Rosa Sophia Cornelia NEPGEN

ROSA SOPHIA CORNELIA NEPGEN

* 12 Desember 1909, Barkley-Oos, Suid-Afrika

† 14 Februarie 2000, Stellenbosch, Suid-Afrika

Foto: ongedateerd, Spesiale versamelings, JS Gericke Biblioteek, US. Stellenbosch

Gedigte

Ek hou van blou (1935)
My liefste, ek wag op my liefste (1936)
(Daar kon nie vasgestel word of hierdie twee toonsettings al ooit gepubliseer is nie)

Die stamvader van die Nepgenfamilie in Suid-Afrika is Arnold Nepgen – gebore 21 Oktober 1816 en hy sterf in die distrik van Dordrecht, Suid-Afrika in 1903. Hy is afkomstig van Keulen in die Rynstreek in Wes-Duitsland, waar die Nepgen stamnaam vandag nog voorkom. Aangesien hy gekant was teen verpligte krygsdiens, verhuis hy op sestienjarige ouderdom na Kaapstad en op sewentienjarige ouderdom trou hy op 16 Augustus 1843 met Elizabeth Johanna Susann Rhee(r)der. Hierdie beeldskone vrou word beskou as die stammoeder van die Nepgenfamilie in Suid-Afrika. Die stam-moeder sterf op vyf en sewentigjarige ouderdom in 1907 – vier jaar na haar eggenoot Arnold. Die egpaar het veertien kinders en honderd en dertig afstammelinge. Daarmee is die Nepgen familie in Suid-Afrika gevestig.

Rosa se pa Johann (kleinseun van stamvader Arnold) was die derde kind van ‘n gesin met agt kinders. Hy was baie begaafd en het besonder goed op skool presteer. Na matriek het hy homself as prokureur bekwaam en ‘n groot praktyk te Standerton opgebou. Hy was vroom, kerkvas en bekend vir sy ruimhartige bydrae aan die kerk en liefdadigheid. Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog het Johan vrywillig by die Boeremagte aangesluit en is gewond. Hy het met Millicent Schlemmer van Dordrecht getrou; sy was ‘n bekwame sangeres wat ook klavier en viool kon speel. Een kind is uit die huwelik gebore: Rosa Sophia Cornelia.

Op vierjarige ouderdom het Millicent haar dogter leer lees en ‘n paar jaar later het sy vir Rosa begin onderrig in klavier. In 1912 verhuis die gesin na Pretoria en teen die einde van 1913 na Standerton, waar Rosa skoolgegaan het en musiekles by die orrelis Dirk Meerkotter ontvang het. Van haar dertiende jaar af het Rosa gereeld al om die veertien dae na Pretoria gereis, waar sy deur Ellen Norburn, aan die destydse Pretoria College of Music, onderrig is. Stephanie Faure het haar opleiding in sang, orrel en spraak gegee.

In 1927 het Rosa by die Universiteit van die Witwatersand ingeskryf en die grade BA en BMus verwerf. Die graad BMus Honneurs volg hierop. Haar klavieronderwyser, Horace Barton, self ‘n begaafde, goed opgeleide komponis, het haar vordering as komponis deur aanmoediging en kritiek aangehelp. Sy het ook die lisensiaat diplomas in orrel- en klavier-spel verwerf, sowel as die Fellowship van Trinity College in Londen. Sy was dosent aan die Musiekdepartement van die Universiteit Witwatersrand.

Rosa het in 1937 haar fokus begin plaas op instrumentale werke en na 1940 het sy meer aktief aan Afrikaanse kunsliedere begin skryf. Haar eerste toonsettging van WEG Louw se werk was in 1940. Na 1942 het daar nie meer instrumentale werke uit haar pen gevloei nie en sy het haar uitsluitlik op die Afrikaanse kunslied toegespits. Mentors wat haar tegniek in Suid-Afrika help vorm het, was benewens Barton ook P Kirby.

In 1944 trou sy met WEG Louw (1913 – 1980) en twee seuns, Johannes en Paul, word uit die huwelik gebore. Na hul troue woon die egpaar op Grahamstad, waar sy behulpsaam is met die orrelspel in die NG Kerk en later voltydse orrelis was. Op hierdie wyse het sy intiem kennis gemaak met die Geneefse Psalmmelodieë en is die verwantskap tussen taal en musiek, wat haar lewenslank geboei het, gelê.

In 1949, met die egpaar se eerste besoek aan Engeland, kruis die Vlaamse komponis Flor Peeters haar pad. Van Peeters het sy besondere aanmoediging in verband met haar komposisies gekry. Hy het onder andere gesê: “ ...you write so easily – you have a very fruitful imagination. You must think two of three times before you write something down. Don’t just write down the first thing that comes into our mind and just leave it there... by all means, write it down, but think about it – over and over again, until you know that this is what you really want it to be.”

Vanaf 1952 het Rosa haar op kerkmusiek begin toespits. Sy het meestal van Bybelse tekste gebruik gemaak. Ongelukkig was min van haar geestelike musiek gedruk, met die gevolg dat dit verlore gegaan het.

Tydens die langverlof van haar eggenoot in 1954, skryf sy as student in aan die Amsterdamse Konservatorium waar haar leermeesters EW Mulder en P Frankl was. Met H Badings het sy ‘n lewenslange vriendskap in Amsterdam opgebou.

