Stephanus Le Roux MARAIS

STEPHANUS LE ROUX MARAIS - Fanie

* 1 Februarie 1896, Aasvoëlkop, distrik Bloemfontein, Suid-Afrika

† 25 Mei 1979, Graaff-Reinet, Suid-Afrika

Gedigte

Sneeu
As saans, 1930
Kinderlied, 1930
Lied van die see, 1961
Klaas Vakie, 1947
Dit is laat in die nag (Ander name: Berou, Treurlied), 1938 en 1942
Maar een Suid-Afrika, 1928 en 1961 FAK (Gee my ‘n roer in my regterhand)
Moeder, 1938

““Ek dink sy uitstaande kenmerk was sy nederigheid, hy was baie beskeie. Hy het nooit baie van homself gemaak nie.” - Mev Marais.

Stephanus was ‘n beskeie en teruggetrokke mens. Hy het die geriewe van sy huis verkies, om op sy gemak in sy mooi tuin te sit en ontspan, om die geselskap van sy vrou en vriende te geniet, of hom met kuns en musiek besig te hou. Altyd netjies gekleed was hierdie hoflike mens die volmaakte gasheer en besonder interessant om mee te gesels.

Hy het tennis gespeel, fiets gery, lief gewees vir middagete-aaneen-spelende rolprente, blymoedig en nie baie temperamenteel nie. Met ‘n rusie het hy nooit lank kwaad gebly nie. Godsdiens was vir hom ‘n belangrike saak in sy lewe.

Op die vraag oor hoe hy toonset het Stephanus soos volg geantwoord: “Die woorde van ‘n gedig is altyd my inspirasie. Ek lees hulle oor en oor totdat ek die stemming kry wat die digter wil weergee. Ek sit dan voor die klavier en probeer verskillende begeleidings. Ek sal bv. nie vooraf ‘n deuntjie skryf, en dan die woorde van ‘n gedig daarby probeer inpas nie. Ek skryf dit af terwyl ek voor die klavier sit en probeer verskillende variasies en akkoorde, ens. en ek luister hoe dit sal klink. Daarna, as ek eers die raamwerk het, bepeins ek dit, ook weg van die klavier, en probeer dit weer die volgende dag om te hoor hoe dit sal klink.”

Pa, Jakobus Francois Marais, is in Januarie 1868 op Wellington gebore. Ma was Brechje Jakoba le Roux, gebore in Mei 1868 te Wellington; albei was van Hugenote-afkoms. Vyf kinders is uit die huwelik gebore: Jakobus, Stephanus en Pieter (wat albei kort na geboorte oorlede is), Stephanus (Fanie) en Pieter Johannes. Ma, Brechje Jakoba, is in 1898 onverwags op Brandfort oorlede. Kort na sy ma se afsterwe begin die moeilike tyd van die Anglo-Boereoorlog.

Stephanus se pa besluit om met die drie seuns na die Kaapkolonie terug te trek vanwaar hy gekom het en in 1901 vestig die Marais-gesin in Daljosafat, waar pa Jakobus ‘n laerskoolonderwyserpos aanvaar het. Hier ontmoet Stepanus se pa vir Hester Helena le Roux (1872 – 1948) en die seuns kry ‘n nuwe ma. Uit hierdie huwelik word Johanna Alida, Debora Magrietha, Hester Helena en Guillaume Francois gebore. Dit was ‘n liefdevolle, groot gesin.

Op agtjarige ouderdom begin Fanie met musieklesse by ene mej Malherbe. Van die ander kinders uit die twee huwelike was ook musikaal.

Toe Stephanus 10 jaar oud was, verander sy pa van beroep en hulle verhuis na Stellenbosch, waar hy vir die volgende vier jaar aan die Kweekskool teologie studeer. Die gesin was eers in Dorpstraat en later in Kerkstraat woonagtig. Stephanus woon ‘n privaatskool by en vanaf 1909 studeer hy aan die Hoërskool Stellenbosch. Mej De Waal was hier sy musiekonderwyser.

Klaar gestudeer, aanvaar ds Marais ‘n beroep na Wepener en Stephanus voltooi sy skoolloopbaan in die Vrystaat. Met die ondersteuning van mej Nowers lê hy die Graad V- en VI-klaviereksamens aan die Universiteit van SA af. Mnr Malan het hom sy orrelspeelvaardighede help slyp.

Ds Marais aanvaar oste in Albertinia, Piketberg en keer daarna terug na Wepener totdat hy sy emiritaat aanvaar. Die aftreehuis wat ds Marais op Gouritzmond laat bou het, word jare lank die gunsteling blyplek van die gesin – baie lief en leed het hier afgespeel in Neliesgif, soos die woning geheet het. Stephanus het ‘n reputasie as ‘n poetsbakker vir wie sy gesinslede moes lig loop ontwikkel.

