyt en plaery
Kon ek nie slaap vir ure.

Mag ek my voorstel, eer ons skei,
eer jy die doodslag van my kry –
my naam is Van der Merwe.
Muskiet, wees maar nie treurig nie,
wees ook nie so kieskeurig nie,
jy moet tog eendag sterwe.

Verwekker van malaria,
Sing maar jou laaste aria –
nog een minuut vir grasie.
Al soebat jy nou nog so lang,
Al sê jy ook: ek is nie bang,
nooit sien jy weer jou nasie…

Hoe sedig sit hy, o, die kreng!
Sy kinders kan maar kranse bring,
Nou gaan die vabond sterwe…
Pardoef! Dis mis! Daar gaan hy weer!
Maar dood sal hy, sowaar, ek sweer –
My naam in Van der Merwe!

Toonsetters

My liefste
    Ik wag al op mij liefste
    Maar al wat kom is sij.
    Of is dit dat mij liefste
    Nog altijd wag op mij?

    Ik weet nie of mij liefste
    Dit weet hoe ik haar min.
    Sij het al lang gelede
    Mij hele hart gewin.
    
    Ik wonder of mij liefste
    So af en toe nie snik,
    Als sij vir mij sit wag en
    Al wat kom is ik.

Toonsetter

Net Maar Gesien
Net maar gesien het ek vir haar –
Geen enkel woord gepraat;
Ons loop so vlak verby mekaar
een middag laat, op straat.

Net maar gesien een enkel blik –
Net maar gehoor my hart;
O, God, hoe onuitsprekelik
is tere, diepe smart.

Net maar gesien, al soveel maal –
Net maar gevoel hoe mooi
en rein sy is, my ideaal,
My wonderskone nooi.

Toonsetter

O, ken jy die gebed
“O, ken jy die gebed,
Die smeekgebed van my?
Ek wil so graag nog net
‘n rukkie by jul bly!

Ek sien ek is nou klaar,
die goeie stryd gestry –
Maar bid dat God my spaar,
al roep Hy ook vir my…

Ek wil so graag nog net
‘n rukkie by jul bly –
O, wat ‘n vreugde en pret,
Die kindertjies van my!”

Toonsetters

Orgideë
‘n Orgidee lê op straat,
Dit is te laat,
Ek kan hom nie meer red nie.
Sy arme blaartjies is verwelk,
En uitgedroog sy lewenskelk –
Ek  kon dit nie belet nie.

‘n Dogter van my eie volk
Swier langs die staat –
Dit is te laat,
Dit is te laat
Ek kan haar nie meer red nie.

Toonsetter

Ou Amsterdam

Aan my vriend Eduard Karsen

Ou Amsterdam is tog so mooi
met al sy liggies uitgetooi,
In die donker, donker nagte,
Dis liggies hier en liggies daar
in lange tye aanmekaar
wat flikker in die gragte.

En honderd duisend ogies loer
op spieëlgladde watervloer
daar bowe uit die hemel.
Dis liggies hier en liggies daaar
en bootjies, wat so saggies vaar
dat ligte golfies wemel.

Die liggies soek mekaar weer op
in water, wat teen walle klop
op stormagtig’ nagte.
So toweragtig, lief en skoon
is liggies, wat op walle woon
en flonker in die gragte.

Toonsetters

'n Sanger

‘n Sanger is hier opgestaan,
Opgestaan,
En weggegaan.

Hy was ‘n sanger sonder faam,
Maar nou het hy ‘n grote naam.

Dis snaaks dat sangers dood moet gaan –
Dood moet gaan,
Om op te staan.

Toonsetter

Sing Uit Jou Lied
Sing uit jou lied, in vryheidsnaam
En wees nie skaam, en wees nie skaam.
Wat baat jou frisse, vrye lug
As jy maar ewig deur moet sug?
Sing uit jou lied, en wees nie skaam,
Suid-Afrikaner, hoog jou naam!

Sing uit jou lied, en maak jou vry,
‘n Volk kan nie in kettings bly.
Al is die hek nog steeds gesluit,
Jy moet daaruit, jy moet daaruit.
Sing it jou lied, o, volk van my!
Jy mag nie meer in  kettings bly!

Sing uit jou lied, oor velde ruim,
Die vyand druk op jou sy duim;
Verweer jou goed, laat loop jou bloed,
Na bitter stryd smaak Vryheid soet.
Verweer jou goed, o, my volk van my,
Ek sien jou vry, ek sien jou vry!

Toonsetters

Slagvaardig
Jy moet nie bang wees vir die bliksem,
Jy moet nie bibber as dit reën.
Moet ook nie skrik nie vir ‘n bom nie,
Al was hy ook vir jou gemeen.

Wees dapper as wat swak is wankel,
Wees manlik as jou kinders huil.
En toon die wêreld, Afrikaner,
Wat daar vir skoons in Kaapland skuil.

O, volk van my, daar is nog arbeid,
Daar is nog roem, daar wag nog stryd –
Jy moet nie bang wees vir wat kom nie,
Wees slagvaardig, wees bereid!

Toonsetters

Sneeu

Sneeu, sneeu, lieflike sneeu
Daal op die aarde neer;
Dit val en dit swewe,
Dit sterf en dit lewe –
O, kyk tog hoe kom dit al weer!

Sneeu, sneeu, heerlike sneeu –
Moeder, kom kyk tog hoe fraai!
Miljoene klein vlokkies
In stukkies en brokkies
Word wyd oor die wêreld gesaai!