Rosa se man kry in 1957 ‘n aanstelling by Die Burger en die gesin verhuis na Kaapstad. Hier het die egpaar saam in die Goeie Hoop Koor gesing. Rosa het in hierdie tyd artikels oor musiek vir Die Burger geskryf. In een van die artikels in Die Burger van 6 April 1959, skryf Rosa: ”Afrikaans sing ook lekker!” en gee sodoende haar credo aan Afrikaans as sangtaal: “Die vroeër liederekomponiste het meer aan die melodie as aan die woorde gedink en toe min of meer die woorde aan die melodie vasgemaak, sonder dat die twee werklik aan mekaar behoort het. Elke vers, goed of sleg en elke stuk prosa, het ‘n soort onderliggende taalmelodie en sommige mense se oor en taalgevoel is so ingestel dat hulle maklik daarvan bewus is. As so ‘n mens nou komponis is, dan skryf jy soms liedere.”

Terwyl sy in Grahamstad is (1966), studeer sy Frans en skryf sy ‘n reeks artikels oor kerkmusiek in Die Kerkbode. Hierdie is ook die jaar waarin sy die vierdelige boek Met Hart en Mond publiseer. Hierin verskyn Die Geneefse Psalms wat deur Totius in Afrikaans vertaal en deur haar getoonset is. Ironies genoeg, vertel sy, dat Psalm 23 vir haar die ingewikkeldste was, juis omdat die teks so eenvoudig was.

Na nog ‘n besoek aan Italië het Rosa die Honneursgraad in Italiaans Cum Laude verwerf. Die skilder Jean Welz het haar aan die gedigte van die Italiaanse Nobelprys- wenner E Montale bekendgestel en in 1980 publiseer sy die self-vertaalde gedigte van Montale. Daarvoor het sy in dieselfde jaar ‘n toekenning van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in die afdeling Vertaling ontvang.

Oor haar oeuvre het Rosa die volgende gesê: “I was always drawn to poetry, even from my childhood. I have a love of the small-scale work, like the song. I am not as closely familiar with an orchestra because I haven’t lived with an orchestra: you must live with an instrument before you can really use it. I didn’t have the opportunity to become familiar with an orchestra, and so I rather use my own instrument, the piano.”

Op die vraag of haar vrou-wees haar gekniehalter het, antwoord sy: “Die beste komponiste, skilders en skrywers was nog altyd mans. In die manswêreld het die vrou nog altyd haar eie wêreld waarin sy haar moet toets om te bepaal hoe ver sy haar eie vermoëns kan voer. In ons land word musici nie eintlik aangemoedig nie, komponiste nog veel minder. Daarom is die uitdaging om jou slag te wys, nog groter.” Daar is weliswaar komponiste wat reken dat geslagsdiskriminasie 'n rol in haar lewe gespeel het, soos die verhaal van Blanche Gerstman (1910-1973) se skepping van sowat vier en twintig liedere vertel.

Met die aanstelling van ‘n vaste musiekkommissie met IM Lombard as voorsitter by die FAK op 19 Junie 1941, was Rosa saam met H Gutsche, SH Eyssen, JH Coetzee en PJ Lemmer gekoöpteer. A Hartman en JE Fourie het mettertyd aangesluit. Verskeie van Rosa se toonsettings is opgeneem in die FAK Sangbundel.

In 1945 het die Universiteitskoor van Stellenbosch, in samewerking met die Kaapstadse Stadsorkes, die eerste uitvoering van Die Dieper Reg, geskryf deur NP van Wyk Louw en getoonset deur Nepgen opgevoer.

Afgesien van die Afrikaanse liedere het Rosa ‘n aansienlike aantal Engelse en Nederlandse gedigte getoonset. Nog ‘n talent wat aan Rosa geskenk was, was haar skildervermoë. In Die Burger van 27 November 1986 word verwys na die uitstalling van haar waterverfskilderye in Stellenbosch. Twee radio-onderhoude met Rosa is op 6 Julie en 13 Desember 1984 uitgesaai. ‘n Klankprofiel oor haar werk is op 22 Februarie 2000 op Radio Sonder Grense uitgesaai. In Die Huisgenoot, Die Transvaler en Die Brandwag is vele artikels oor haar geskryf.

Rosa Nepgen is op 14 Feb 2000 in Stellenbosch oorlede.

Na haar afsterwe word Rosa só in Die Burger beskryf: “Rosa Nepgen was ‘n denker, intellektuele gees en bowenal, ‘n skepper. Haar bydraes tot Suid-Afrika se musikale lewe is formidabel.”

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het Rosa Nepgen in 1967 en 1980 vir haar bydraes vereer.

Ander Afrikaanse digters getoonset

JFE Celliers, Boerneef, WEG Louw, W Stockenström, E Eybers, NP van Wyk Louw, ID du Plessis, CL Leipold, CJ Langenhoven, Totius, DJ Opperman, EC Britz, SV Peterson, E Taylor, JRL van Bruggen, U Krige, CM van den Heever, TJ Haarhoff, EN Marais, E Warmond, JC Bloem, AG Visser, GA Watermeyer, H Waddell, S Richfield, H Matthews, CM van den Heerver, P Müller, W Stockenström, Bybel tekste en Psalms.

Toonsetting: My liefste

Toonsetting: Ek hou van blou