Marinus DE JONG

MARINUS DE JONG

* 14 Januarie 1891, Oosterhout, Noord Brabant, Nederland

† 13 Julie 1984, Ekeren, Antwerpen, België

Gedigte

Hier in die Wereld/Waar Bliksems Slaan

Pianis en komponis, buitengewone improvisator

“Ik ben ook geen Hollander! Ik ben van Nederlands-Brabant en dat maakt heel wat verschil - mijn jeugd te Antwerpen woon en trouwens tot Belg genaturaliseerd ben.”

In 1926 het De Jong ‘n Belgiese nasionaliteit aangeneem.

“Ik heb heel mijn leven getracht vrij te komen van invloeden en vooral los te komen van het Wagneriaans romantisme. Ik heb 40 jaar naar een eigen stijl gezocht en ik meen dat ik nu toch ergens sta.”

Vanaf 1982 woon hy en sy vrou, Johanna Corthals, in Weymouthlaan 14, Kapellenbos, in ‘n huis gebou ‘n op groot stuk aarde, wat die natuur binnelaat. Johanna was ‘n gebore Antwerper en hulle het mekaar ontmoet by die Konservatorium waar sy ‘n musiekkursus by Emilie Bousquet deurloop het. Kapellenbos is ‘n halfuur per trein vanaf die hart van Antwerpen. Die egpaar het elke jaar op reis gegaan; alle bestemmings was binne bereik – Spanje of Noorweë. Hulle het die besige lewe net so nodig gehad soos die stilte van hul blyplek.

Oor komponering sê Marinus dat dit oral gebeur - op treine, bote, in kafee’s en restaurante. Hy komponeer selfs al is daar geraas – net nie musiekgeraas nie. Die beweging van mense en die emosies op hul gesigte was partykeer vir hom ‘n aansporing. Geen klavier was nodig om te komponeer nie. Hy het gekomponeer in sy kop, verbeter, gewysig en saamgestel en dan, wanneer die werk volledig in sy kop was, op die klavier gespeel.

Marinus het sy ouers as eenvoudige mense beskryf. Sy pa, Johannes de Jong, was ‘n handelaar wat met perd en kar sy ware verkoop het, terwyl sy ma, Johanna (Van der Schriek) ‘n huiswinkel gehad het en ‘n bietjie geboer het.

In sy ouerhuis het hy nooit musiek gehoor nie, behalwe vir die ou Volksliedere wat sy ma nou en dan gesing het. Sy pa se stokperdjie was om teenwoordig te wees by uitverkopings en dan het hy allerhande onnodige dinge gekoop. Op tienjarige ouderdom het sy pa so ‘n uitverkoping by die skool bygewoon en ‘n klavier gekoop. Toe Marinus die middag by die huis kom, was die klavier daar. Sy enigste kontak met ‘n musiekinstrument was ‘n xilofoon wat hy by Sinterklaas gekry het. Hy mag op die klavier speel, maar moes homself leer.

‘n Handelsreisiger het hom toevallig ‘n deuntjie met ‘n bas ondertoon geleer en na ‘n jaar kon hy al die straatdeuntjies tokkel, sonder om een noot musiek te ken. Mense wat dit gehoor het, het vir sy pa gesê die kind moet musiekopleiding ontvang, maar geld was daar nie. Van die twaalf kinders was hy die vyfde en elf van hulle was nog tuis en lesse sou te veel kos.

‘n Onderwyser van die dorp het insig in musiek gehad en het vir Marinus les gegee. Vir een Gulden het hy ‘n ou boek by die onderwyser gekoop – twintig bladsye was uitgeskeur. Die onderwyser wou weet waar hy sy opleiding gehad het, want hy en die kind weet ewe veel. Marinus het die hele boek binne ses maande onder die knie gehad en sy pa het gedink sy kind is volleerd! Die metode om te komponeer het hy verstaan en so het die komponering begin. Op die huis se solder het hy ou rekeningpapiertjies gekry en vol musiek lyne getrek om op te komponeer – alles orreldeuntjies.

In die buurt was ‘n meulenaar wat belanggestel het in musiek, hy het een dag vir hom musiekpapier gegee en gesê: “Bewys my dat jy wel kan komponeer”, dit moes ‘n polka wees. Een, twee, drie was dit klaar. Marinus se bynaam het “wonder seuntjie” geword en daar is vertel dat hy in die nag opgestaan het om te komponeer, maar dit het nooit gebeur nie. Met ‘n besoek aan Oosterhout, het iemand hom gehoor speel en daar is gereël dat hy op sestienjarige leeftyd, na Antwerpen se Konservatorium toe kon gaan.