Nadat ds Marais se tweede vrou oorlede is, het hy vir ‘n derde maal in die huwelik getree en op George gaan woon, waar hy in 1957 op nege en tagtig jarige ouderdom oorlede is.

Stephanus het voortdurende gewik en geweeg tussen sy liefde vir die skilderkuns en musiek, maar in 1914 het hy by die Polytechnic (Normaalkollege) ingeskryf en ‘n driejarige kursus gevolg ten einde homself as onderwyser te bekwaam. Hier is hy onderrig in orrel en klavier deur PK de Villiers.

Gedurende sy studentejare in Bloemfontein het sy eerste komposisie vir klavier, getiteld Mymeringe die lig gesien. Na voltooiing van sy studies kry hy aanvanklik ‘n orrellispos in die NG Kerk op Hopefield en daarna op Smithfield.

Onder WH Bell skryf Marais in as musiekstudent aan die South African College of Music in Kaapstad. T Barrow-Dowling lei hom op in orrel en klavier en hy studeer hy onder P de Beer. Hy verwerf die UOLM-diploma en is orrelis aan die NG Kerk Observatory om sy verdere studie te finansier. Met sy kunsklasse help mnr Groves.

Teen die einde van 1923 vertrek hy na Londen vir verdere studie aan die Royal College of Music, met orrel as hoofvak. Hy hou ook vol met ook klavier en verskeie teoretiese vakke. In Europa het hy ‘n draai in Nederland gemaak en daar sien hy ‘n advertensie vir ‘n klavierspeler in ‘n duo saam met wie hy kennismaak met die Europese kultuur. Na vyftien maande in Londen het hy sy studies afgesluit met die verwerwing van ‘n ARCM diploma.

Terug in Suid-Afrika, het hy vir die volgende twee en dertig jaar as orrelis en musiekonderwyser sy dae gevul. In hierdie tyd het hy in alle erns begin komponeer en die eerste van sy eerste komposisies verskyn in 1928 in druk.

Oor die daaropvolgende tien jaar, vanaf 1930 - 1940, was hy liedkomponis, orrelis, musiekonderwyser, skryf hy operettes en tree op as klaviersolis. Die wins van sy konserte het hy aan liefdadigheid geskenk.

In Januarie 1941 is Marais na Wellington waar hy as dosent in musiek aan die plaaslike Opleidingskollege aangestel is om vir PJ Lemmer op te volg. Hier het Marais sanglesse geneem by me L Greathead, wat as lektrise aan die South African College of Music verbonde was. Na vyftien maande pak die “wanderlust” hom weer.

In April 1942 bevind hy homself as orrelis van die nuwe NG Kerk in Graaff-Reinet waar hy vir Edith Johanna Rex, gebore op 20 Oktober 1917, ‘n gegradueerde onderwyseres ontmoet.

Teen die derde kwartaal van 1944 het die swerflus hom weer beetgekry en hy verhuis na Ficksburg in die Vrystaat, waar hy ‘n orrellispos aanvaar en deurentyd hard werk. Hy en Edith het aangehou met korrespondeer. Hul briewe aan mekaar is gedurende die oorlogstyd (1944 – 1945) gesensureer; daar word beweer dat hierdie ingryping hom aangespoor het om vaderlandsliedere te komponeer. Op 18 Desember 1945 word Stephanus en Edith in Port Elizabeth deur sy pa in die huwelik bevestig.

In Mei 1946 word Stephanus in kennisgestel dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ‘n erepenning vir musiek aan hom toegeken het. Prof Arndt het die feesrede gelewer en Stephanus se prestasies soos volg opgesom: “’n Mens kan Marais se betekenis ten opsigte van sang vergelyk met dié van Langenhoven op die gebied van die letterkunde; toe daar ‘n innerlike behoefte en drang by die volk was om in hul eie taal te sing, het Marais dit vir hulle moontlik gemaak, deur vir die volk te komponeer.” Marais se pa het ook die geleentheid bygewoon.

Die nuwe egpaar was twee en ‘n halfjaar lank op Ficksburg, maar kon geen gerieflike huis vind om te huur nie en besluit om na Benoni te verhuis.

Met ‘n pos by die Witwatersrandse Tegniese Kollege in Benoni bereik Marais die kruin van sy loopbaan. Hy word gehoor oor die radio, gee orreluitvoerings, wy orrels in, hou konserte en gaan voort om te komponeer. Hy begin om met L Knobel, H Strauss en J Kriel saam te werk. G Harris help Stephanus om sy vermoë om te orkestreer te slyp.

