Petrus Johannes LEMMER

PETRUS JOHANNES LEMMER

* 3 Mei 1896, Hartebeestfontein, distrik Klerksdorp, Transvaal

† 2 November 1989

Prof David Roode (links) saam met OA Karstel en prof PJ Lemmer

Gedigte

Moeder, (Decca LX5328)
Ek hou van blou, vierstemmig
Sneeu, 1968 en 1971

Komponis, dirigent, voordraer, musiekopvoeder, skrywer, beoordelaar, eksaminator

“Petrus Lemmer was ’n uitstekende dirigent. Hy het ‘‘flair’’ gehad as hy gedirigeer het.” - Dirkie (DIC) de Villiers

Petrus se vader, Richard Hermanus Lemmer, was 'n vooraanstaande boer en het reeds vroeg die besondere talent in sy seun bespeur en waardeer. Sy moeder, Susanna Lombard, stam uit 'n besonder musikale familie. Haar vader was bekend as 'n uitstekende bassanger en Petrus se ooms aan moederskant het almal sonder formele opleiding een of ander musiekinstrument bespeel.

As plaasseun het hy die normale verantwoordelikhede nagekom wat op die plaas van hom verwag is, maar sy drif om musiek te maak kry reeds op 'n vroeë ouderdom die oorhand. Op tienjarige ouderdom het sy musiekstudies by sy suster Sannie (later mev A C Schulenburg van Ventersdorp) 'n aanvang geneem. Sannie was op daardie tydstip orrelis in Hartebeestfontein en hy het tydens kerkdienste die orrel se blaasbalk getrap. Lemmer se moeder het hom aangemoedig en het selfs by hom in die kerk gaan sit en luister wanneer hy geoefen het.

Met sy orreloefeninge moes die kombuis- of wasvrou die blaasbalk vir hom gaan trap omdat sy beentjies nog te kort was. Daar word vertel dat, op ‘n Sondagoggend na kerk, die Koraalboek dikwels op die sypaadjie gelê het, onderwyl klein Petrus besig was om saam met sy maats albasters te speel. Dan was dit sy moeder se stem wat 'n einde aan die speletjie moes maak: “Petrus, dit is Sondag - jy kom nou net uit die kerk!"

Op die ouderdom van veertien is hy aangestel as orrelis op Hartebeestfontein. Hy het die kerkkoor op uiters bekwame wyse gelei en ‘n seunskoor in die lewe geroep. Die Mackay-broers op Potchefstroom kon die nodige inligting verskaf vir die blaasorkes wat Petrus gestig het. Katalogusse, waarin verskillende orkessamestellings uitgebeeld was, die instrumente, asook boeke met volledige instruksies om die verskillende instrumente te bespeel, was beskikbaar. Petrus moes eers self verskillende instrumente leer bespeel en het daarna die vyftien orkeslede, wat geen opleiding gehad het nie, begin leer. Oefensessies was in mieliestore en mieliesakke moes as musiekstaanders dien. Teen ‘n fooi van £5 per opvoering is daar op verskillende dorpe opvoerings gehou. Dit het hom die nodige fondse gegee om die volgende instrumente aan te koop: 2 klarinette, 4 kornette, 2 trompette, 2 horings, 2 skuiftrompette, 1 suphnium en 1 bombardon.

Vier jaar lank het sy suster Carmella hom by ‘n Kloosterskool in Klerksdorp onderrig in klavier en harmonie. Hy moes elke Saterdagoggend per fiets of te perd ry daarheen ry – ‘n afstand van ses-en-dertig myl. Ten spyte van wind, reën en hael het hy nooit een dag sy les misgeloop nie. Onderwyl hy op 'n dag in die klooster besig was met sy musiekles, vra hy ewe onskuldig vir sy musiekonderwyseres: “Hoe lank moet ek nog studeer voordat ek 'n musiekeksaminator kan wees?" Die antwoord was 'n klap op sy hand en die woorde: “Moenie onsin praat nie, gaan aan met jou werk!"

Op een-en-twingtig jarige ouderdom ontvang hy gevorderde onderrig in klavier, orrel en harmonie van PK de Villiers by die Normaal- en Politegniese Kollege in Bloemfontein. Hier verwerf hy ook sy Hoër Primêre Sertifikaat. Tydens hierdie studiejare maak hy kennis met S le Roux Marais, D Mossop en C Wessels. Die Lisensiaat in Klavier lê hy in 1918 af.

Hierna werk hy vir ‘n jaar in Kroonstad en in 1919 vertrek hy na Londen om sy opleiding aan die Royal Academy of Music voort te sit. Hierdie geleentheid het sy swaer, dr Schulenburg, vir hom moontlik gemaak. In London verwerf hy sy Licenciate of the Royal Academy of Music en word hy Associate of the Royal Academy of Music. Ook het hy in Londen die graad LRAM in sang verwerf en later is die ARAM aan hom toegeken op grond van sy dienste ten opsigte van musiek in Suid-Afrika. Hy neem ook sangles en is vir 'n kort rukkie assistent-professor in sang by die Royal Academy of Music.