Onder moeilike omstandighede, het hy ‘n klein kamertjie gekry en het net genoeg geld gehad om nie van die hongerte te sterf nie. Hy het eksamen in fuga en kontrapunt by L Mortelmans afgelê en is opdrag gegee om ‘n koraal te harmoniseer. Onder die wakende oog van E Bosquet het hy ook kontrapunt, fuga en klavier studeer. Na twee jaar het hy die prys vir fuga, kontrapunt en klavier met die hoogste onderskeiding behaal. Om in ‘n orkes te kan speel het hy altviool ook onder die knie gekry.

Dit was die moeilikste periode van die sy lewe. Hy het privaat lesse gegee, in ‘n orkes en kwartet gespeel, by Lode Ontrop gewyde musiek gespeel en uitvoerings in die Beethovenzaal in Bomstraat, het die laaste tydjies gevul. Dit was werk van die oggend tot laataand. Die dag toe hy die Vierde Sonate van Beethoven gespeel het, was daar trane in die gehoor. Met die soeke na ‘n orrelis posisie, het hy dit gekry in ‘s-Hertogenbosch, maar kon dit nie lank volhou nie, want saans het hy in Eindhoven by films gespeel, oggende in ‘s-Hertogenbosch by die Mis en dit het te veel geword. Toe gaan hy terug na Oosterhout, want dit was die 1914 - 1918 oorlog en toe was hy verplig om daar te bly.

Hier leer ken hy die Benedictijnen Klooster van Oosterhout en ontdek Gregoriaanse musiek, dit het hom kalmte en rus van sy erge gejaagde lewe gegee. As ‘n jongman het Wagner se musiek sy hele wese laat ontspan en hy het sy eerste Gregoriaanse Mis gekomponeer, wat al menigmaal herdruk is. Hier in Oosterhout het hy dirigent in harmonie geword. Aanbiedinge het ook vanuit Amsterdam en Utrecht gekom. Die ouer lede van die klooster wat die musieklewe verlaat het, moes volgens tradisie hul instrumente inhandig en die instrumente is met ‘n hamer platgeslaan.

Die klavier-uitvoerings was te veel en hy het min tyd vir komposisies gehad. In 1917 was daar ‘n kompetisie, Albert De Vleeshouwer Kompetisie, deur die Antwerpse Konservatorium vir die beste student van die laaste tien jaar, wat hy met ‘n Praeludium en Tripel-fuga vir orrel gewen het. Dit is later deur die uitgewer, Alsbach, gepubliseer.

Met die wapenstilstand op 11 November 1918, keer hy terug na Antwerpen en baie klavier-uitvoerings, wat heelwat belangstelling uitlok, volg. ‘n Geleentheid om in Europa en Amerika te gaan toer, het twee jaar geduur en optredes was in al die groot stede daar. Weer eens was daar nie tyd vir komponeer nie, want klavier uitvoerings was sy eerste prioriteit. Marinus het ‘n strykkwartet, met Gregoriaanse invloed op die been gebring, wat ook later gepubliseer is.

In Amerika het hy die eerste maal in kontak gekom met jazz, musiek wat nog glad nie in Nederland bekend was nie. Die ritme was so aansteeklik dat hy op die tafel die ritme met sy eetgerei, gevolg het.

Marinus was weer vir ses maande na Amerika, maar die behoefte aan komponering het te sterk geword en hy is terug na Europa. Terug op tuisbodem kry hy ‘n aanstelling as professor in klavier, kontrapunt en fuga aan die Lemmensinstituut te Mechelen in die plek van sy oud-leermeester, Lodewijk Mortelmans. Mortelmans het direkteur van die Konservatorium te Antwerpen geword. Later jare is hy ook die pos aangebied, maar was al met pensioen.

Marinus se vrou, Johanna, het aangehou met klavier-opleiding en sy mooiste werk wat hy aan haar opgedra het, is Bruilofsmars en Vyftien Fantasie Walse. Die Vierde Simfonie, op. 186 (1981), is geskryf ter nagedagtenis van sy vrou. Dit is ‘n merkwaardige prestasie, want Marinus was toe al 'n negentigjarige.

De Jong se liefling digters vir sy vokale musiek was G Gezelle, L Bosteels, Angèle de Bremaeker en Bert Peleman. Vele van sy werk is bekroon met nasionale- en internasionale pryse en verskyn binnelands, sowel as buitelands. Hy het die Koningin Elizabeth prys vir Viool ontvang.

Marinus de Jong sterf op 14 Januarie 1991 in Ekeren.

Ander Afrikaanse digters getoonset

AG Visser, NP van Wyk Louw, EN Marais, WEG Louw, CL Leipoldt en CM van den Heever.

Toonsetting: Waar Bliksems Slaan (Hier in die Wereld)