OTTO ALBRECHT LEWALD
* 26 Augustus 1905, Berlyn, Duitsland
† 8 April 1988, Pretoria, Suid-Afrika
Albrecht Lewald en Helen von Roon in hul studente jare in Berlyn
Gedigte
Moeder, onopspoorbaar
Soveel is daar geskrewe, Onopspoorbaar
Tenoor, sangonderwyser, komponis en natuurliefhebber
“Ich bin völlig wunschlos, und freue mich auf meinem Tod” – OA Lewald
(Ek het heeltemal geen begeertes meer nie en sien uit na my dood).
Bogemelde was Otto Albrecht Lewald se woorde sowat ‘n maand voor sy dood nadat die sopraan Bronwen Basson, op sy versoek, haar opname van die Vier laaste Liedere van Richard Strauss voorgespeel het. Hy het nie weer sy oë oopgemaak nie.
Albrecht se lewensreis is die verhaal van ‘n man wat sy geliefde vaderland Duitsland verlaat het as gevolg van die Nazi’s se tiranie, om van Suid-Afrika sy tweede vaderland te maak.
Die Lewaldfamilie is afstammelinge van ‘n Joodse rivierskipper, David Wehle, wat in 1770 vanaf Poland na Köningsberg getrek het. Dié vader in die vierde geslag vóór Albrect was ‘n wynhandelaar wat die eerste Joodse stadsraadslid van Köningsberg was.
Albrecht en sy twee broers se ouers was generaal Otto Fidelio Lewald en Gravin Margaretha von Roon, ‘n aristokratiese kleinkind van ‘n vroeëre oorlogsminister, Albrecht von Roon.
Die rykdom, elegansie, die groot sosiale byeenkomste met die hulp van vele werkers, ‘n swerm koetse, koetsiers en perde het die swier van die gesin se leefstyl in die jaar 1916 gekenmerk. Na die oorlog het inflasie en die gepaardgaande armoede die gesin se finansies geknou en met die dood van Albrecht se ma in 1920 het min van die familie se uitspattige lewenswyse oorgebly.
Op sewejarige ouderdom het Albrecht ‘n dekade van vioollesse betree. Op skool in Kassel Hessen, het hy Latyn, Grieks, Frans, Duits en Geskiedenis studeer. Sy pa het hom Heidelberg Universiteit toe gestuur om homself in die regte te bekwaam, maar hy het skelmpies na ‘n musiekkursus oorgeskakel en sy musiekstudies aan die Konservatorium in Erfurt en Kassel voortgesit en gefokus op viool, sang en klavier. In 1927 het hy as musikus en sangonderwyser aan die stedelike Konservatorium in Berlyn begin werk. Toe sy vader hom konfronteer met die verandering van studierigting, was daar ‘n geweldige uitbarsting tuis en Albrecht het sy ouerhuis verlaat. Hy het by die Reichswehr as aspirant offisier aangesluit, en bedank ‘n paar jaar later as luitenant. Aan die Konservatorium Hauptstadt studeer hy daarna sang, sangonderwys, klavierteorie, kontrapunt en komposisie.
Terwyl hy aan die Stemische Konservatorium fűr music in Berlyn as violis in kwartette en orkeste opgetree het, moes hy sy inkomste aanvul deur in kafees te speel en as plekaanwyser in bioskoopsale diens te doen.
Onder Bruno Kittel het Albrecht floreer in optredes in konsertsale en op operaverhoë. Hy was ook orkeslid wat kore waarin die Suid-Afrikaanse sangeres, Babsita Moolman solis was, begelei het.
Na sewe jaar se studie onder Emil Lardy, het hy in 1934 die Staatsdiploma van die Konservatorium verwerf. Hy het aan die Universiteit van Heidelberg ingeskryf en het die algemene nie-musikale leergangkursus studeer. In hierdie tyd was hy ‘n aktiewe lid van die Collegia Musica. Sy eindeksamen het hy met lof geslaag en hy is as assistent vir Emil Lardy aan die Berlynse Akademie vir Musiek, aangestel.
Die opkoms van die Naziregime het enige moontlikheid om as kunstenaar verdere mylpale in Duitsland te bereik, gepootjie. Toe hy boonop – vir die eerste maal - in 1933 bewusgemaak is van sy Joodse agtergrond, was die skrif aan die muur. Een van sy broers het in 1925 na Chile verhuis en die ander broer het vir die Duitse weermag in die Tweede Wêreldoorlog vir Duitsland geveg.
