Johann Franz ENDLER

JOHANN FRANZ ENDLER - Hans

* 1 Januarie 1871, Neudorf, Mohrau in die Graafskap Morawië aan die grens van Oostenrykse Silesië. Mohrau se naam is verander na Rymarov.

† 30 Junie 1947, Kaapstad, Suid-Afrika

Gedig

Kinderlied, 1931

Cello virtuoso to the Imperial Court of Austria

Hans Endler is beskryf as ‘n persoon wat aan sy kerk en sy God getrou was; hy het vir sy werk gelewe. Hy was die tipiese Wiener, vol lewensvreugde, gemoedelik en met ‘n goeie humorsin. Hy was bemind, vrygewig en het soms al die kostes wat met sy uitvoerings gepaard gegaan het, self gedra. ‘n Deeglike onderwyser wat sy instrument, die tjello, geken het.

Sy vader, Franz Endler, was ‘n baie arm boswagter. Hans was die oudste van sewe kinders, wat almal baie musikaal was. Hy moes bedags myle ver loop om die plaaslike skool, waar hy sy eerste skoolonderrig ontvang het, by te woon.

Vanaf sy agtste jaar het hy onderrig in viool en sang van sy twee skoolmeesters, Tögel en Steiner, ontvang. Volgens die gebruik in Rooms Katolieke lande moes alle musikale seuns in die kerkkoor sing en so word Hans lid van die plaaslike kerkkoor in Mohrau. Met sy altstem het hy sy leermeesters en toehoorders bekoor en moes hy telkens in uitvoerings solo’s sing.

Op ouderdom veertien het dit duidelik geword het dat hy sy lewe aan musiek sou wy en is hy na Sternberg gestuur vir verdere opleiding onder die meester Zerny, dirigent van die stadsorkes. Hier het Hans verskillende instrumente, onder andere altviool, tjello, basviool en trompet leer speel. Sy dirigent-onderwyser was dikwels afwesig en dan moes hy as jong seun die stadsorkes by teateropvoerings van dramas en operettes dirigeer. Hierdie ondervinding was vir hom van groot waarde en sy sukses en ywer het toegeneem. Wilhelm Jahn, direkteur van die Weense Operahuis, was by een van sy opvoerings in die saal en na afloop daarvan het hy vir Endler kom gelukwens en hom aangeraai om in Wenen aan die Akademie van Musiek te gaan studeer.

Die leërorkes was destyds die beste orkes in Wenen. Hy het student aan die Staatsakademie vir musiek geword en in die Weense Regiment het hy onder die dirigentstokkie van CM Ziehrer, opvolger van Johann Strauss, gespeel. Aan die akademie het hy viool, tjello, klavier en harmonie as hoofvakke studeer. Geskiedenis het hy onder prof Prosniz geneem. Prosniz was 'n man met 'n verbasende geheue. Hy kon enige noemenswaardige werk deur Mozart, Beethoven, Bach, Brahms, Scarlatti, Schubert en Mendelssohn met die aanhoor van ‘n opus-nommer uit sy kop speel. Endler was ses jaar lank student aan die Staatsakademie en het ook onder die dirigentstokkie van Grieg, Hans Richter en Franz Schalk in die Weense Filharmoniese orkes opgetree.

Net 'n week voor sy vertrek na Londen het hy die begrafnis van Brahms bygewoon. Dit was 'n treurige dag vir Wene en ook vir die hele wêreld, veral omdat daar in die laaste dekade twee groot Oostenrykers dood is, naamlik die komponis Anton Brückner in 1896 en Johann Strauss in 1899. Kort hierna is Hans se vriend en kollega, Franz Schmidt, ook oorlede.

In Junie 1897 het Endler in Londen aangekom – om Engels te leer. Hier was hy ses jaar lank aan Drury Lane-teater, Haymarket teater en Queens Hall verbonde. In Europa tree hy saam met vele van die beste musikante regoor Engeland, Skotland en Ierland op en het selfs die geleentheid gehad om in Buckingham- en Sandringham-paleise op te tree.

In 1903 ontvang Hans ‘n telegram van die Oostenryker Carl Metzler (1843 – 1922): Ontmoet my by Waterloo-stasie. Ek gaan na Suid-Afrika. Tydens ‘n besoek vroeër van Rocco de Villiers aan Londen, het De Villiers vir Metzler ontmoet en hom oorreed om saam met hom na die Paarl te kom. Metzler was geoormerk om die hoofskap van die Paarlse musiekskool van Rocco de Villiers oor te neem. In 1903 vertrek Metzler na die Paarl en Endler ontvang ‘n brief van Metzler, namens die maatskappy Mackay, wat hom genader het vir ‘n aanbeveling van ‘n goeie tjellis. Metzler het vir Endler benoem. Die Mackay musiekfirma wou ‘n kamermusiek-vereniging die Mount Nelson Trio, saam met Metzler stig. Die ander lede sou Haasdijk, Van Erkel en Luyt wees. Endler aanvaar die uitnodiging en drie maande later arriveer hy in Kaapstad.

