Omius VAN OOSTRUM

OMIUS VAN OOSTRUM

* 3 November 1862, Leeuwarden, Friesland, Nederland

† 11 Nov 1948, Pretoria, Suid-Afrika

Gedigte

As Saans
Kinderlied
Klaas Vakie
Gelykenis
’n Lied van die See
Winter
Sneeu
Aan my moedertaal

Omius het homself as ‘n idealis beskryf

Onder die immigrante wat in die tydperk na die stigting van die ZAR bekendgestaan het as Kruger se Hollanders, was ongeveer 300 gekwalifiseerde onderwysers. Alhoewel van dié onderwysers met verloop van tyd na Nederland teruggekeer het, was daar ook diegene wat hulle permanent in die Transvaal gevestig het en Suid-Afrika as ’n nuwe vaderland aanvaar het.

In Omius se agtiende lewensjaar het die 1880-1881 (Transvaalse Rebellie) in Suid-Afrika uitgebreek en na berigte van die oorwinning op Amajuba hom ter ore gekom het, was die gebed van Asa, 2 Kron 14:11, in sy geheue ingebrand.

Omius se vader is Jan Tjitzes (gebore 4/1/1837 te Baarderadeel, Nederland, sterfdatum onbekend), het in Leeuwarden gewoon en gewerk. Sy moeder was Aaltje Swartwolt (gebore 21/6/1834 te Leeuwarden, Nederland, sterfdatum onbekend). Deur die eeue het Leeuwarden verskeie beroemde mense opgelewer op die gebied van die kunste, literatuur, wetenskap en politiek... en ook die danseres/spioen, Mata Hari. Die sensusopname van 1859 bevestig 25 385 siele woonagtig in Leeuwarden.

Omius was die oudste van sy ouers se kroos. Na hom is Tjitze, Margaretha Catharina, Roelof, Otto, Catharina en Trijntje, gebore.

Omius vertel: “My ouers was arm en het dus nie die middele gehad om my te laat leer nie, al het ek ook al vroeg 'n groot begeerte daartoe gehad. lnteendeel, sodra ek op twaalfjarige leeftyd die laerskool verlaat het, moes ek my vader in sy vak help. Hy was strooihoede- en pettemaker en ek het 'n paar jare lank die naald hanteer. Maar toe kom daar eendag 'n brief van die onderwyser wat vroeër hoof van die Kristelike Skool by ons was, by wie ek skool gegaan het en wat nou skoolhoof op 'n dorp in Suid-Holland was, en daarin bied hy aan om my in huis te neem en vir onderwyser op te lei. Dit was vir my ouers wel 'n opoffering, want dan sou my vader my hulp moet ontbeer en ook die koste van 'n behoorlike uitrusting vir my moet dra, maar hulle het in my belang die aanbod aangeneem. Gelukkig was daar 'n jonger broer wat in die werk kon bly. Ek was toe vyftien jaar oud.”

Vir drie jaar het hy elke dag drie myl gestap na sy klasse en aan die einde daarvan die eksamen geslaag. Sy eerste onderwyspos was op Alfen a/d. Rijn, Zwyndrecht, waar hy vir adellike jongmense opleiding gegee het en ook orrelis was. Voor hy vir militêre diens in Nederland opgeroep is, het hy aan Goverina Helena Vogel (1863 – 1942) verloof geraak. Terwyl hy voortgegaan het met verdere opleiding in Wiskunde, Aardrykskunde, Frans, Engels en Duits, trou hy op 4 Augustus 1892 met Goverina Helena.

Vanuit Suid-Afrika was daar ‘n oproep om onderwysers. Hy het sy diens aan die Transvaal aangebied en ‘n benoeming na ‘n buiteskool op Kafferskraal, Wyk Boven-Schoonspruit in die Potchefstroom distrik gekry.

Saam op die skip Ghoorka na Suid-Afrika was sy vrou, drie kinders, pleegdogtertjie, ‘n broer en niggie van sy vrou. En natuurlik sy orreltjie en die Bybel. Die reis het drie weke geduur.

