MAARTEN CHRISTIAAN ROODE
* 29 Julie 1907, Porterville, Wes-Kaap, Suid-Afrika
† 7 Mei 1967, Potchefstroom, Transvaal, Suid-Afrika
Gedigte
As Saans, vertaal deur ID du Plessis as At Night
Sneeu
Sy komposisies is meestal bestem vir opvoedkundige gebruik. Hy komponeer ook kunsliedere en klavierwerke.
Pa Christiaan Daniel en ma Martha Maria het ‘n groot, musikale gesin versorg. Maarten was jongste kind in die gesin en het op veertienjarige leeftyd begin klavierles neem. Sy broers en susters was Johanna Catharina, Christiaan Daniel, Pieter Daniel, Anna Maria Cornelis en Hermanus Bernardus.
Maarten en sy oom David het geestelike en kunsliedere, wat vandag nog opgevoer word, getoonset en albei het bygedraes gelewer tot die ontwikkeling van opvoedkundige klaviermusiek. Van moederskant was hulle familie van die komponis Stefans Grové.
Maarten was getroud met Johanna Hendrika (Babs), wat ‘n toegewyde gemeenskapsmens was. Sy aktiewe loopbaan het op Kestell begin, waarna hy in Boshof (1929 – 1936) en Kroonstad (1937 – 1944) werksaam was.
In Robertson was Maarten en David studente van Maria Fismer, voordat Maarten in die Vrystaat wortels geskiet het. Op jeugdige ouderdom behaal hy sy lisensiaat in klavier, sang, harmonie en kontrapunt. Met finansiële ondersteuning van David, wat sewe jaar ouer as hy was, kon Maarten voortgaan met orrel- en sangopleiding en het hy sy lisensiaat in beide hierdie twee instrumente behaal.
Die BMus graad hy in 1941 aan UNISA voltooi. Verdere opleiding het hy aan die Royal Academy of Music in London ondergaan.
Maarten word in 1945 aangestel as die eerste Organiseerder van Musiek in die Transvaalse Onderwysdepartement en dien op die paneel van musiekeksaminatore van UNISA. Hy was toe in Johannesburg gevestig en word orrelis van die NG Gemeente Irene en eerste voorsitter van die pasgestigte Afrikaanse Musiekvereniging.
Maarten was die amptelike orrelis tydens die ingebruikneming van die Voortrekker Monument in Desember 1949. Vanaf die stigting van die FAK het hy op die musiekkommissie gedien. In 1950 het die FAK hom beopdrag om ‘n Engels-Afrikaanse boek oor musiekterminologie saam te stel.
Op Vrydag 28 Maart 1952 het hy met ‘n feeskoor na Kaapstad vertrek. Die koor se optredes was geskeduleer vir 3 en 4 April. Ses werke is uitgevoer; twee was liedere met woorde van Keet, naamlik Sneeu, getoonset deur Maarten en As Saans, getoonset deur H Barton. Dirkie de Villiers het in 1959 by Roode en verskeie ander toonsetters / komponiste toestemming verkry vir die insluiting van Sneeu in die FAK Sangbundel.
Roode is gekies as ‘n assessorlid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en was bestuurslid van die destydse Suid-Afrikaanse Musiekraad.
‘n Ommekeer het in Roode se lewe gekom toe JP Malan hom genader het met die aanbod van die onafhanklike hoofskap van die beplande nuwe Konservatorium van die Universiteit van Potchefstroom (PUKKE). In 1950 is die onderneming geloods met ongeveer driehonderd leerlinge en veertien leerkragte. Van die ander dosente was H de Wet, D Muller, T Pretorius, MR Coetzee en S Smuts, laasgenoemde as klavierdosent. A Wegeling het opleiding in viool en Naomi Papé sangopleiding aangebied. Hennie Joubert, Stefans Grovè, Johann Potgieter en andere het later by die onderwyskorps aangesluit. Skouspelagtige groei het plaasgevind en in 1953 word Roode professor in Praktiese Musiek. In 1956 het hy vir JP Malan as hoof van die Universiteit se musiekafdeling opgevolg. Onder sy hoofskap is die nuwe Konservatorium met ‘n volledig toegeruste konsertsaal in 1960 gebruik geneem. Gaskunstenaars by hierdie geleentheid was die SAUK Simfonie-orkes onder leiding van dr Anton Hartman.
Maarten Roode het by verskeie geleenthede kongresse van die Internasionale Vereniging vir Musiekopvoeding in die buiteland bygewoon en het sodoende sy musikale horison deurlopend verbreed.
In 1967 is sy verwerking van Ps 428 tydens die Studentesangfees op Stellenbosch deur die Universiteitskoor gesing, en in in die daaropvolgende jaar was Sneeu op die program. Die Vrystaat se Jeugkoor het ook Sneeu in hul repertoire opgeneem.
Die kleurryke era in die geskiedenis van die Pukke se konservatorium is onverwags in 1967 op ‘n tragiese wyse afgesluit toe Maarten en Babs in ‘n motorongeluk in Potchefstroom oorlede is. In Potchefstroom is ‘n straat na Maarten Roode vernoem.
Ander Afrikaanse digters getoonset
ID du Plessis, AG Visser, CJ Langenhoven, A Rörich, Totius.
Die Wapad, Amptelike Studentekoerant van die P.U. vir C.H.O., 10 Mei 1967
Uit die AD Keet Nalatenskap - PUK herdenkingsbrosjure
Uit Keet Nalatenskap die volgende briewe
Toonsetting: As Saans
Toonsetting: Sneeu