Met sy aankoms in Suid-Afrika was Endler baie verontwaardig en teleurgesteld, omdat daar geen operahuis-orkes was nie en omdat kamermusiek-konserte weens ‘n gebrek aan belangstelling gekanselleer moes word. Endler het die musieklewe op Stellenbosch in 1903 as saai, kleurloos en eenvoudig beskryf.

In Die Huisgenoot van 3 Februarie 1939 skryf Endler: “Die gevoel van verslaenheid wat hom van my meester gemaak het toe ek 35 jaar gelede my tuiste in SA kom soek het, sal verstaanbaar wees vir elkeen wat bekend was met Stellenbosch in 1903. Ek het so pas uit die woeligste en grootste Europese stad met hulle musikale bedrywighede gekom en die teenswoordige bloeiende Universiteitsdorp was iets van die verre toekoms. Daar was geen restaurant, nie ‘n kamer te huur, geen bioskoop, geen operagebou of musiekskool. As sodanig het die Universiteit nog nie bestaan nie. Geen Konservatorium vir Musiek is nog gestig nie. Geen beduidenis van musikale lewe of ‘n poging om belangstelling vir musiek in die gesuste dorpie wakker te maak nie.”

Metzler neem die twee en dertigjarige Endler saam Paarl toe, maar ‘n ontmoeting met PK de Villiers oorreed Endler om saam met Metzler terug te gaan na Stellenbosch as assistent in De Villiers se musiekskool. PK de Villiers vertrek na Worcester en Endler neem PK de Villiers se studente van die musiekskool oor met die doel om spoedig ‘n orkes tot stand te bring.

In minder as ‘n jaar bied Endler op 12 Augustus 1904 die Stellenbosch Orchestral Society simfonie-konsert aan, met homself as dirigent.

Die algemene gevoel oor Endler is saamgevat in hierdie woorde wat in die gedrukte media verskyn: "Herr Endler heeft zijn carriere gemaakt; wij kunnen in het vervolg altijd iets goeds van hem verwachten. Hij heeft bewezen dat hij ten volle opgewassen is voor de taak die hij op zig heeft genomen."

In 1904 stig Endler ‘n blaasorkes op Stellenbosch. Hul eerste uitvoering was op 7 Desember 1904 op Du Toit-Stasie toe die stoflike oorskot van president Paul Kruger per trein deur Stellenbosch gegaan het. Hulle het die bekende dodemars uit Saul van Händel gespeel.

Met PK de Villiers se terugkeer na Stellenbosch was FW Jannasch (1835 – 1930) van plan om ‘n sentrale musiekskool te stig, en na vele onderhandelings is Die Suid-Afrikaanse Konservatorium vir Musiek gestig. Jannasch is gebore uit sendelingouers op die Morawiese sendingstasie te Mamre. Sy grootste bydrae was die ontwikkeling van die Konservatorium in Stellenbosch in 1905. Die hoeksteen van die Konservatorium-gebou is in Julie gelê en in Desember is die gebou voltooi. Na die feestelike inwyding van die Konservatorium in Mei 1906, het die vyf stigters, Jannasch, Endler, A Schniter, mej De Villiers en mev Von Wielligh as dosente opgetree.

Vanaf September 1907 tot Februarie 1908 het Endler tydens sy verlof ‘n besoek aan Oostenryk gebring. Die destydse Keiser van Oostenryk, Franz Joseph, was duidelik bewus van die goeie werk wat Endler op Stellenbosch gedoen het en hy is deur die Keiser tot Ridder van die Keiserlike Franz Joseph Orde geslaan.

In September 1913 is Endler met ‘n tjello-student, mej Enid Beryl Burghes-Briscoe van Oos-Londen in die huwelik bevestig. Sy was ‘n student van Franz Moeller. Enid was die enigste persoon in Suid-Afrika wat in besit van ‘n Tjello Lisensiaat Diploma was. Die Lisensiaat in Klavier het sy ook verwerf. Na hul huwelik het die egpaar vir ses maande in Europa getoer en Endler het in Wenen verder studeer. Uit hierdie huwelik is twee kinders gebore, Erich op 14 Mei 1915 en Yvonne op 10 Januarie 1919.

Die Eerste Wêreldoorlog was ‘n moeilike tydvak vir Endler. Hy was toe nog nie ‘n genaturaliseerde Suid-Afrikaner nie, en die gevaar dat hy moontlik saam met ander Duitse onderdane na ‘n interneringskamp gestuur wou word, was dreigend. Tydens ‘n uitvoering in die Konservatoriumsaal wou ‘n polisiesersant Endler onmiddellik arresteer, maar Endler het deur die agterdeur ontsnap. ‘n Skrywe van John X Merriman, intertyd parlementslid vir Stellenbosch, het Endler se posisie aan die minister verduidelik en Endler is met rus gelaat.

Hans en Enid skei in 1926. Hy en sy twee kinders het hul intrek in die Konservatorium geneem, waar hulle tot die einde van 1938 gewoon het.

