Marthinus Lourens DE VILLIERS

MARTHINUS LOURENS DE VILLIERS

* 31 Julie 1885, Paarl, Wes-Kaap, Suid-Afrika

† 17 Mei 1977, Wellington, Wes-Kaap, Suid-Afrika

Gedigte

Maar één Suid-Afrika / Gee my
Heimwee
Muskietejag
Slagvaardig
Berou / Dit is laat in die nag
Klaas Vakie / Wiegeliedjie

“The success of an Afrikaans song should lie primarily in the text and the emotion it incites in the composer.” - ML De Villiers

Die geskiedenis van die Hugenote-families van Suid-Afrika begin in 1685 met die herroeping van die Edik van Nantes in Frankryk. Die stamvaders van die De Villiers-families in Suid-Afrika was die broers Pierre, Abraham en Jacob de Villiers.

Pierre de Villiers verlaat Nederland op 8 Januarie 1689 aan boord die Zion en bereik Kaapstad op 6 Mei 1689. Hy vestig sy gesin op die plaas Bourgogne in Olifantshoek, vandag Franschhoek, en verskuif later na Picardie in die Paarl. Van Pierre de Villiers se direkte afstammelinge is ML de Villiers en DIC (Dirkie) de Villiers.

Klein Marthinus word vanaf sy babadae in Wellington, waar sy ouers ‘n musiekinstituut bedryf, blootgestel aan musiek. Sy pa was vyf en veertig jaar lank orrelis van die NG Moedergemeente op Wellington, terwyl Andrew Murray en JR Albertyn die predikante was. Sy ma het hom opgelei in klavierspel en sy pa het hom opgelei in orrel, viool en harmonie. As tienjarige was hy klarinetspeler in sy pa se Brass Band. Hy moes toe nog tydens optredes op ‘n kassie staan ten einde die bladmusiek op die staander te kon lees.

ML de Villiers se buitengewone talent het op veertienjarige ouderdom begin blom toe sy eerste komposisie-poging opgeneem is in die boek Sewe Stap Liedjies, in 1940 gepubliseer deur die Nasionale Pers.

Na matriek behaal De Villiers in 1904, na 3 jaar studie aan die Hugenote Universiteits- kollege op Wellington, sy BA graad.

Van 1905 - 1907 gee hy onderwys op Wepener in die Vrystaat, waar hy die spil is waarom die dorp se musieklewe draai. Hy stig ‘n blaasorkes, gee onderrig in verskeie musiekinstrumente, word orrelis van die NG Kerk en bring ‘n kerkkoor op die been, vir wie hy koorstukke komponeer.

Die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog en die moedige pogings tot heropbou maak ‘n diepe indruk op Marthinus as Engelsgesinde Bolander. Sy interaksie met B de Ravelli, komponis en musikus en sy persoonlike kennismaking met gewese president MT Steyn het ‘n heilsame en vormende invloed op die jong De Villiers gehad.

Tydens sy studiejare aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch (1908 – 1911) doen hy die eerste toonsettings van Afrikaanse gedigte, onder meer Oproep tot stryd vir die Moedertaal, van NJ Brümmer.

In 1911 is hy as predikant in die NG Kerk gelegitimeer en tree in die huwelik met Jemima Susanna (Mimie) du Plessis. Uit die huwelik is twee dogters en twee seuns gebore van wie een, Dirkie de Villiers, eers onderwyser was en uiteindelik musiek as ‘n loopbaan gekies het. ‘n Kleinseun, Johan de Villiers, was dirigent van die Stellenbosch Universiteitskoor vanaf 1977-1984, asook dirigent van die Libertas Koor vanaf 1989 tot 2022 en ‘n kleindogter, Suzanne, word altviolis.

Gedurende die tydperk van die Eerste Wêreldoorlog (1914 - 1918) en die gevreesde Spaanse griep, was Marthinus predikant op Bedford, waar hy op bediening aan die jongmense fokus. Hy organiseer ‘n debatsvereniging, ‘n Ring Sondagskoolkonferensie en met Kersfees ‘n kersboom vir die kinders. Op die pastoriegrond is ‘n tennisbaan vir die jongmense aangelê en kamermusiekaande, orreluitvoerings en optredes deur ‘n salonorkes is aangebied. Hy maak kennis met groot volksgeeste soos JBM Hertzog, DF Malan en CJ Langenhoven.

Nadat De Villiers aanvanklik slegs sy eie gedigte getoonset het, oortuig die digter HA Fagan hom om toonsettings van gedigte van onder meer JFE Celliers en AD Keet te komponeer. In samewerking met sy neef PK de Villiers, wat vir tallose nuwe wysies in die Hallelujaboek verantwoordelik was, publiseer De Villiers twee reekse skoolliedere wat jare lank groot aftrek gekry het.

In 1919 neem hy ‘n beroep aan na die NG Kerk Simonstad. Dit is hier waar hy die eerste toonsetting van Die Stem aan Langenhoven voorgelê het, waarmee Langenhoven geensins beïndruk was nie. Terwyl De Villiers een oggend in 1921 besig was om doopseëls uit te skryf, het ‘n nuwe wysie hom te binne geskiet. Langenhoven was beïndruk. Die Stem van Suid-Afrika was getoonset.

Na Langenhoven se afsterwe in 1932 het Die FAK ‘n proses begin om die mees geskikte volkslied vir Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners te vind. Vyftig inskrywings is deur onder andere die volgende persone voorgelê: SH Eyssen, A Whiting, Fagan, V Potgieter, D Kannemeyer, C Markgraff, WW Brink, PW Haasdijk, H Söhnge, CM Badenhorst, I Mostert, T Garrat, F Eybers en JC Rousseau. Die keurkomitee het bestaan uit S Goldblatt, PJ Lemmer, NJ van der Merwe, P Kirby en ‘n verteenwoordiger van Engelse verenigings, wat uit ses en dertig toonsettings die beste moes kies. Uiteindelik is die woorde van Langenhoven se gedig en die toonsetting van De Villiers aanvaar.