Lieflik en rein en wit is die sneeu,
Moeder, dit val en dit sweef
In brokkies en stukkies
Met stote en rukkies –
Presies of die hele lug leef!

Toonsetters

Sonnedaal
Die purper van purpere lugte,
die lila van sonnedaal –
Die sterwende dag se sugte,
hul laat my gedagte dwaal.

Ek dink aan ‘n blonde meisie,
ek dink aan ‘n keurige brief.
En ek hoor in my siel net een wysie:
ek het haar, o, so lief!

Toonsetters

Soveel is daar geskrewe
Soveel is daar geskrewe,
So weinig bly bestaan –
Maar van ons liefde-lewe
Sal daar geen woord vergaan.

Want soos ‘n berg verhewe
Oor vlakteland regeer –
So sal ons liefde ewig,
Ja ewig, triomfeer.
O, lieflike, o, myne,
Ons liefde was van God –
Die altyd-soewereine
Bestemmer van ons lot.

Toonsetters

Trippe Trappe Trone

Trippe trappe trone,
Varkies hou van bone,
Varkies hou van melk en vlees
Maar van boontjies nog die mees
Trippe trappe trone.

Trippe trappe trone,
Boer sit sonder bone,
Boer sit sy koerant en lees,
En die varkies vier maar fees –
In die suikerbone.

Trippe trappe trone,
Afrikaner sone,
Julle wat wil boere wees
Pas-op, of dis klaar met Kees –
Trippe trappe trone

Toonsetter

Troos
“Wat! Treur jy oor ‘n meisie?
Ou maat, jy laat my lag!
En van wanneer het die nooientjie
Oor jou dan so ‘n mag?

My kragtie, kêrel, skaam jou,
Jy is mos al ‘n man.
En die see is vol van visse –
Ek dag jy wis daarvan!”
Oor jou twee bloue oë
Het ek al menige keer
Ontsterflike verse geskrywe –
My liefste, wat wil jy meer?

Toonsetter

Uit Pure Pret

Onder die groene druiweprieel,
onder ‘n rype tros,
wou ons graag sien wie langer was;
ruk ons twee korrels los.

Eerste was dit jy, wat ‘n korrel kry,
springend tot by die tros.
Jy halfskaam, 
noem toe my naam,
gee hom aan my met ‘n blos.

Ek, vir die gek, kon my glad nie rek
bo tot die druiwetros.
Jy halfkwaad, gee my die raad.
Nooit te wees soos ‘n vos…

Toe was dit jy, wat my regtersy
kielie uit pure pret.
Ek halftraag, bang om te waag,
Moes op ‘n kansie let…

“Ope jou mond, so mooi en rond.
Net om ‘n korrel te kry!”
Heel jou gesig het toe opgelig – 
Ek was langer as jy!

Toonsetter

Verlange
Mijn lief is ver, oneindig ver,
Onreikbaar als die kleinste ster,
Wat skitter op dees’ stonde,
Maar o, dis tog so wonderbaar,
Al is ons nou nie bijmekaar,
Ons harte is saam verbonde!

Mijn lief is thuis en ik sit hier,
Waar lente-môre trouwdag vier
So vrolik en so blijde,
Maar o, dit is so wonderbaar,
Al is ik somtijds sonder haar,
Is sij tog aan mij sijde!

Mijn lief is mooi – besonder mooi,
Ik noem haar selfs mijn wonder-nooi
In al mijn soetste sange.
En o, dit is so sonderbaar,
Sij weet, dat haar bewonderaar
Hier sug van diep verlange!

Toonsetters

Verlate
Sovele vroue sien ek gaan
Langs hel verligte strate;
Glimlaggend kyk hul almal aan,
En tog is hul verlate.

Daar val so baie blare neer
Op troostelose strate;
Die winde waai hulle heen en weer,
En elkeen is verlate

Toonsetter

Waar Bliksems Slaan / Hier in die wereld

Waar bliksem slaan en donder dreun,
Daar het ek eens ‘n vrou hoor kreun.
Daar het ek ook ‘n lyk gesien –
Die arme man het dit verdien.

Hy’t swaar gewerk en hy was trou,
Aan God en Kerk, aan volk en vrou
Toe kom die weer en blits hom neer –
O, Godheid Gods, wat maak jy seer

Toonsetters

Weemoed

Ek kan my weemoed uitgil oor die aarde
Totdat die maan en sterre hoor
Hoedat ‘n altyd kalm en stil-bedaarde
Mens kan skree wat moed verloor.

O, ek is moeg van al die uitgestane,
Ek is sat van bittere dwang;
Ek soek my heil in ingehoue trane,
Dae, nagte lang…

Ag, liewe Heer, verhoor tog my gebede,
En maak die droefheid in my stil.
Gee aan my siel weer moed, en hoop, en vrede –
Leer my berusting in U wil.

Toonsetters

Winter

Sonnetjie, skyn!
Sonnetjie, skyn!
O, skyn by my venster in.
Koud is die wind, wat daar buite waai,
Donker die wolk, wat daar bowe draai,
Sonnetjie, kom tog in.

Sonnetjie klein!
Sonnetjie rein!
Steek tog jou koppie uit;
Jaag tog die wolke daar bo uiteen,
Soen tog my oë, wat ween en ween,
Reg deur my versterruit.

Sonnetjie fyn!
Sonnetjie myn!
Kom tog, ek soebat jou
Weg net die wind, wat daar buite waai,
Weg met die wolk, wat daar bowe swaai,
Sonnetjie, kom tog gou.

Toonsetters