Dit was bekend dat Petrus gemiddeld nege uur per dag geoefen het wanneer hy voorberei het vir konserte (waarin hy dikwels opgetree het). Sy vlyt en bekwaamheid het hom 'n hele aantal medaljes besorg. Spoedig moes hy egter die nadelige gevolge van ooreising ondervind. Sy twee voorvingers het skielik verlam geword en hy moes geruime tyd volkome rus. Hy vertrek toe na die eiland Man, waar die heimweë na Suid-Afrika besonder sterk begin word het. Die rus het egter 'n heilsame uitwerking gehad en Petrus se vingers het heeltemal herstel. Sy dankbaarheid hiervoor vind uiting in die triomflied Loof die Heer, vir solo, orrel en klavier. Hierdie lied word beskou as een van die vernaamste Afrikaanse koraalwerke. Lemmer het in later jare 'n nodule op die stembande ontwikkel as gevolg van oefening terwyl hy ontsteking in sy stembande gehad het.

Hy keer in 1923 terug na Suid-Afrika en word orrelis in Malmesbury, waar hy met die hulp van Jan Luyt, wat destyds hoof van die Kaapstadse Simfonieorkes was, 'n musiek-konservatorium gestig het. Asof hierdie aktiwiteit nie vir Lemmer genoeg was nie, het hy ook met die hulp van Luyt die Swartlandse Musiekkorps gestig.

Op 'n goeie dag meld Millicent Houzét, oorspronklik vanaf Steynsburg, haar by die Konservatorium aan en verwerf sy die lisensiaat in klavierspel. Sy was ook ‘n tjellis en ‘n musiekonderwyser. Petrus vra haar om haar hand en twee seuns is uit die huwelik gebore. Die jongste, Leonard, was ‘n fluitspeler in die orkes van die SAUK en lektor in musiek aan die PU vir CHO. Petrus en Millicent het onder andere ‘n twee-klavier-toer deur Transvaal onderneem.

As lektor in sang by die Normaalkollege in Bloemfontein, sit hy die volgende dertig jaar sy musiekloopbaan in die blommestad voort. Petrus het as dirigent van die Filharmoniese Orkes opgetree. Een komposisie na die ander het nou gevolg en almal is met geesdrif deur die publiek ontvang.

As orrelis van die Noordkerk, Bloemfontein, stig hy die Musiekklub van die Normaalkollege, wat dikwels onder sy leiding oor die radio uitsaai.

In 1933 is hy deur UNISA benoem as die eerste Suid-Afrikaanse verteenwoordiger op die paneel van Britse eksaminatore wat in die land die Royal Schools of Music eksamens behartig het. Hy bly dertig jaar lank eksaminator vir UNISA, wat ook deur die Royal Academy of Music erken is.

Die Vrystaatse Philharmoniese Vereniging, met Petrus Lemmer as voorsitter en ere-dirigent, is op 31 Januarie 1935 gestig. Op 26 Junie 1935 word die eerste konsert in die Vissersaal van die Normaalkollege gehou. 'n Advertensie in The Friend van 15 Junie 1935 wat dié konsert aangekondig het, het ook aangedui dat die vereniging die steun van invloedryke beskermhere geniet het: Genl JBM Hertzog, NC Havenga (minister van finansies), AC White (burgemeester van Bloemfontein) en SH Pellissier (direkteur van onderwys).

As blyk van waardering vir wat die komponis vir die bevordering van musiek in die Vrystaat gedoen het, is daar in 1936 'n Lemmer-aand in Bloemfontein gehou. Twaalf van sy werke is by hierdie geleentheid uitgevoer.

Die Suid-Afrikaanse Leërorkes stel hom in 1937 aan as musiekdirekteur. Sy opvolger was Kaptein Kearley en dié se opvolger was EW Albertyn. Die eerste konsert wat uitsluitlik aan werke van Afrikaanse komponiste gewy is, is in 1937 onder beskerming van die Vrystaatse Kunswedstryd Vereniging in Bloemfontein, aangebied.

Lemmer het na sy aanstelling as musiekdirekteur op Robertshoogte, Pretoria, op idealistiese wyse voortgegaan met sy selfopgelegde taak om goeie musiek aan almal in die land bekend te stel. Na ‘n jaar op Robertshoogte word hy in 1939 by die Opleidingskollege in Wellington aangestel.

Terug in Bloemfontein in 1940, is hy as musiekinspekteur aangestel. Die aanstelling van ‘n vaste musiekkommissie het onvermydelik geword en op 19 Junie 1941 het die FAK-Musiekkommissie vir die eerste keer in Johannesburg onder voorsitterskap van IM Lombard vergader. Ander aanwesige lede was H Gutsche, SH Eyssen, R Nepgen en JH Coetzee. Lemmer is gekoöpteer terwyl JE Fourie en AC Hartman later bygekom het.