Na vele draaie deur Suid-Afrika het hy President Kruger op Kerkplein in Pretoria raakgeloop. Die eerste keer wat hy ‘n koeëlreën beleef het, was tydens die beleg van Mafeking. Na deelname aan die slag van Magersfontein word hy as manskap van Genl Cronje tydens die slag van Paardeberg krygsgevange geneem en op 27 Februarie 1900 begin die lang skeepsreis na Sri Lanka. In die Diyatalawa krygsgevangenekamp het hy die skoolhoof geword. Hier het hy ook Latyn onder die knie gekry en die eerste maal begin skryf.

Diyatalawa- en Deadwoodkamp (op die eiland St Helena) se inwoners was beide in die merkwaardige posisie om ‘n klavier te besit. Diyatalawakamp het 'n recreatie-zaal gebou van riete en palmblare en in hierdie saal is tentoonstellings, vergaderings, musiek- en toneelopvoerings gehou.

Wetenswaardig is dat JHL Schumann, wat vroeër kerkorrelis was en op St Helena verskeie liedere gekomponeer het terwyl hy krygsgevangene was, daarin geslaag het om op St. Helena 'n orrel te huur te kry. Hiermee saam het die krygsgevangenes deur die bemiddeling van die beroemde dr Mengelberg 'n stel blaasinstrumente, drie tjello’s en viole ontvang. Opvoerings is gehou in die Tot Nut en Vermaakzaal, wat van oopgevlekte blikkanne gebou was.

Omius kon met die geld wat hy as onderwyser in die kamp verdien het sy vrou en kinders, wat in die tweede oorlogsjaar in Potchefstroom se konsentrasiekamp geplaas is, ondersteun. Hul huis het die verskroeide aarde beleid nie vrygespring nie, maar die State Bybel en hul orreltjie het behoue gebly. In die laaste halfjaar van die oorlog is Goverina en die kinders terug na Holland gestuur.

Ander tydgenote en kunstenaars soos Jochem van Bruggen en Frans Oerder het ook saam met die Boere geveg. Cornelius van Gogh, die skilder Vincent se broer, was ook ‘n slagoffer van die oorlog. Cornelius het in ‘n Britse hospitaal onder vreemde omstandighede in Brandfort gesterf.

Die vredesverdrag is onderteken op 31 Mei 1902 en op 4 Januarie 1903 bevind Omius hom in Durban se hawe, waar hy om den brode hout op skepe help laai het. Omius het aan H Visscher (1865 – 1928), wat in die Republiek inspekteur van skole en sekretaris van die pas gestigte Vereniging van CNO (Christelijk Nationaal Onderwijs) was, om raad gevra. Die volgende hoofstuk in Omius se lewe begin:

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog is Dirk Opperman (snr) deur die Engelse gevange geneem, maar sy naam was nie op die registers nie en hy is dieselfde aand weer terug plaas toe. Ten spyte daarvan dat die Verskroeide Aarde beleid die Oppermans se plaas vernietig het, was grootvader Opperman vasbeslote dat die kinders behoorlike skoolopleiding moet ontvang.

Omius ontvang toe, deur die bemiddeling van Visscher, ‘n telegram, opgevolg deur ‘n brief van grootvader Opperman van die plaas Geduld no 2 naby Dannhauser, waarin hy ‘n onderwyspos aangebied word. In die brief verduidelik Opperman dat hy die Christelik Nasionale Onderwys skool begin, met £10 salaris, gratis kos en inwoning aan ‘n onderwyser. Van Oostrum het die pos aanvaar. ‘n Berig uit Nederland bevestig dat Van Oostrum se vrou en kinders gedurende daardie tydperk na Suid-Afrika teruggestuur is en so kon hy sy eie kinders, die kinders uit die Opperman-familie en verskeie kinders uit die distrik – in totaal ‘n twintigtal - opvoed. Die Van Oostrumgesin se lewe was steeds armoedig. Kos het bestaan uit mieliepap, groenmielies, brood, aartappels, eiers, blikkies vis en ‘n bietjie groente. Op Sondae was daar 'n stukkie vleis uit die slaghuis by die stasie.

Een van die kinders in Omius se skooltjie was Dirk J Opperman jnr (29/9/1914 – 22/9/1985), die skrywer, wat later ‘n huisvriend van AD Keet was. Opperman was menigmaal by Keet aan huis op Senekal, waar daar gekoukus is oor digwerk en Opperman vir Keet gedeeltes uit sy ongepubliseerde boeke gegee het om te lees.