Die Huisgenoot van 22 November 1940 rapporteer só oor die toonsetting van Die Stem van Suid-Afrika: “‘n Komponis Geëer - Die erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns, wat in 1940 aan ds. M.L. de Villiers, komponis van die melodie van Die Stem van Suid-Afrika, toegeken is, is onlangs by geleentheid van ‘n besonder mooi konsert in Kaapstad aan die komponis oorhandig. Die konsert het in die eerste plaas uitgegaan van die werk op die gebied van musikale komposisie. Die musiek vir Die Stem is oorspronklik op versoek van Langenhoven gekomponeer; en die keuse daarvan uit honderde komposisies wat vir die wedstryd van die F.A.K. ingestuur is, lewer die bewys dat dit werk van eersterangse gehalte is. Ds. De Villiers het ‘n paar van sy eie komposisies gespeel, terwyl die medewerking van die beroemde Afrikaanse sangeres C Wessels veel tot die sukses van die konsert bygedra het.”

Duidelikheidshalwe: Alhoewel Die Stem van Suid-Afrika reeds sedert 1928 gespeel is tydens seremonies waar beide die Unievlag en die Britse vlag gehys is, is dit eers op 2 Mei 1957 as die amptelike volkslied aanvaar.

De Villiers was die eerste Afrikaanssprekende plate-resensent in Suid-Afrika en het 'n plate-rubriek vir die Afrikaanse blad, Die Nuwe Brandwag, in die twintiger jare behartig.

Op 30 November 1923 publiseer De Villiers sy eerste van vele artikels in Die Huisgenoot, met die titel Schubert En Ons. Tussen 1926 en 1929 skryf hy artikels oor Grammofoonmusiek. De Villiers skryf oor Wagner se The Valkyrie: “Hoe om na ‘n grammofoon te luister? - Ek het hierdie musiek aangehoor, met die vlamme in my voorkamerkaggel in ‘n rugby toetswedstryd teen die “All Blacks” van die koolmyne gewikkel. Dan voel ‘n man met Wotan saam!” De Villiers se gunsteling klassieke komponiste was Bach en Wagner.

In 1930 emeriteer ML De Villiers en vestig hom op Wellington, waar hy met die kenmerkende geesdrif van die eerste veertien jaar van sy loopbaan as vrye musikus, sewentien reise deur Suid-Afrika onderneem om orreluitvoerings en honderde konserte en praatjies oor musiek by skole te lewer. Na sy aftrede komponeer hy sowat twee honderd en vyftig skoolliedere as opdragwerke – dikwels met sy eie woorde. Hierdie woelige lewenswyse het in die jare van die Tweede Wêreldoorlog afgeneem en in 1945 tot ‘n einde gekom.

Op 3 Januarie 1936 verskyn ‘n artikel in Die Burger, waar hy gesels oor sy sesde reis in Suid-Afrika, wat ses maande geduur het en finansiëel ondersteun is deur Genl Johannes Wessels.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 1939 in Kaapstad ‘n erepenning vir musiek aan hom toegeken en na die amptelike aanvaarding van sy melodie vir die Suid-Afrikaanse volkslied is ‘n lewenslange staatspensioen aan hom bewillig. In 1957 is hy gehuldig tydens die FAK se Volksmusiekkongres op Stellenbosch en in 1961 is daar ‘n ML de Villiers-aand gehou op Simonstad, die dorp waar hy twaalf jaar lank in die bediening gestaan het en waar die volkslied se melodie vorm aangeneem het. Daar word vertel dat sy verdeeldheid tussen roeping, studie-ywer en musiek daartoe begedra het dat as musikus nie tot volle verwesenliking kom nie. Die frisse spontaneïteit van sy melodieuse gawes het nietemin ‘n duidelike merk op die Afrikaanse kultuurlewe gemaak.

In die Keet Nalatenskap word ‘n klein boekie Lewensrympies - vol fotos en aforismes wat ML de Villiers saamgestel het – bewaar.

Ander Afrikaanse digters getoonset

CJ Langenhoven, Totius, JRL van Bruggen, JFE Celliers, AG Visser, ID du Plessis, PW de Waal, CL Leipoldt, HA Fagan, T Wassenaar, Hugenoot, JW Jandrell, EM Sontongo, PK de Villiers, H Postma, NJ Brümmer, C le Grange, H Postma, B Lane, Ds Martins, GBA Gerdener, PJ van der Merwe en N Hofmeyr.

Brief aan AD Keet, 2 Mei 1935

Brief aan AD Keet, 14 Julie 1938

Brief aan AD Keet, 18 Julie 1938

Brief aan AD Keet, 26 Junie 1944

Brief aan AD Keet, 15 Julie 1944

Brief van AD Keet aan Alice, 14 Maart 1968

Onder datum 14 Maart 1968, skryf Keet aan sy suster Alice, die volgende (Aunt Rosie, genoem in onderstaande, is ook 'n suster van Keet):

Toonsetting: Maar een Suid Afrika

Maar een Suid-Afrika in ML de Villiers se handskrif, gevind in Keet Nalatenskap:

Toonsetting: Heimwee (Ek Verlang)

Toonsetting: Slagvaardig

Toonsetting: Klaasvakie

Toonsetting van Klaas Vakie deur ML de Villiers, ongelukkig is hierdie toonsetting nie volledig nie. Verkry uit Keet Nalatenskap.