Na ‘n ontstellende inbraak in hul huis besluit die Marais egpaar om na Gordonsbaai te verhuis, sodat Edith by die Kaapse Tegniese Kollege kon werk. Enkele jare later het hulle egter gaan nesskop in Graaff-Reinet, waar hy by die hoërskool verantwoordelik was vir musiek as vak vir die senior sertifikaat leerplan. Hierdie betrekkking beklee hy tot 1964 toe hy op agt en sestig ‘n tweede keer afgetree het. Die operette Lida en die Liedjieskrywer word hier geskryf en opgevoer deur M Casaleggio. Advokaat CR Swart was in die gehoor. Die operette word, behalwe op Graaff-Reinet, ook in Bloemfontein, Thabazimbi, Heidelberg en Franchhoek opgevoer.

In 1963 het Die Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap ‘n 15 minute lange kleurrolprent oor Marais se lewe en musiek vrygestel.

Na sy finale aftrede in 1964 hou Marais hom besig met sy skilderwerk. Hy komponeer skoolliedere, maak sy Derde Koorboek gereed vir publikasie en skryf ‘n hoorspel vir die SAUK. Deur die jare is verskeie plaatopnames van sy komposisies vervaardig.

In April 1974 was prof PJ Nienaber hoof van NALN in Bloemfontein en hy het in samewerking met Marais die Marais-gedenkkamer beplan. So is verseker dat S le Roux Marais se nalatenskap na sy dood by NALN bewaar sou bly.

Aan die begin van 1978 het Marais hy ernstig siek geword. ‘n Groot operasie het gevolg met nasorg in ‘n waakeenheid in Port Elizabeth. Op die oggend van 25 Mei 1979 is hy in die Middellandse Hospitaal op Graaff-Reinet oorlede.

Edith het in hul huis, Cypress Grove, aangebly en as deel van haar aktiewe lewe haar eggenoot se nalatenskap behartig. Haar suster Morenda Hitge het later jare te vertelle gehad hoe Marais een vakansie in 1943 al die pad per fiets van Graaff-Reinet vir Edith, op Aberdeen gaan kuier het – ‘n afstand van vier en dertig myl. Morenda Hitge het met toegeneentheid en deernis na haar swaer verwys as “the short little man with a hat”.

In 1950 het Gerrit Bon in sy artikel Die musiekkuns van die Afrikaner, gepubliseer in Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner, erken dat alhoewel Marais se liedere groot byval gevind het, hy getwyfel het of die liedere ‘n lang lewe sou hê. Die tyd het egter geleer – die liedere is vandag steeds gewild – Bon se twyfel is geheel en al weerlê.

Marais het gedurende ‘n tydperk van 35 jaar nege orrelisposte gevul. Uit ‘n totaal van 115 liedere, waarvan 108 kunsliedere, 6 skoolliedere en een ‘n feeslied was, is 80 toonsettings gepubliseer. Volgens 'n skatting van sy vrou het Marais minstens honderd en twintig skilderye (met olieverf, waterverf en kryt as medium) gemaak; meestal stillewes en natuurtonele. Van sy werk word in die Marais-gedenkkamer by NALN, Bloemfontein, bewaar en vertoon.

Ander Afrikaanse digters getoonset

Totius, E Marais, JFE Celliers, CL Leipoldt, AG Visser, G Olwagen, JRL van Bruggen, CF Visser, SJM Osborne, D Mostert, SJ Pretorius, CJ Langenhoven, J Retief, D Marais, TW Jandrell, CJ Hofmeyr, A van Scheltema, AV Breach, V Pohl, Eitemal, AE Carinus, CM van den Heever, PH Langenhoven, BA de Wet, B Dreyer, H Postma, E Eybers, E Marais, NP van Wyk Louw, ID du Plessis, EWS Hamond, B Blom, E Sontonga, Q Breech, J Pienaar, F Marais, B Gericke, B Kotze, K Hamman, SJ Pretorius, JJ Spruyt, FC Avenant. Verse uit Die Bybel, Gesangboek, Hallelujaboek, dr Fleming, J Retief, D Marais.

Brief van Marais aan Keet, Oktober 1929

Brief van Marais aan Keet, Oktober 1929

Brief van Marais aan Keet, Junie 1934

Brief van Marais aan Keet, Augustus 1934

Brief van Marais aan Keet, Mei 1942

Telegram van Marais aan Keet, 1948

NALN het die foto van S le Roux Marais, die skilder, in sy tuin verskaf

Toonsetting: Sneeu

Toonsetting: Moeder

Toonsetting: As Saans

Toonsetting: Kinderlied

Toonsetting: Klaas Vakie

Toonsetting: Maar een Suid Afrika

Toonsetting: Dit is laat in die nag

Toonsetting: Lied van die see

Onderstaande is ‘n frase toonsetting van die gedig van Keet: Lied van die see. Net een frase was opspoorbaar uit die tesis “‘n Analitiese oorsig van die Afrikaanse Kunslied met klem op die werke van Nepgen, Gerstman, Van Wyk, Du Plessis.” JH Potgieter, Univ Pretoria, 1967, p74. Met navrae aan Potgieter se dogter, is bevestig dat die volle toonsetting nie beskikbaar is nie.