Mary Owen O'SHEA

MARY OWEN O’SHEA - Suster Mary Gabriel

* 6 Junie 1887 in Geelong, Victoria, Australië

† Onbekend

Gedig

Maar een Suid-Afrika (1922)

Komponis van gewyde musiek en musiekonderwyseres

Sister of the Holy Family / Suster van die “Assumpsie”, Grahamstad

Toe sy verkies het om vir haar speelgoed wat bo-op die klavier gestaan het, te speel en melodieë op sig van staafnotasie af te sing, was dit vir Mary se ouers duidelik dat sy ‘n buitengewone musiektalent gehad het. Hoewel hulle dit finansieël nie breed gehad het nie, het hulle gesorg dat altwee hul kinders musiekopleiding ontvang. Hul seun het ‘n bekwame sanger en violis geword.

In 1906 het Mary na Suid-Afrika emigreer en tot 1909, toe sy ‘n lidmaat van die gemeente van die Heilige Familie geword het, was sy in Johannesburg musiek-onderwyseres aan die Parktown Klooster van die Heilige Familie. Sy het aangesluit by die Assumption Sisters, ‘n internasionale Katolieke orde van ongeveer eenduisend susters van veertig nasionaliteite, wat hul roeping tot opvoedkunde in twee en dertig lande wêreldwyd uitleef. Die organisasie is reeds in 1839 gestig.

Die Assumption Sisters het in 1850 met opvoeding volgens die Katolieke leer in Suid-Afrika begin. In 1905 het die Holy Family ‘n nuwe klooster in Parktown geopen en dit was hier waar Suster Mary Gabriel (soos sy voortaan bekendgestaan het) in 1906 ‘n tuiste gevind het. Vele opvoedingsentrums is in Port Elizabeth, Port Alfred, Somerset-Oos en Maryvale, Pretoria en Durban opgerig. Die oudste Katolieke skool in die Oranje Vrystaat is die Greenhill Convent in Bloemfontein, waar suster Mary ook werksaam was. Hierdie klooster is aan die einde van 1980 gesluit.

Na voltooiing van haar kloosteropleiding is sy na Pietermartizburg gestuur, waar sy die diplomas UVLM en UOLM verwerf het. Op voorstel van haar eksaminator is sy in 1922 na Londen, waar sy onder VF Reddie aan die Royal Academy of Music studeer het.

Na haar terugkeer na Suid-Afrika het Suster Mary Gabriel bekend geraak as die musiekonderwyseres in die klooster. Prominente voordraers- en musiekonder-wyseresse soos Phyllis E Baker het onder haar leerlinge getel.

Suster Mary Gabriel het liturgiese toonsettings van die Mis, motette en musiek vir klavier en orrel gekomponeer. Saam met haar vriendin, suster Mary Flannagen, het sy die kollegelied van die Greenhill Klooster getoonset.

Na haar aftrede het sy daarmee voortgegaan om onderrig in musiek en sang aan leerlinge en studerende susters van die Heilige Familie te gee. Haar swak gesondheid het haar in 1964/1965 gedwing om die onderwys vaarwel te roep.

Toonsetting: Maar een Suid-Afrika