JOHN CONNELL
* 18 Junie 1891, Glasgow
† 21 September 1955, Johannesburg
Gedig
Maar één Suid-Afrika, Bayle and Ferguson Uitgewers, Londen 1925
“The transplanted Scot is a hardy root. He has become a real South African, and this Gathering to perpetuate his ancient customs is not a looking back with regret, but an enrichment of his life in South Africa, where his home is, and where he would be." - John Connell
Connell word beskryf as optimisties, verantwoordelik, ernstig, intelligent en met ‘n groot skoot deursettings- en oorredingsvermoë, organisatoriese bekwaamheid; as ‘n goeie orator en komponis en helaas met ‘n besonderse humorsin.
John is uit die huwelik tussen William Stevenson en Helen te Glasgow gebore. Sy algemene musikale opleiding het hy in Glasgow ontvang en hy was bekend as ‘n man van die kerk.
Hy studeer aan die Allen Glen Skool waar hy homself onderskei deur die Allen Glen Wetenskapbeurs te wen. Hy was lid van die Choir boy Brigade van die St. Mary’s Katedraal in Glasgow. Hier neem hy klavier by Agnes Millar, welbekend as ‘n LRAM-dosent. Komposisie studeer hy by HW Richards en AC Iggulden.
Sy belangstelling in die bou en ontwerp van orrels begin op ‘n baie vroeë ouderdom en hy word later op hierdie gebied ‘n deskundige. Hy bou sy eerste orrel op dertienjarige ouderdom vir die Holy Trinity Church Paisley in Skotland; dit was die eerste in Skotland met die neumatiese aksie.
In 1906 - 1912 was hy by St Mary’s Katedraal onder die wakende oog van GT Pattmann orrelis en koormeester. Hy studeer ook onder die blinde orrelis Alfred Hollins van die St George’s United Free Church te Edinburgh.
Daar word genoem dat Connell in 1912 die ARCO en in 1915 die FRCO kwlifikasies in orrelspel verwerf het. Hy is toe aangestel as orrelis en koormeester aan die Kelvin Grove United Free Church, wat hy vier jaar volgehou het. Sy werk in Glasgow en Wes-Skotland het aan hom as agtienjarige jongman ‘n voortreflike reputasie as begeleier en konsertorrelis besorg. Die meeste werke wat uitgevoer is het hy self gekomponeer, maar hy het nie die groot meesters buite rekening gelaat nie.
Voor sy vertrek na Suid-Afrika trou hy op 31 Oktober 1916 met Marion Baillie, die dogter van Robert Baillie. Met die posboot Saxon vertrek hulle uit Engeland na SA en arriveer op 30 November 1916 in Kaapstad. Hier het hy die geleentheid gekry om die orrel in die Kaapstadse Stadsaal te bespeel. Met sy aankoms in Johannesburg bevind Connell hom in ‘n groeiende kommersiële en kultuursentrum – ‘n uitvloeisel van die ontdekking van goud aan die Witwatersrand in 1884. Musiek floreer.
Connell se vroeëre mentor, Alfred Hollins, besoek Suid-Afrika om leiding te gee met die verkryging van ‘n nuwe orrel vir die Stadsaal van Johannesburg en hy woon die inwyding op 4 Maart 1916 by. Op aanbeveling van Hollins is Connell deur die stadsraad van Johannesburg uit 71 kandidate aangestel as orrelis en stadsorrelis teen ‘n vergoeding van £600 per jaar vir ‘n tydperk van drie jaar. Tydens hierdie periode het die impak van die Eerste Wêreldoorlog (1914 – 1918) Johannesburg se musieklewe beduidend laat agteruitgegaan en Cohen moes, as nuwe stadsorrelis, noodgedwonge aanpas by die musieklewe soos hy dit op daardie tydstip aangetref het.
In die vroeë dertiger jare is John orrelis van die NG Gemeente Johannnesburg-Oos. In die kerk se tydskrif Irenenuus van Januarie 1936 lees ‘n berig: “Ons gemeente is grootliks bevoorreg om een van die uitstaande orreliste van SA in ons diens te hê. Dit is altyd vir ons treffend om te merk met hoeveel meegevoel mnr Connell aan ons diens deelneem. Sy begeleiding van ons gesange by bestiering van die koor, sy orreluitvoering elke Sondagaand om 7uur en sy optreding by ons awendmaaldienste laat ons altyd voel dat hy reeds intiem met ons inleef.” Connell het die orrelispos in April 1944 verlaat.
John was betrokke by insamelings vir oorlogsfondse, beoordelaar by kunswedstryde, opelug- en massakooruitvoerings, orrelinwydings, kultuurdae, ‘n dankseggingsdiens na die val van Tobruk, en verwelkoming van troepe en oud-gevangenes na die oorlog. Hy was betrokke by die verwelkomingsbanket vir Genl Jan Smuts, eisteddfod, opera, ballet- en toneelopvoerings, gimnastiekgeleenthede, koninklike besoeke en les bes tronkbesoeke. Hy verwerk Psalm 124 in Afrikaans uit die oorspronklike taal.
