Septimus SMUTS

SEPTIMUS SMUTS - Seppie

* 17 November 1914, Fouriesburg, Suid-Afrika

† 2001, Nylstroom, Suid-Afrika

Gedig

Aandmymering

Onderwyser, skrywer, orrelis, komponis, verwerker van Psalms en Gesange.

Aangesien daar gebruikgemaak is van verhale uit gemeenskappe in die Vrystaat en plaaslike koerante, is Septimus se lewensreis nie volledig of kronologies beskryf nie.

“Seppie het sober gewoontes gehad, hy was sterk teen drank gekant, selfs wanneer bloedfamilie by hom gekuier het, is hulle belet om te drink. Hy het daagliks douvoordag opgestaan en saam met sy hond hoog teen Bakerskop se hang uitgeklim, vanwaar hy die wêreld met sy verkyker bespied het. Hy was ook teen enige vorm van ongeregtigheid gekant en nie bang om die oorsaak van wat hy as ongeregtig of wreed beskou het, aan te vat nie.”

Pa Daniel Jacobus Smuts is op twee en sestig jarige ouderdom op 12/6/1930 te Fouriesburg oorlede. Ma was Susanna Maria. Na haar afsterwe is Daniel met Magdelina Catherina Margaretha De Goede getroud, wat op 28/8/1943 te Fouriesburg oorlede is. Die Smutsfamilie het uit ses seuns en een dogter bestaan. Septimus was die jongste seun.

‘n Broer Bennie was ‘n skilder op Bethlehem; ‘n ander broer was ‘n houtwerk-onderwyser op Villiers. Alfonso wat op Clarens woonagtig was, was die beeldhouer van die Kaalvoetvrou op die Olivierspas. ‘n Broerskind van Septimus, Danie Smuts (1925 – 2003), was die akteur wat op televisie in Afrikaanse opvoerings te sien was.

Septimus het sy BMus graad aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat behaal en in Zalzburg sy M graad in musiek voltooi.

Hy was Sotho, Duits, Afrikaans en Engels magtig en het baie gekorrespondeer met sy geliefde suster. Sy bynaam in Harrismith was Ou Sparrow, en hy was alombekend en bemind in Harrismith. Hy was ‘n baie privaat persoon met ‘n heerlike humorsin. Jongmense was veral geheg aan hom en het gereeld by hom op die plaas waar hy gewoon het, gaan braai.

‘n Deernisvolle herinnering van ‘n Vrystater wat betrokke was by Septimus se meisies- koor: Septimus het gesê ek moet liewers by voordrag bly en van sang vergeet. Septimus was musiekonderwyser op Fouriesburg en Paul Roos, orrelis van die NG Kerke Viljoenskroon en Paul Roux. In 1969 het hy na Harrismith verhuis. Daar het hy groot sukses met sy meisieskore behaal. By ‘n gesamentlike kooraand gehou op Ficksburg, het die toermoeder genoem dat Septimus ‘n begaafde orrelis is.

Toe Septimus op die plaas van dr Hugo Wessels gewoon het, het hy gereeld vars melk op ‘n buurplaas gaan haal en altyd tyd gemaak vir ‘n geselsie en sy hare daar laat sny. Hy het na sy aftrede op die plaas Tweevley gebly.

‘n Ander storie wat die ore bereik het, is dat Septimus op sy bromponie na kuieraande gery het, sy kitaar nader getrek en spontaan vir die aanwesiges gesing het.

Septimus was deel van die eerste speelvak van Die Wildsboudjie deur die Volksteater-Vereniging in Pretoria (14 – 16 November 1940). Hy het gereeld saam met die Volksteaterspelers opgetree. Ander spelers was G Horm, F Neethling, M Viljoen, L du Plessis, AJ du Plessis en WM Davidson. Die stuk is geskryf deur I Albertyn en F Steyn en die regisseur was L Knobel.

Met die te stigte konservatorium aan die Universiteit van Potchefstroom in 1950, was Smuts ‘n klavierdosent saam met onder andere MC Roode.

Smuts het artikels in The Chronicle, Die Volksblad (9 Okt 1986) en Die Huisgenoot (22 Desember 1950) geskryf. Laasgenoemde artikel het gehandel oor die Salzburgse digter Josef Mohr (1792 – 1849) se gedig Stille nag, Heilige nag.

Op ‘n grappige webjoernaal, Vrystaat Confessions, sê die skrywer, ‘n toe nog tiener en tong in die kies: One day a buzz went round school that Septimus – apparently he was the seventh child – Smuts, Free State Inspector of Music was there – here! in Harrismith, city of song and laughter – to do auditions for new members for this famous koor. Septimus was a dapper little rockspider full of confidence. Gave me ten times longer and said ‘Nice enough, but no range.’ So back to class we went, mournfully telling our mates and the teacher that we could not understand how we’d been rejected and there must have been some kind of mistake.

Uit Hoërskool Harrismith se jaarblad van 1974 kom die volgende: Mnr Smuts het die ouderdomsgrens bereik en tree dus ook aan die einde van hierdie kwartaal uit die diens. Mnr Smuts word opreg bedank vir die waardevolle diens wat hy aan ons skool gelewer het en ook as orrelis van die kerk.

Die Dutoitspan in Kimberley te Beaconsfield skryf dat Septimus Smuts die orrelis was met die inwyding van die nuwe orrel op die naweek van 2 Maart 1956. Die Hoërskool Kroonstad se vinielplaat bevat Septimus se toonsetting van Heer is Groot.

Op 17 Januarie 1995 skryf Anna Bender-Brink, pianis (1919 - 2004), aan Keet se seun dat Septimus Smuts vele kere in Pretoria by haar aan huis besoek afgelê het.

In Septimus se later jare het hy in die Kokanje Aftreeoord in Nylstroom gewoon en hy is vermoedelik op ‘n plaas in die distrik van Harrismith oorlede.

Ander Afrikaanse digters getoonset

AG Visser, M Geyer, H Potgieter, PJ Lemmer, S Pienaar, A Wassenaar, D Hyman, L Strydom, PJ Mansfield, T van Huyssteen en DF Malherbe.

Die Wapad, Studenteblad van die PU vir CHO, 17 Februarie 1955

Brief aan Keet, 10 Desember 1943

AD Keet se antwoord op bostaande brief

Septimus se broer, Alfonso, was die skepper van die Kaalvoetvrou

Toonsetting: Aandmymering