WALTHER FRIEDRICH SPIETHOFF
* 21 September 1874, Dusseldorf, North Rhine, Westphalia, Duitsland
† 31 Januarie 1953, Kaapstad, Suid-Afrika
Gedigte
Winter
Sneeu
Kinderlied/Voorjaarslied
O ken jy die gebed, onopspoorbaar
Kafferkindjie, onopspoorbaar
Skrywer, komponis, sanger, onderwyser
Walther se pa, Gustav Spiethoff, se vrou was Helene Von Wyschetzka. Walther was getroud met Martha Marie Stark (1891 – 1968). Walther se sibbes was Frieda (Bacher), Alwine Gerda (Ewerbeck), Erich en Elizabeth.
Op sesjarige leeftyd het Walther se familie na Bohemië verhuis en sy pa het in 1879 ‘n koerantuitgewery daar gekoop en was redakteur. Sy ma was lid van ‘n aristokratiese familie in die kontrei. Al hierdie faktore het ‘n besondere invloed op Walther se ontwikkeling gehad. In Bohemië het Walther etlike jare lank musiek bestudeer - hy het veral in opera belanggestel.
Sy jonkmansjare was 'n tydperk van swaarkry, maar ondanks ‘n nypende tekort aan geldelike middele het hy geen oomblik afgesien van sy ideaal nie. Sy musiektalent is aangemoedig en laat 1891, vroeg 1892, was hy in Milan as sangleerling kort voor die afsterwe van die ou meester, F Lamperti (1813 – 1892).
In 1895 was hy op ‘n kort besoek by familie in die Betsjoeanaland Protektoraat (Botswana) en Suidwes-Afrika (Namibië), ‘n besoek wat onuitwisbare indrukke nagelaat het en wat ‘n groot rol gespeel het in sy besluit om na Suid-Afrika te emigreer. Op Grootfontein het hy 'n Ovambovrou en haar kaal pikkenien 'n winkel sien instap. Toe hulle weer uitkom, het die pikkenien 'n paar lang spierwit kouse aangehad, wat baie komieklik by die swart beentjies afgesteek het. Binne vyf minute was die gediggie op ‘n bruin kardoessak geskryf. Kort daarna het hy die wysie gesing en die woorde getoonset en so word dit in die FAK Sangbundel verewig.
Teen 1912 het hy reeds in die vernaamste operahuise in Europa opgetree. Na die voltooiing van sy militêre diens het hy hom gewy aan die ontwikkeling van sy stemkwaliteit en teen 1913 was hy goed gevestig as ‘n opera-tenoor in Oostenryk en die draer van die titel Koninklike Operasanger. Hy het vele male as solis in Duitse teaters opgetree. In dieselfde jaar het WH Bell van die College of Music in Kaapstad hom genooi om by hulle aan te sluit.
Op 4 September 1913 het hy sy buiging voor die Kaapse publiek in ‘n program van liedere en uittreksels uit die operas gemaak en hy het met sy verhoogpersoonlikheid, voortreflike tegniek en vertolkingsvermoë indruk gemaak. Sy begeleier tydens die konsert was sy kollega, die pianis P de Beer. Sy landgenoot aan die Stellenboschse Konservatorium, H Endler, het sy leiersposisie gebruik om vir Spiethoff ‘n aanstelling as sangonderwyser op die personeel te kry. Die bevestiging van sy aanstelling is gedateer 24 Maart 1913. Hy was woonagtig by Pietie le Roux, Jonkershoekweg 7 en sedert sy troue, tot sy vertrek uit Stellenbosch, was sy adres Dorpstraat 8, Stellenbosch.
Die eerste jare van sy verblyf in Suid-Afrika het saamgeval met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog. Spiethoff is deur die Suid-Afrikaanse Regering geïnterneer in ‘n kamp naby Pietermaritzburg. Gevolglik moes hy sy sangmeesterpos laat vaar. Sy internering was ‘n keerpunt in sy loopbaan. Hy het hom daarop toegelê om Afrikaans te leer en toe hy op 13 Maart 1919 vrygelaat is, het hy reeds gedigte van JFE Celliers, HA Fagan, M Brink, AG Visser en CL Leipoldt getoonset. Hy was op pad om ‘n Afrikaner te word!
Op Stellenbosch het hy ten nouste geassosieer met die opkoms van die Afrikaanse kultuur deur Afrikaanse lieder en deur die jare ook Afrikaanse kortverhale, romans en toneelstukke by te dra. Gedurende sy eerste jaar op Stellenbosch het hy ook kennis gemaak met S Eyssen, met wie hy ‘n vriendskap ontwikkel het. Eyssen het dikwels van Walther se liedere by programme ingesluit en mondelinge kennis oor die komponis en sy werk versprei.
