MARAIS VAN DEN BERG
* 1971
Gedig
Weemoed
Marais beskryf sy lewensreis
Marais van den Berg word in 1971 gebore, en stel reeds van jongs af in musiek en veral komposisie belang. Sy laerskoolmusiekonderwyseres raai hom af om te komponeer want hy “is nie ’n tweede Mozart nie.” Hy matrikuleer in 1989 aan die Hoërskool De Aar en speel ook ABRSM Graad 8 Klavier in dieselfde jaar. Hy studeer aan die Universiteit van die Vrystaat en na ’n draai in die Regsfakulteit, behaal hy ’n Baccalaureusgraad in Engels en Wysbegeerte. Hy neem gedurende sy studiejare klavierles by Marlis Potgieter.
In 1997 word hy aangestel as senior Engelsonderwyser by die Lady Grey Kunste-Akademie. Hy is ook assistentbegeleier van die Lady Grey Kunste-Akademie Konsertkoor onder leiding van Botes Gresse. In 2005 wend hy hom terug na sy alma mater in De Aar toe hy aangestel word as Engelsonderwyser. Hy onderrig Engels Huistaal vir Graad 10 – 12. Hy rig ook die Hoërskool De Aar Konsertkoor af.
In 2017 tree hy af weens swak gesondheid met bipolêre gemoedsversteuring. Vir die eerste keer kan hy hom heeltyds toewy aan sy kleinseuntjiedroom om musiek te komponeer. Nou kon wat voorheen net ’n stokperdjie was, realiseer in iets meer ernstig en gefokus. Hy neem sedert 2020 komposisieles by die Italiaanse komponis, Alberto Molinari.
In 2021 word sy Whimsical Suite vir fluit en klavier opgeneem op CD, nadat hy die eerste plek verower in ’n “call for scores” deur die Amerikaanse fluitis, Taylor Irelan. Gedurende Pase 2022 word die Duitse weergawe van sy kantate, Al sou die vyeboom nie bot nie, vir sopraan, horing, trompet en orrel in die Pfarrkirche St. Johannes Nepomuk in Meidling-Wien uitgevoer.
Hy het reeds ’n simfonie in e mineur die lig laat sien. Die klankbaan van die simfonie is gekoreografeer in die fisiese teaterstuk, Artifex. Hy het die klankbaanmusiek vir vier Australiese kortfilms gebasseer op kortverhale van Edgar Allan Poe gekomponeer.
Marais se liefde vir die klavier, en veral die pyporrel, is duidelik te sien in die hoeveelheid werke wat hierdie instrumente as solis of begeleier insluit. Hy komponeer ook graag vir koor. Sy verwerking van Let all mortal flesh, in opdrag van die Conwonnité koor onder leiding van Albert Morland, is deur die koor uitgevoer in Nazareth House, Pretoria, en ook op toer. ’n Orrelverwerking van Valet sal ich dir geben, is in ’n SAKOV-bundel opgeneem.
In 2025 wend hy hom ook tot die Afrikaanse Kunslied. Hy toonset Eugene Marais se Skoppensboer as opdragwerk. Gou volg nog opdragte van Coert Grobbellaar, en word Eugene Marais se Die Towenares en Diep Rivier ook getoonset. Intussen het die toonsetting van Winternag verskyn in ’n FAK bundel met verskillende toonsettings van dieselfde gedig. In 2026 toonset van den Berg die gedig Weemoed van AD Keet. Hierdie toonsetting sal op ’n webblad met toonsettings van Keet se gedigte verskyn.
Tans is Marais besig met ’n groot opdrag. Dit is ’n Kantate, Die Lied van die Spinners, vir solosopraan, -alt, -tenoor en -bas, tjello en klavier. Dit is ’n toonsetting van die gelyknamige stel van agt gedigte deur die bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar, Majak Bredell. Elke gedig pas by ’n houtsneewerk van Bredell. Hierdie werk sal na voltooing sy wêreldpremiere in Pretoria hê.
Marais is ’n tonale komponis in die Westerse musiektradisie.
Ander Afrikaanse digters getoonset
Eugene Marais
Toonsetting: Weemoed
Musiek: Weemoed
Druk hier om Weemoed getoonset deur Marais Van Den Berg te hoor.