TERA DE MAREZ OYENS - Woltera Gerharda Wansink
* 5 Augustus 1932, Velsen, Noord-Holland
† 29 Augustus 1996, Hilversum, Nederland
Gedig
Gisteraand (Gistraand)
Komponis, pianis, dirigent, skrywer
“Musiek is die enigste kuns wat die mens onmiddellik raak, om jou gees op te hef en te skok. Miskien is die doel van musiek om direk na die siel van die mens te gaan.”- Tera
In ‘n hoekie van haar groot woonkamer, vlak by die skuifdeure wat uitloop op die tuin, het Tera vyf tot ses ure per dag gekomponeer. Groot musiekpapiere op ‘n klein lessenaartjie – dag na dag op dieselfde plek, winter en somer. Van haar eie klavierkonserte kon sy self nie speel nie, want haar hande was te klein.
Tera is gebore uit die huwelik van Derk Johan Wansink (1898 – 1978), historikus en skooldirekteur en Alida Jacoba Soeters (1902 – 1989), godsdiens-opvoeder.
Tera was jongste van twee dogters, in ‘n gesin wat hul besig gehou het met die opvoedkunde. Haar moeder was ‘n belydende christen in die Nederlands Hervormde geloof; haar vader was ‘n agnostikus. Die kinders het ‘n christelike opvoeding gehad.
Musiek was vir Tera van jongs af baie belangrik en vanaf haar vierde lewensjaar het sy klavieronderrig ontvang en vanaf agt jaar oud ook vioolles.
Haar vroeë jeug het sy deurgebring in Velsen, IJmuiden en Santpoort, waar haar ouers gedurende die Tweede Wêreldoorlog onderduikers versorg het. Haar vader het in 1946 direkteur van die Skool vir Maatskaplike Werk in Hengelo geword en die gesin het daarheen verhuis. Hier ontvang Tera musiekonderrig van Gerrit de Marez Oyens.
In 1949 skryf Tera haarself op sestienjarige ouderdom by die Amsterdamse Konservatorium in. Haar dosente was J Odé: klavier; J Henrichs: viool; C Jacobs en R Boer: klaviersimbaal; J Felderhof: harmonie en F Hupka: direksie (dirigeerwerk). Ook bemeester sy die blokfluit en viola da gamba. Nadat sy in 1953 afgestudeer het, lei H Henkemans haar op in komposisie.
Drie dae na haar eindeksamen op 2 Julie 1953, trou Tera met ‘n voormalige klavierdosent, die komponis, Gerrit de Marez Oyens (1922 - 2013). Hy was komponis, orrelis en klavierdosent. Terug in Hengelo word Caecilia en Iris gebore.
Met die vernuwingsbeweging in die Nederlands Hervormde Kerk, was musiek ‘n inspirasie vir die egpaar. Na die verhuising na Hilversum in 1959, word Tera kantor van die Diependaalse Kerkkoor en dirigent van die Hilversum se Gemengde Koor en Gerrit word direkteur van die Gooise Musiek Opleidingskool. Die gesin vergroot met die geboortes van David en Valentijn. In 1968 vergroot die gesin nogmaals toe die drie kinders van haar oorlede suster by die gesin aansluit. Die krioelende kinders ontwrig Tera nie – dit is ‘n produktiewe tydperk in haar lewe waartydens sy met haar komposisies volhou.
Aanvanklik was Tera nie entoesiasties oor elektroniese musiek nie, maar uit nuuskierigheid het sy ‘n kursus by Gottfried Michael Koening, aan die Stigting Gaudeamus in Bilthoven, deurloop. In 1964 ontvang sy die De Visser-Neerlandiaprys van die Algemeen Nederlands Verbond (ANV) en nog studie in elektroniese musiek by die Instituut vir Sonologie volg. ‘n Berig in die De Philips Koerier van 8 Desember 1968 lees as volg: "Moeder van 7 kinders komponeer elektroniese musiek." Sy het later die maak van elektroniese musiek as pret, maar fisiese harde werk beskryf.
Tera komponeer kerkliedere en skoolmusiek en bly betrokke by die uitvoering daarvan. In 1975 maak sy haar debut as dirigent by die Overijssels Philharmoniese Orkes. Twee jaar later sluit sy aan by die Konservatorium van Zwolle, as dosent in hedendaagse musiek.