Mettertyd het hy erkenning ontvang, beide as liedkomponis en as outeur. Vele privaat musiekonderwysers het gedurende die twintigste eeu op Stellenbosch lesse in viool, klavier, teorie, tale en sang aangebied. Persoonlikhede soos M Jannasch, E Louwrens, B Wilcocks, J van Niekerk, I van der Merwe, S Neethling en Walther Spiethoff is onderrig in die luit in Dorpstraat 22.
Die Eerste Wêreldoorlog het veroorsaak dat daar vir ‘n hele aantal jare geen besoeke van buitelandse kunstenaars aan Windhoek was nie. Die eerste kunstenaar van buite Suidwes-Afrika wat weer ‘n besoek aan Windhoek gebring het was Walther Spiethoff, professor aan die Stellenboschse Konservatorium. Hy het op 14 en 17 Januarie 1921 ‘n uitvoering van poësie en liedere, met luit-begeleiding, in Windhoek gelewer.
Na die oordrag van die SA Konservatorium van Hans Endler na die Universiteit van Stellenbosch in 1934, het die diensdoenende personeel, onder andere W Spiethoff en H Endler, as personeellede aangebly.
Na sy aftrede het hy dieselfde bekwaamhede gebruik om sy bestaansmoontlikhede te verruim. In Stellenbosch het hy op koöperatiewe wyse met Endler in die voorbereiding en aanbieding van oratoriums en operettes (meestal jaarliks) aan te bied. Hy het ook as sanger tot konsertprogramme bygedra.
In Kaapstad, waar hy sy eie, onafhanklike ateljee gehad het, het hy in ‘n verskeidenheid van musikale vakke en instrumente, selfs die mondfluitjie, opleiding gegee. In 1937 het hy met Endler saamgewerk om ‘n libretto vir ‘n eerste Afrikaanse Operette, Pa se dogter, voor te berei. Die werk is in 1938 onder leiding van Endler op Stellenbosch opgevoer.
Walther Spiethoff was een van die eerste komponiste wat 'n toonsetting gemaak het van Die Stem van Suid-Afrika. Hierdie toonsetting word vandag by HA Fagan se Afrikanerlied gebruik, wat in die FAK Sangbundel gepubliseer is. Spiethoff se toonsettings word in etlike van die FAK Sangbundels aangetref.
Die Huisgenoot het verskeie artikels oor en van hom gepubliseer. In Huisgenoot (28 Januarie 1949): Fanie Koekemoer oor Walther Spiethoff en Huisgenoot (14 November 1941): Spiethoff skryf oor Die Volkslied. Van Spiethoff se reisverhale is in Die Huisgenoot van 28 April, 5 Mei, 16 Junie, 23 Junie en 21 Julie 1944 gepubliseer.
Blanche Gerstman het hom soms op klavier begelei. Tydens Die Stellenbosch se Sangfees (1972) het hy Pikaninie Wiegelied en Ek Sing van die Wind gesing (1975). Laurika Rauch het die Spiethoff toonsetting van die Pikaninie Wiegelied in 1981 opgeneem.
Teen die einde van sy lewe het die herinneringe aan daardie eerste besoek aan Afrika weer na vore gekom in Spiethoff se Afrikaanse roman Die Diamant Talisman.
Op 1 November 1953 skryf Keet aan Piet J Nienaber (1910 – 1995): Ek sien Walt(h)er Spiethoff is ook oorlede. Hier is nog ‘n Columbia-grammafoonplaat van hom, met sy “Slaap Pikaninie” aan die een kant en op die keersy sy musiek op “Sneeu” en “Kinderlied”, gesing deur Stephen Eyssen. (Sneeu en Kinderlied is Keet gedigte)
Walther Spiethoff is ter ruste gelê in Woltemade Begraafplaas, Kaapstad.
Ander Afrikaanse digters getoonset
CL Leipoldt, H Martins, Rob. Gerhardt, OGP Grosskopf, J Bouws, R Nepgen, P de Villiers, PJ Lemmer, ML de Villiers, S le R Marais, R Schuman, CJ Langenhoven, HA Fagan, JFE Celliers, M du Toit, M Brink en AG Visser.
Toonsetting: Winter
Toonsetting: Sneeu
Toonsetting: Kinderlied