Lewald se oom Theo Lewald was lank reeds betrokke was by die organisering van die Duitse span vir die Olimpiese Spele - ook in 1936. Dit het, weens hul Joodse voorouers, baie spanning veroorsaak, aangesien Theo met Hitler en Goebbels moes saamwerk. Albrecht was lid van die koor wat met die opening van die Spele opgetree het.
By oom Theo het Albrecht vir Richard Strauss ontmoet, toe dié ‘n komposisie ter ere van die Spele aan sy oom Theo kom oorhandig het. Kort voordat Albrecht na Suid-Afrika sou vertrek, het hy oom Theo gaan groet en aangebied om die kosbare manuskrip in veilige bewaring na Suid-Afrika te neem – oom Theo het egter geweier en die manuskrip het later in ’n bomaanval in vlamme opgegaan.
Albrecht het vir Helen van Pletsen (8/6/1904, Barkly-Oos – 12/7/1980, Pretoria), ‘n nooi uit Matatiele, by sy sangdosent, Franz Zimmermann in 1934 in Duitsland, ontmoet. Sy was bekend as die Natalse Nagtegaal. Helen was in Duitsland omdat GS Nienaber by die Opleidingskollege in Graaff-Reinet, haar aangeraai het om haar sangstudie in Europa voort te sit. In Suid-Afrika het Helen sang onderrig by Dolly van Abo ontvang en in Grahamstad by Hayden Matthews of te wel, Johannes Joubert. ‘n Verhouding tussen Albrecht en Helen het spoedig ontwikkel.
Albrecht was byna-byna opgeroep vir militêre diens, maar Theo kon, danksy sy posisie in die regering, vir Albrecht die nodige permitte bekom om Duitsland te verlaat. Met Helen aan sy sy, was Albrecht in April 1938 gereed om met die SS Windhuk na Suid-Afrika te vertrek. Die Duitsers het met sy vertrek feitlik al sy geld gekonfiskeer en hy het in Durban, waar hy ‘n nuwe lewe moes begin, aan land gegaan met ongeveer met 300£ Sterling in sy sak. Helen se vriend, Edward Dunn, destyds die musiekdirekteur van die Durban se Stadsorkes, het hom ‘n pos aangebied. Albrecht was nie Afrikaans of Engels magtig nie maar het skouer aan die wiel gesit en spoedig die Taalbond-eksamen met lof geslaag.
Albrecht en Helen trou op 16 Desember 1938 in die NG Kerk Pietermaritzburg. DF Malherbe se telegram van gelukwense het gelui: “Veels geluk, Helen, maak van hom ‘n ‘goeie’ Afrikaner.” Twee kinders is uit die huwelik gebore. ‘n Dogter Deanne Lewald (Raszat) en ‘n seun Roon Lewald, wat beide by musiek betrokke was.
Met die 1938 vierings van die herdenking van die Groot Trek is Lewald gevra om drie liedere te komponeer, wat Helen gesing het. Toonsettings van JH Naude en EA Schlengemann se woorde het uit sy pen gevloei.
Binne die bestek van die twaalf jaar tussen 1938 en 1950 het Lewald sowat twee en twintig liedere met Afrikaanse woorde getoonset, waarvan sommige deur Helen op radio-uitsendings en konserte gesing is.
Albrecht word as direkteur van SAMUT (Süd-Afrikanische Musik- und Teaterverein) aangestel en hy toer saam met Erna Sack, Heinrich Schlusnus en Marcel Wittrisch deur Suid-Afrika. Gedurende die volgende twaalf jaar het hy saam met PJ Lemmer en D Roode (oom van MC Roode) die land deurkruis om sangeksamens vir UNISA af te neem. Hy was ook deeltydse dosent aan die Musiekdepartement van die Universiteit van Witwatersrand.
Na hul troue het mnr en mev Lewald twee kamers vol termiete in ‘n afgeleefde huis in Berea, Durban, hul intrek geneem. Daar was plek vir meubels en sy vleuelklavier, boeke en skilderye. Helen het by ‘n hoërskool klasgegee en in radiodramas by Broadcast House opgetree, in munisipale konserte gesing en liedervoordragte van Afrikaanse gedigte wat Albrecht getoonset het, opgevoer. Albrecht kon spoedig begin klasgee vir ‘n aantal studente wat via die munisipaliteit na hom verwys is.
