Sarel Francois VAN DEN BERG

SAREL FRANCOIS VAN DEN BERG

* 27 Julie 1954, Randfontein, Suid-Afrika

Gedig

Ek hou van blou

Sarel beskryf sy lewensreis tot dusver

In die moeilike sosio-ekonomiese omstandighede van die na-oorlogse jare (1948 -) het Francois se pa as jong man in die goudmyne begin werk en sy ma was aanvanklik ‘n huisvrou wat later ‘n administratiewe pos by ‘n laerskool aanvaar het. Geeneen van sy ouers het formele musiekonderrig ontvang nie, maar albei was ywerige koorsangers.

Francois se eerste musiekervarings het juis gespruit uit sy ouers se deelname aan koorsang, by welke byeenkomste hy van jongsaf ‘n gewillige luisteraar was.

In 1968 word ‘n groot droom bewaarheid toe hy gekeur word vir musiekonderrig by die nuutgestigte Musieksentrum by die Hoërskool Riebeeck. Dit lei daartoe dat hy musiek as matriekvak neem, wat hy in 1972 met onderskeiding slaag.

In 1973 skryf hy in vir ‘n BMus graad in musiek by die Potchefstroomse Universiteit vir CHO met ondersteuning van ‘n Kamer van Mynwese Merietebeurs. Hy voltooi sy BMus met onder andere klavier en komposisie as hoofvakke in 1976. Sy toonsetting van AD Keet se gedig Ek hou van Blou was deel van ‘n portefeulje wat ingedien is vir die finale eksamen van sy vierde jaar vir die BMus graad. In 1977 voltooi Francois die BMus Hons in klavier en komposisie – weer eens met behulp van ‘n merietebeurs van die Kamer van Mynwese. Hy slaag sy MMus Graad Cum Laude in 1984, waarna hy vir ‘n PhD inskryf wat hy in 1996 onder GW Koornhof voltooi.

Na twintig jaar in die onderwys aanvaar hy in 2001 die pos van Hoofuitvoerende Beampte van die Nasionale Eisteddfod Akademie, ‘n nie-winsgewende organisasie met jeugontwikkeling in die kunste is doelstelling.

Tydens sy onderwysjare was hy betrokke by koorafrigting, kerkkore, skoolkore en ook later die Wesrandse Jeugkoor, met wie hy in 1989 ‘n oorsese toer onderneem het. Die meeste van sy komposisies en verwerkings is vir hierdie kore geskep.

Die ATKV het hom met ‘n Afrikoon toekenning vereer en hy het ook ‘n Paul Harris toekenning van die Rotariër-beweging ontvang vir sy bydrae tot die ontwikkeling van die kunste in die gemeenskap.

Ander Afrikaanse digters getoonset

JFE Celliers, CF Leipoldt, JRL van Bruggen en EN Marais.

Toonsetting: Ek hou van blou