‘n Brief wat ‘n onderwyspos in Vryheid aanbied laat Van Oostrum op ‘n eenperd-karretjie (bestuur deur die jong Dirk Opperman) tot by De Jagersdrift reis. By die nuutgestigte weeshuis Arbeid Adel naby Witzieshoek het Omius ‘n onderwyspos beklee totdat hy by die Normaalkollege in Pretoria aangestel is. Hier het hy en Berend Elbrecht (1883 – 1954) opvoerings op die planke gebring met musiek deur Omius gekomponeer, waaroor Eugene Marais ‘n gunstige resensie die lig laat sien.

“Vanaf 1918 is besondere aandag aan die Godsdiensonderwys geskenk. Die naam van mnr O van Oostrum verdien in hierdie verband spesiale vermelding.”, word gemeld in die vyftigjarige gedenkalbum van die Normaalkollege Pretoria.

Oor musiek skryf Van Oostrum die volgende: “Op 'n ander gebied het ek met 'n poging tot verbetering baie minder sukses gehad. By die sangonderwys word op die Vasteland van Europa die Franse sg. Cheve-metode gebruik. Daarby word die tone wel do, re, mi, ens. genoem, maar deur syfers aangedui. Die skryfwyse van die tydmaat is so eenvoudig dat dit baie maklik vir sangdiktaat kan dien. Ek het die metode aanbeveel en in 'n reeks artikels in die “Kristelike Skoolblad" geskryf en byna 100 oefeninge vir die onderwyser se gebruik daarby gegee. Prof. (Gerrit) Bon, wat 'n leerplan vir sang opgestel het, gebruik liewers direk die balkskrif, alhoewel hy ook die syfternotasie as 'n aanloop daarheen baie beter vind as die tonic-solfa. My reeks artikels is nou in sy hande met die oog op moontlike oorneming in sy plan van sekere wysies wat ek met Afrikaanse woorde daarin opgeneem het.”

Gedurende 1921 was Omius met verlof en besoek sy familie in Holland en Amerika, waar sy seun studeer het.

Van sy sestigste tot vier en sestigste jaar is Omius as waarnemende hoof van die Normaalkollege Pretoria werksaam. Daarna het hy aangebly as eksaminator vir mondelinge en skriftelike Afrikaans in die matrikulasie-eksamen. Na dertien jaar by die Normaalkollege is hy op amper 70 teen sy sin op verpligte pensioen geplaas .

Op 11 Nov 1948 sterf Omius van Oostrum op 85 in Baberton, Pretoria.

‘n Direkte afstammeling van Omius Van Oostrum, Johanni van Oostrum, is sedert 2011 welbekend as operasangeres (sopraan) op verhoë in Europa, en veral in Duitsland. “Oupa-oupa Omius! Ja, ek weet van hom en ek het Muskietejag opgesê op skool!”, was haar borrelende reaksie toe die samesteller haar gekontak het oor groot-grootvader Omius Van Oostrum.

Van Oostrum het 74 artikels, boeke en verhale in 4 tale in 166 publikasies die lig laat sien. Verskeie artikels uit sy pen het tussen 1937 en 1947 in Die Huisgenoot verskyn, en het behoue gebly.

Ander Afrikaanse digters getoonset

T Wassenaar, CLF Cilliers, TW Jandrell, Totius, CL Leipoldt, A Pannevis, H van der Westhuizen, D Krige, J Lub, W Boshoff, SJ du Toit, H Martins, JH Rademeyer, MSB Kritzinger, M Phillips, G Berend, JA van Oostrum, O Feuillet, ALG Bosboom-Toussaint, DJ Ackermann, SJ du Toit, JRL van Bruggen, Leipoldt, W Spiethoff, 7 verwerkings in opdrag van die SAUK.

Omius van Oostrum op 77 jarige leeftyd (1939)

Van Oostrum het sy lewensreis in Bestendige Onbestendigheid neergepen

Toonsetting: Aan my moedertaal

Toonsetting: Kinderlied

Toonsetting: Winter

Toonsetting: Klaas Vakie

Toonsetting: Gelykenis

Toonsetting: Sneeu

Toonsetting: ’n Lied van die See

Toonsetting: As Saans