Suzanne RENTZKE

SUZANNE RENTZKE

Gedig

Ek hou van blou

Suzanne se verhaal lees as volg

Suzanne is ‘n Weskus-mens en het in Darling die eerste lewenslig aanskou. Sy het haar skoolloopbaan afgesluit by Paarl Girls’ High School in 2000, waar sy reeds belofte vir ‘n sangloopbaan getoon het.

Aan die La Musique School of Performing Arts het Suzanne by Andrew Strauss opleiding ontvang en verdere opleiding aan die Universiteit van Kaapstad het afronding gebied. By die Royal Music Schools of London het sy vanaf 2007 tot 2015 haar opleiding in praktiese sang verder uitgebrei. Sy het ook drama-opleiding en onderrig in televisie-aanbieding by die bekende Elsabé Daneel ontvang.

Suzanne sing in Afrikaans, Engels, Italiaans, Duits en Frans. Afgesien van solokonserte lewer, tree sy ook op by feeste en privaat- en korporatiewe funksies. Die eerste silwer toekenning wat sy ontvang het, was in 1999 by die National Finals for the South African Championships of Performing Arts. In Los Angeles het sy tot die derde rondte van die World Championship of Performing Arts gevorder.

Haar eerste soloalbum in 2005 het die lied Ek hou van Blou, wat sy self getoonset het, ingesluit.

Suzanne is lid van die Cape Operatic Society asook die Gilbert and Sullivan Society in Kaapstad. Die lys van kunstenaars saam met wie sy al gewerk het, sluit onder andere die volgende in: Laurika Rauch, Rina Hugo, Coenie de Villiers, André Schwartz, Jennifer Jones, Andriette Norman, Drie van die Bestes, Mathys Roets, Eden, Bobby van Jaarsveld, Lianie May, Nianell en Romanz. Suzanne het al opgtree by verskeie teaters in Kaapstad, en besoekers aan die volgende feeste kon al haar stemkwaliteit geniet: KKNK (Oudtshoorn), Innibos Kunstefees, Volksbladfees, Kalahari Kuierfees, Aardklop, Huisgenoot Skouspel: Onder die Sterre by die KKNK en Sun City. Op televisie het sy op die Kyknet program Hoor Hoor! saam met David Fourie verskyn en by die Afrikaanse kanale op die programme Agter die Masker en Kos is op die tafel. Sy skryf haar eie komposisies, doen opdragwerk, werk aan operas, musiekblyspele en het in 2011 ‘n volgende album opgeneem. As produksiebestuurder was sy vir langer as ‘n dekade by groot opvoerings betrokke, waarna sy sedert 2019 ook bedrywig is as digitale projekbestuurder. Haar sportiewe kant het haar genoop om aan vyf Comrades Marathons deel te neem.

Musiek: Ek hou van Blou

Ek hou van Blou