PETER RAPHAEL AERTS - Pierre
* 21 Junie 1912, Kessel-Lo, Leuven, Vlaams Brabant, België
† 6 Februarie 1996, Stekene, Belgiese Provinsie van Oos-Vlaandere
Gedig
Ek hou van Blou, 14 Februarie 1969, opgedra aan Elze De Clerq
Peter was musikaal verknog aan die tradisie van sy tyd – instrumentale komposisies met eenvoudige, klassieke vorm. Hy was hy komponis, pianis en begeleier en tandtegnikus.
Die familie Aerts was ‘n musikale versameling van komponiste en musici en was ten nouste verbind aan die geskiedenis van die Koninklijk Vlaams Conservatorium van Antwerpen. In hierdie musikale familie word Peter Aerts vanaf sy geboorte aan musiek blootgestel.
‘n Familielid, Franciscus Aerts (1804 – 1864), was kapelmeester van Sint Paulus kerk in Antwerpen en ook handelaar in klaviere. Hy is deur die Antwerpse Stadsbestuur aangestel as sangleraar aan die gemeenteskool in Blindestraat. Saam met C Schermers en J Bessems sou hy die musiekskool Ecole Spéciale de Musique oprig. Hierdie musiekskool, waarvan Peter Benoit in 1867 die direkteur was, word tot die Koninklijk Vlaams Conservatorium uitgebou.
‘n Ander familielid, Leonie Aerts, was ‘n gevierde klaviervirtuoos en ‘n tante, Jozefa Aerts (1872 – 1958), het aan die Koninklijk Vlaams Conservatorium van Antwerpen studeer, en is later as dosent aan die Conservatorium aangestel.
Peter ontvang sy eerste klavierles by tante Jozefa Aerts aan die Conservatorium - die begin van sy formele musiekopleiding aan hierdie instansie. Dis ook hier waar Peter vanaf 1925 verdere opleiding in bladmusiek by Karel Candael en Jan Broeckx ontvang en waar Jef Van Hoof hom in harmonie lei. By Lode Ontrop, Jef Schampaert en August Baeyens het hy privaat studeer. Honorina Bernard-Zelliën het hom harp leer speel en met klavier het Jules De Vos verdere leiding gegee.
As gevolg van sy finansiële situasie moes Peter in 1929 sy musiekopleiding onderbreek. Hy word toe ‘n tandtegnikus en moes noodgedwonge sy komponering in die aande en naweke voortsit. Tydens die afronding van sy opleiding was Peter reeds ‘n bekende in musiekkringe rondom Antwerpen.
In 1932 word Aerts Jef van Hoof – tydgenoot van A de Boeck en L Mortelmans – se opvolger en ook dirigent van die gemengde koor Kunst en Vermaak in Borgerhout. Van Hoof (1886 – 1959) bly deurgaans ‘n belangrike persoon in Peter se musikale lewe. Vermoedelik het die twee komponiste mekaar rondom 1930 in Borgerhout ontmoet. Hulle het dadelik gekliek en wedersydse respek en ‘n lewenslange vriendskap het ontwikkel. Saam het hulle die Vlaamse musiek deur onder andere musiekaande bemark.
Peter word opgeneem in die kunstenaarskring van Van Hoof in Spokenhof, waar hy sy vrou, Angelina van de Cruys, ontmoet.
In 1939 word hy dirigent van die Jonc Vlaems Vri Vlaems koor in die Sint Niklaas kerk. Hy was ook aktief as pianis en begeleier, onder meer by die Nationaal Instituut voor Radio-Omroep. Ook het hy tot 1940 as medewerker met die uitsendings van die Vlaams-Nationalistische Radio Vereniging opgetree.
Aerts toonset die wêreldberoemde gedig In Flanders Fields (John McCrae) op 7 Mei 1975 en voltooi die orkestrasie op 26 Februarie 1976. Met die dramatiese krag van hierdie lied, die ekspressiewe sanglyn en kragtige orkestrasie in die laaste reëls van die gedig vorm dit ‘n oproep om nie die gesneuwelde soldate van die Eerste Wêreldoorlog te vergeet nie, aangesien al die bloedvergieting dan tevergeefs sou wees. Die handgeskrewe toonsetting van die gedig word sedert 2004 in die Koninklijk Conservatorium te Antwerpen bewaar.
Afgesien van liedere, komponeer Aerts ook ‘n burleske opera, ‘n verskeidenheid koorwerke, werke vir solo klavier, klokkespele, kamermusiek, simfonieë, fanfares en ‘n mis. Hy skryf vokale werke in Nederlands, Duits, Frans, Engels en Afrikaans en het verskeie sangers en sangeresse op konserte begelei en ook plaatopnames gemaak.
In sommige van sy komposisies het Aerts die skuilnaam Piet Pech gebruik, omdat hy gevoel het dat die ongeluk hom altyd opgesoek het.
Peter se dogter Helena Aerts het sy volledige nalatenskap, wat handgeskrewe dokumente insluit, aan die Vlaamse Onderzoeksinstelling geskenk. Sedert 2004 word dit in die biblioteek van die Koninklijk Conservatorium te Antwerpen bewaar. Helena het in 2017 op eie koste ‘n CD bekendgestel van bewonderingswaardige Duitse en Nederlandse liedere wat haar vader gekomponeer het.
Deesdae word weinig van Aerts se komposisies nog uitgevoer en is nóg minder beskikbaar as opnames. Af en toe word sy toonsetting van In Flanders Fields, wat net in handgeskrewe partituur beskikbaar is, opgevra vir uitvoering.
In 1955 ontvang Aerts die Provinsiale Prys vir Musiek van die provinsie Oost-Vlaanderen vir sy koorwerk en in 1978 ontvang hy die Prijs Voor Beijaardcompositie (Beiaardier) van die stad Mechelen.
Tot enkele maande voor sy dood het Peter gereeld per fiets by vriende besoek afgelê en dan het die stories oor die Vlaamse musieklewe van die verlede, oor polders, eie opleiding en die cantates van Benoit geloop. Die woning van Marinus de Jong was ook een van sy gereelde besoekpunte – ‘n duisend en een verhale is vertel, maar selde oor sy eie werk: “Dat is voorbij. Niemand wil dat horen. Ge wordt dat beu, schrijven voor de schuif. Och jong, kunst! Dat heeft de waarde die gij er zelf aan toekent en dan is het gedaan”.
Oor sy jarelange vriend en mentor Jef Van Hoof sê Peter: “We kwamen daar alle weken; op 't Spokenhof, de woning van Van Hoof in Borgerhout. We hebben daar heelwat meegemaakt. Die kerel was onvermoeibaar. Dat was een sterke beest. Hele namiddagen spelen, eigen werk en dat van anderen; orkestpartituren, die man speelde alles, alles. En maar kribbelen. Die schreef maar. Ik zie Jonker Lichtaart (opera uit 1928) daar nog liggen, zoooo 'n dikke partituur. Eigenlijk schreven die mannen teveel.”
Dwarsdeur tye van woelige musikale revolusies en sonder om ooit die “groot musikant” onder die grotes te word, gebruik Aerts die podium met oortuiging en opregtheid, en het daarom eerlike respek afgedwing.
Die werk van Peter Aerts, die laaste van die Vlaamse post-romantiste, is ongetwyfeld meer as genietbaar.
Geen familie of afstammelinge kon opgespoor word nie.
Ander Afrikaanse digters getoonset
Eitemal, DJ Opperman, CFL Leipoldt en WEG Louw.
Toonsetting: Ek hou van Blou