Jan Willem VAN SETTEN

JAN WILLEM VAN SETTEN

* 26 Februarie 1888, Doorn, Utrecht, Nederland

† 3 Oktober 1972

Gedig

Zuid-Afrikaansche Kinderlied

Op Sondagaand 26 Februarie 1888 om 23h00 was dit -10 grade Celsius toe Jan Willem van Setten te Doorn, Utrecht gebore is uit die stamboom Zegert Vis. Volgens die volkstelling van 1889 het Doorn op daardie tydstip uit 1857 siele bestaan.

Sy pa was Wessel Evert van Setten en was 35 jaar oud met Jan Willem se geboorte. Hy was ‘n ystersmit van beroep. Ma Anna, gebore ‘n nooi Van Someren, het gesorg vir die groot gesin, wat bestaan het uit Johanna (van Vloten), Gerrit Wessel, Reijertje (Van Vulpen en Nieuwenhuizen), Wessel, Anna (Meulenbrugge), Wilhelmina Margaretha (Van De Klashorst), Petronella Johanna, Cornelis Jan, Eduard, Louise, Margaretha Johanna, en die komponis, Jan Willem van Setten.

Jan Willem het op 28 jarige ouderdom met Evertje Demoed (gebore 10/1/1893 te Driebergen) op 11 Mei 1916 te Driebergen, Utrecht getrou. Evertje is 8 jaar later, op 31 jarige leeftyd op Vrydag 7 Maart 1924 in Doorn oorlede. Op Donderdag 17 September 1925 trou Jan Willem met Johanna Maria van de Schaft (12/3/1902 – 21/1/1982).

In die Utrechts Archief, Inventaris nommer 615, word genoem dat JW van Setten deur die Deutsche Kriegsgericht, die hoogste militêre hof in Duitsland, vanaf Mei 1940 tot September 1940 tot gevangenisskap gevonnis is.

Na vele soektogte is die aftog geblaas – geen verdere inligting oor Jan Willem kon bekom word nie. Op die begraafplaaslyste van die Nieuwe Algemene Begraafplaas te Doorn kan sy grafsteen gesien word.

Toonsetting: Zuid-Afrikaanse Kinderlied