SEPTIMUS CATORZIA DE VILLIERS - Seppie
* 29 Junie 1895, Wellington, Kaap Provinsie, Unie van Suid-Afrika
† 25 September 1929, Ermelo, Transvaal, Unie van Suid-Afrika
Geen foto van Septimus Catorzia de Villiers kon opgespoor word nie.
Gedig
Sneeu
Seppie was ‘n orrelis, komponis en dosent. Volgens Johan, Dirkie de Villiers se seun, was Seppie die mees musikale lid van die De Villiers-familie.
Sy ouers was Dirk Izak de Villiers en Catharina Susanna (Tina) Smith. Die kinders uit die huwelik was Marthinus Lourens, Abraham Matthys, Dirk Izak, Stephanus, Leonard, Gertruida Catharina en Johann Cornelius. Met trots noem Johan de Villiers dat Seppie in 1910 as Springboksenter teen die Britse rugbyspan uitgedraf het.
Op 11 Desember 1919 het hy met Johanna Elizabeth van der Riet (1893 – 1967) in Oudtshoorn getrou.
Op agtjarige ouderdom het Seppie reeds orrel gespeel tydens eredienste in die NG Kerk Paarl. Nadat hy sy musiekopleiding aan die Royal College of Music en die ARCM diploma behaal het, het hy hom in Oudtshoorn as musiekonderwyser en orrelis van die NG Kerk gevestig.
In die Boland het hy bekendheid verwerf as uitvoerende kunstenaar en komponis. Hy was een van die eerste Afrikaners wat in die twintigerjare deur die Kaapstadse Uitsaaistasie genader is vir uitvoering van sy eie komposisies.
In 1929 het hy hom in die werkkring van Ermelo bevind. Daar was hy orrelis, het ‘n musiekskool gelei en ‘n strykorkes saamgestel. Op vier en dertig jarige leeftyd sterf hy te Ermelo. Op sy grafsteen staan “God regeer. Een te kort, te skone uur.”
Geen foto van Seppie de Villiers kon opgespoor word nie en ongelukkig het die grootste gedeelte van sy werk na sy dood verlore geraak.
Van sy werk is: Liedjies vir die kleintjies: Sub. Std. A tot Std. II, 1929; Liedjies vir die kleintjies: vir skool- en algemeen gebruik; en A lullaby Song, woorde deur EHW 1916.
Die toonsetting van Keet se gedig Sneeu is te vinde in Liedjies vir die kleintjies: Sub. Std. A tot Std. II.
Ander Afrikaanse digters getoonset
JFE Celliers
Toonsetting: Sneeu