Nadat haar huwelik met Gerrit de Marez Oyens verkrummel, trou sy met die politikus en skrywer Menachem Samuel Arnoni op 8 Maart 1976, in Hilversum. Sy behou egter haar de Marez Oyens van waaronder sy bekend geword het.
Arnoni (1922 – 1985) was vir haar ‘n inspirasie. Een van sy tekste was The Odyssey of Mr Goodevil, ‘n werk oor die oorlog se verskrikkings. Tera het vyf jaar aan ‘n toonsetting daarvoor gewerk, maar dit is nooit uitgevoer nie. Met die afsterwe van Arnoni gaan Tera ‘n moeilike tyd tegemoed. Sy konsentreer op komposisie, werk as gasdosent in die buiteland en bied lesings oor elektroniese musiek aan. In 1988 het sy opgehou doseer en in 1989 hervat sy haar werk as komponis aan Georgia State University in Atlanta.
Vanaf haar jeug het Tera ‘n bewondering vir Marten Toonder gehad en sy ontmoet hom weer ‘n keer in 1994. Die vriendskap het gegroei tot ‘n hegte verhouding en einde 1996 haak hulle die knoop deur en maak haar woning saam met hom in Ierland.
Dit is hier in Ierland waar sy ernstig siek word en op 29 Augustus 1996 het sy in Hilversum gesterf. Op haar grafsteen staan: Ashes to the sea’s final chord.
Die Algemeen Dagblad Nederland stel op 18 Februarie 1987 die volgende vraag: De Vrouw als Componist: kunnen vrouwen componeren? Hierdie vraag is rondom die eeuwisseling egter van minder belang geag as die vraag of dit welvoeglik is dat vroue hulle besig hou met musiek. Die Stichting Amazone te Amsterdam het ‘n tentoonstelling van ‘n paar komposisies uit die 1900’s gehou. Die sentrale komponiste was Catharina van Rennes, Henriette Bosman en Tera de Marez Oyens.
Die tentoonstelling het ‘n tydlyn van die 19de eeu aan die hand van twee groot feministiese oplewings in onderskeidelik 1920 en 1968 gewys. Daar is tot die besef gekom dat vroue (veral diegene uit ‘n beter sosio-ekonomiese klas) wat tot die musiekwêreld wil toetree, sedert die 1990’s veel geredeliker aanvaar word. Van Rennes (1885 – 1940) en Anna Lambrechts-Vos (1876 – 1932) was twee komponiste wie se loopbane sprekend was van die vroeëre vooroordeel teenoor vroulike komponiste. Henriette Bosmans (1895 – 1952) was nog ‘n vroulike komponis wat voor die Tweede Wêreldoorlog eenkant toe geskuif is, al het sy hard gewerk vir die emansipasie van vroulike komponiste. De Marez Oyens het in 1968 die stand van vroulike komponiste laat verander deur te sê: "Als een man zit de componeren wordt hij niet door de melkboer gestoord. Het blijft een feit dat vrouwen hun positie altijd moesten bevechten, ook in de muziek.”
Tera de Marez Oyens se nalatenskap bestaan uit komposisies, waaronder koor- en orkes-werke, kamermusiek, operas vir kinders en elektroniese musiek. Sy het opgetree as konsertpianis, dirigent van kore en orkeste, het radioprogramme aangebied en artikels geskryf. Voorts het sy lesings en improvisasiekursusse binne- en buitelands aangebied en vir ‘n dekade klasgegee in komposisie en hedendaagse musiek.
In 1994 het sy ‘n komposisie ter herdenking aan die Tweede Wêreldoorlog se impak in Nederland die lig laat sien. Oor die beriggewing van die dood van Steve Biko het sy ook ‘n werk gekomponeer en in 1995 het sy ‘n opdragwerk gekomponeer vir die vyftigste bestaansjaar van die Verenigde Nasies.
Na haar dood het haar kinders saam met Marten Toonder die Tera de Marez Oyens Stichting opgerig wat elke tweede jaar ‘n prys toeken aan ‘n komponis van hedendaagse musiek of ‘n persoon wat die musiek van Tera de Marez Oyens lewendig hou en bevorder.
Ander Afrikaanse digters getoonset
JFE Celliers, T Wassenaar, DF Malherbe
Grafsteen
Algemene Dagblad 18 Februarie 1987
Provinciale Zeeiwse Courant, 11 Junie 1998
Toonsetting: Gisteraand