Vir hom as Duitser het die nagevolge van die oorlog in Europa ‘n magdom probleme in die Durbanse gemeenskap meegebring. Helen het noodgedwonge haar onderwyspos laat vaar en met kinders en al het die gesin na ‘n rooibaksteenhuisie in Parkstraat 789, Pretoria, met ‘n groot moerbeiboom voor die huis, verhuis. Hier het die Lewalds mettertyd wyn van hul eie druiwe gemaak en Albrecht sy musiekstudio geopen. In sy sangatlejee was ’n skildery van Johannes Meintjies – ‘n gesig in blou met ‘n pers hoed waarin ‘n pouveer pryk.
In 1949 is Albrecht amptelik as Suid-Afrikaner genasionaliseer. Aangesien Helen by die SAUK werksaam was, is Albrecht gevra om radio-programme, veral oor Wagner, saam te stel en met musiek toe te lig.
Onder hul vriende tel Frieda Leider, Erna Sack en Bronwen Basson. Vir Joubero Malherbe het hy en Helen in die vroeë vyftigerjare by die Volksteater ontmoet, en dit was ‘n vriendskap wat dekades lank gehou het. Van Albrecht se studente was Wicus Slabbert, Ilze Lotz, Nellie du Toit, Gé Korsten, Hans van Heerden, Margaret van der Post en Ronel Markgraaf, om maar enkeles te noem. Saam met Louis Knobel en Peter Rorke het hy vanaf 1955 - 1963 aan die totstandkoming van die Pretoriase Operagroep gewerk.
Musiekposbus was ‘n gewilde radioprogram wat sedert 1983 uitgesaai is en die samesteller, Joubero Malherbe, het vir Albrecht soms as ateljeegas genooi. Die laaste maal wat hy saam met Joubero aan ‘n opname vir Musiekposbus gewerk het, het hy al met moeite geloop, maar die galante heer wou self die swaar plate en bande dra. Kopieë van die uitsendings van Musiekposbus deur Joubero Malherbe en Albrecht is vandag nog by die SAUK beskikbaar.
Musikale persoonlikhede wat Albrecht bewonder het, is onder andere M Roux, D Clarke, N Holtzhausen, D Laurens, S Eyssen, L Knobel, S le Roux Marais, PJ Lemmer, MC en D Roode, D de Villiers, P de Villiers, G Bon, S Richfield, J Schulmann en A Hartman. Volgens Roon, Albrecht se seun, het sy vader respek gehad het vir vele digters, onder andere die Louw broers, Opperman, Cilliers en Van den Heever.
Helen, met die vlegsel om haar kop en blousel-blou oë, is in 1984 oorlede. Helen het gesê hul geliefde lied in Berlyn, toe hulle nog sangstudente was, was Freundliche Vision van Richard Strauss.
Albrecht se tanende gesondheid (hy het kanker gehad) en ouderdom het hom genoop om af te tree en hy het in Sonnheim, ‘n veilige hawe vir senior inwoners, gaan woon. Hier het hy aanhou skryf en komponeer.
In sy laaste lewensjare was Bhicka Chiba, ‘n Indiër wat ‘n aanhanger van die Rishikesh gemeenskap was, sy beste vriend en spirituele leermeester. Lewald het diepgaande studies van filosofie, musiek, letterkunde, poësie, godsdiens en joga gemaak en selfs tot in sy tagtigerjarige steeds joga beoefen. Met sy afsterwe het Bhicka ‘n paar korreltjies van sy as in die Apiesrivier, waar hulle twee menige male gaan stap het, gestrooi. ‘n Ander deel is na die skaduwees van die Himalayas gestuur en die laaste korreltjies is na die heilige rivier Ganges in Indië.
Die Lewalds was wandervogel-mense, natuurmense, en terwyl hulle in Duban gewoon het, het hulle dikwels op Sondae per trein langs die Indiese Oseaan gaan ry om die fauna en flora te bewonder.
Ander Afrikaanse digters getoonset
JH Naude, DF Malherbe, E Schlengemann, Totius, Ign Mocke, 6 liedere van JFE Celliers, 2 liedere van B Stockenstrom, 2 liedere van CM van den Heever, 5 liedere van WEG Louw
Briewe