Van die groot mylpale in Connell se lewe as stadsorrelis en musiekdirekteur – en sy merkwaardige werkywer - word as volg saamgevat:
o Eerste uitvoering as Johannesburgse stadsorrelis op 16 Desember 1916
o Dirigent van die Johannesburgse Philharmonic and Choral Society
o Ere-dirigent: Johannesburg Filharmoniese Vereniging vanaf 1917 vir 34 jaar
o Betrokke by twee en dertig opvoerings van die Messias van Händel (1917 – 1947)
o Leier van College Choral Society, by Transvaalse Universiteits Kollege (1921)
o Lei massakore en -samesang op onder andere 16 Desember 1921 en tydens die Prins van Wallis se besoek aan Johannesburg in 1925. Tydens hierdie geleentheid is Maar één Suid-Afrika van Keet uitgevoer deur ‘n koor van driehonderd stemme
o Professor en dekaan van die Faculty of Music, 1923
o Opeluguitvoering tydens Kruger Eeufeesvierings, 1925
o Opvoering by Uniedagviering in 1972, Pretoria skouterrein
o Stadswording van Johannesburg met massa blaasorkes deur die strate 1928
o Sondagaand konserte in Joubert Park (1930), wat deur die oorlogsjare volgehou is
o Lid van die keurkomitee van die FAK se Volksliedwedstryd (1933)
o Ontwerp die Pretoriase Stadsaalorrel in 1935 en lei die koor en orkes met die inwyding
o Optogmeester vir die Kroningsvierings ter ere van Koning George en Koningin Elizabeth op 12 Mei 1937 en met ‘n volgende koninklike besoek aan SA (1947) lei hy die massa-koor op Kerkplein voor ‘n skare van 35,000 mense
o Sluit kontrak met die SAUK (1938) waarvolgens die radio-orkes saam met die stadsorkes in uitsendings en operas gespeel het; die ooreenkoms is dwarsdeur die oorlogsjare gehandhaaf
o Optogmeester met die Voortrekker Eeufees in 1938
o Uitvoerings met die SAUK se een en twintigste verjaarsdag in 1945
o Stig die Johannesburg City Orchestra 1946. Sy duisendste orrelkonsert was op 3 November 1929 en twee duisendste orrelkonsert in 1952
o In die jare tussen 1938 en 1947 voer hy veertig operas op
In November 1924 besoek hy Engeland vir drie maande en Amerika in September 1931. Op 6 Januarie 1948 vertrek Connell na London, Parys, Rome en Milaan om kunstenaars vir Johannesburg se operaseisoen te werf/
In April 1950 tree sy bedanking in werking, maar hy bly aan as stadsorrelis totdat hy op 21 September 1955 sy kop neerlê.
Vele huldeblyke aan Connell is in plaaslike koerante gepubliseer en verskeie uitvoerings is gehou ter ere van hom. Die gedenkkonsert ter ere van sy loopbaan is op 16 Desember 1956 gehou. Die SAUK orkes, Asaf- en SAUK-kore, die dirigente Sulman, Cree en Hartman en soliste B de la Porte, W Hutchings, S Koch, J Boshoff en die orrelis R Stoutt het by die geleentheid opgetree. In bydraes in Italiaans, Frans, Duits en Afrikaans het twintig oud-Burgemeesters klem gelê op sy organisatoriese talent en volgehoue aanmoediging van jong Suid-Afrikaners om hul musiekkultuur uit te bou.
Die Tydskrif vir Geesteswetenskappe berig in Maart 2008 dat John Connell die belangrikste grondlegger van die opera in die Goudstad was. Sy aanbiedings het gereeld vol sale getrek, veral aangesien Connell dit vermag het om bekende operas in Afrikaans aan te bied, Hieronder tel Carmen (Bizet) in 1944, Tannhäuser (Richard Wagner) in 1948 en Die Towerfluit (WA Mozart) in 1950. Dawie Couzyn en Frederick Dalberg was van die soliste.
Kort na Connell se dood is die poste van musiekdirekteur en stadsorrelis afgeskaf – die ou bedeling het plotseling tot ‘n einde gekom en ander instansies het oorgeneem. Connell het egter sy merk op die musieklewe van Johannesburg gemaak deurdat hy opera, orkes en ballet op ‘n vaste grondslag geplaas het waarop in die toekoms voortgebou kon word.
Connell word oorleef deur sy voormalige eggenote asook twee kinders, James A Connell en mev Mario Lindeman.
Negentien plakboeke wat in die besit van die Johannesburgse Openbare Biblioteek is, vorm deel van sy nalatenskap. Tydens die samestelling van hierdie dokument was die biblioteek gesluit en sou vir die afsienbare toekoms nie toeganklik wees vir navorsing nie.
Ander Afrikaanse digters getoonset
PJ Groenewald, FW Vodegel en EN Marais.