Lemmer se tweede tydperk in Bloemfontein was gekenmerk deur 'n besonder aktiewe werksprogram: Maandae tot Vrydae het hy inspeksie gedoen, Saterdae het hy privaatlesse gegee en Saterdagaande die operakoor afgerig. Sondae het hy as orrelis opgetree.

Petrus Lemmer word die eerste persoon wat verslae oor musiekeksamens in Afrikaans skryf en word beoordelaar op kunswedstryde. Sedert 1940 is hy inspekteur van sang vir die Vrystaatse skole.

Met die besoek van die Koning van Engeland in 1947, het Lemmer 'n massakoor van tweeduisend leerlinge op die been gebring en met die Uniefees 'n koor van vierduisend leerlinge. Hy is versoek om vir die Bloemfonteinse Eeufeesviering 'n spesiale opdragwerk te voorsien en na aanleiding daarvan is Reisang geskryf. Die teks vir die werk was geskep deur 'n ander baie bekende Bloemfonteiner, DF Malherbe. Die opelug uitvoering van die werk, voor 'n skare van vyftien duisend mense, was 'n skouspelagtige geleentheid.

In die tweede helfte van die vyftigerjare verskyn daar in toenemende mate platevrystellings deur bekende SA musici, onder andere PJ Lemmer se komposisie van Moeder, gedig van Keet, by die platemaatskappy Decca.

In 1955 is hy ook tot die nasionale president van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers verkies. In 1956 staan Lemmer aan die hoof van musiek aan die Oos-Londense Tegniese Kollege vir twee jaar waarna hy terugkeer na Bloemfontein.

Met sy aftrede in 1961, vestig die gesin hulle in Oos-Londen. Petrus se vrou, Millicent sterf in 1969 en die volgende jaar tree hy weer in die huwelik. Die egpaar vestig hulself in Kaapstad, tot en met die afsterwe van sy tweede vrou. Petrus het hom toe in Pretoria gaan vestig.

Op sy tagtigste verjaarsdag in 1976 het Lemmer reeds 'n tydperk van vier en veertig jaar lank vir UNISA geëksamineer: “Vanjaar gaan ek en vroutjie weer op 'n vier maande moutertoer vir UNISA - wonderlike behandeling in vergelyking met die tye toe ek snags moes treinry en direk in die oggend by die volgende dorp begin eksamineer.”

UNISA vereer hom in 1978 deur die instel van die oorsese studiebeurs vir Voordraerslisensiaat, die PJ Lemmer-beurs. Die beurs word jaarliks om die beurt na PJ Lemmer of DJ Roode vernoem, oom van MC Roode, ook toonsetter van Keet gedigte.

Lemmer se werk as musiekpedagoog, komponis en uitvoerende kunstenaar is deur die FAK op 2 Mei 1986 met die veertiende FAK-penning bekroon. Die grootste erkenning vir sy werk is egter die Dekorasie vir Voortreflike Diens wat hy in 1989 van die Staatspresident ontvang het.

Dirkie de Villiers het eenmaal sy hand gewaag aan die skryf van 'n draaiboek vir televisie. Dit was 'n dokumentêre program: Die Musiekwêreld van Petrus Lemmer wat in September 1987 uitgesaai is.

Vanaf 1937 was daar twintig Lemmer-huldigingsaande oor die land gehou en die SAUK het ten tye van sy 80ste verjaarsdagviering ’n halfuur program van sy werk uitgesaai.

Lemmer, die pionier van skoolkoorsang in die OVS maak in sy boekie Hoe Luister Ons? uitgegee deur Naspers te Bloemfontein, heftig beswaar teen die speel (en sing) van swak musiek, wat vir hom jazz was: “Vir koeie, en mense wat nie meer hoop het nie, mag die soort musiek miskien goed wees, maar seer sekerlik nie vir die individu wat soek na onvervalste kuns nie.”

Al Lemmer se uitvoerings, hetsy koor, orkes, klavier of orrel het deurgaans die stempel van artistieke voortreflikheid gedra. Lemmer het self nog op hoë ouderdom, aan die begin van sy negentigerjare, uitvoerings van sy eie nuwe werke gegee.

In die massas geskrifte oor die werk van Petrus Lemmer word die volgende kenmerke van hom as mens en kunstenaar verwoord: goeie menseverhoudings, optimisme, sprankelend, spitsvondig, gesiene musikus, dinamiese leier, uitstekende dirigent, kleurvol, in liggaam en siel geheel en al musiek – hy ís musiek, alles altyd ter ere van die Here.

Ander Afrikaanse digters getoonset

W Malan, M Marais, N Basson, DF Malherbe, JRL van Bruggen, AG Visser, J Pescod, S Richfield, CF Visser, SJM Osborne, JA Boshoff, A Bender-Brink, E Malan, J Andrews, JA Kotze, FJ Joubert, CJ Langenhoven en H Martins.

Prof Lemmer bespreek die partituurbesonderhede van Die Herderseun met soliste en orkeslede

Toonsetting: Ek hou van Blou