Endler het gereeld maestros van buite Stellenbosch genooi om lesings aan die studente van die Konservatorium te gee, soos Monsigneur FC Kolbe: Griekse en Gregoriaanse musiek; Dante: estetiese belang; dr Bender: Hebreeuse musiek; dr BB Keet (AD Keet se broer), verbonde aan die Teologiese Kweekskool van die Universiteit van Stellenbosch: opvoeding; ds FJ Retief van die Lutherse Kerk in Strandstraat: invloed van musiek op godsdiens; dr Gauss: fisiologie van die stembande, en so meer.

Met verskeie opvoerings wat Endler georganiseer het, het Walther Spiethoff, ook toonsetter van Keet se gedigte, deelgeneem aan die opvoerings.

Van die kommentaar in hierdie tyd: “Hans Endler blijft onvermoeid in zijn leiding, want er behoort heel wat wilskracht en geestdrift toe om ieder jaar voor dergelike konserten met iets nieuws voor de dag te komen. De grootste voldoening voor Hans Endler moet zijn dat hij in geen geringe mate mede gewerkt heeft tot steeds meer en beter waardering van kunste in Zuid-Afrika.”

Endler besef in 1913 dat die Konservatorium ten gronde sal gaan indien dit nie oor meer en beter finansiële middele kon beskik nie. Die Konservatorium vir Musiek is op 2 April 1934 deur die Universiteit van Stellenbosch van Hans Endler oorgekoop en sedertdien is die Konservatorium (goediglik deur student die Konserv genoem) ‘n volwaardige afdeling van die Universiteit geword.

Hans se betrokkenheid by die FAK is die gevolg van die versoek van die FAK wat Gebr. Mackay in 1932 beopdrag het om sewe plate met dertien Afrikaanse sangitems op te vervaardig. Hans het saam met E de Roubaix en die sopraan Nunez Holtzhausen die bekende Wiegeliedjie verewig. Endler het verder baanbrekerswerk gedoen deur te sorg vir die eerste musiekblyspel in Afrikaans.

Aan die einde van 1935 gaan Endler weer vir ‘ n kort besoek na Wenen. Op hierdie reis het hy sy vriend en kollega Franz Schmidt vir die laaste keer besoek.

Terug in Suid-Afrika, aan die einde 1938, ontruim Endler die twee kamers in die Konservatoriumgebou waar hy tot hierdie tyd gewoon het en gaan woon in ‘n huis op die hoek van Van Ryneveld- en Dorpstraat. In hierdie huis het hy tot sy dood in 1947 gewoon. Gedurende hierdie jare het Endler saam met Carl Metzler dikwels konserte vir die gevangenes op Robbeneiland en vir die inwoners van die Joodse Tehuis vir Ongeneesbare Siekes in Kaapstad gegee.

Aan die einde van 1941 het die Universiteit van Stellenbosch ‘n kersgeskenk van £15 aan Endler gestuur as blyk van waardering vir die opvoerings in die verlede.

Greta Krone, Joan van Niekerk, Hans Endler en Alan Graham het die Stellenbosch Musiek Vereniging gestig. Dit was ‘n geslote vereniging met vyftig lede wat maandeliks by ‘n lid aan huis vergader het met die hoofdoel om musiek te geniet en te bevorder.

Hans se laaste openbare optrede op Stellenbosch was in September 1946 tydens die Junior Verskeidenheidskonsert in die Recreation-saal, waar die ses en sewentig jarige Endler ‘n tjello-solo gelewer het.

In hierdie laaste jare van Endler se lewe het sy gesondheid agteruit gegaan en hy is op 17 Maart 1947 in die St Josephs Hospitaal in Pinelands opgeneem, waar hy op 30 Junie 1947 aan lewerkanker beswyk het. ‘n Roudiens het op 2 Julie 1947 in die Rooms-Katolieke Kerk op Stellenbosch plaasgevind.

Die Brandwag (Vrydag 11 Julie 1947) berig: “‘n Berig het ons bereik dat Hans Endler, die bekende Stellenboschse musikus op 30 Junie op Pinelands, Kaapstad, oorlede is. Hy het besonder waardevolle dienste aan die musiek van sy aangenome land bewys.”

Endler was die produk van sy Weense simfoniese- en operette-agtergrond en het ‘n onuitwisbare stempel op generasies van musiekonderwysers, orreliste en koorleiers afgedruk wat hulle oor die lengte en breedte van Suider-Afrika vir die bevordering van musiek beywer het.

In 1978 is die Endler Saal na Hans Endler benoem en by die Konservatorium van die US ingewy.

Ander Afrikaanse digters getoonset

E de Roubaix, JW Grosskopf, HA Fagan, R van der Merwe, JJ Smith, E Lourens, Rita van der Merwe, WB, F Malherbe, CL Leipoldt en W Spiethoff.

Endler as Ridder van die Keiserlike Franz Joseph Orde, 1908

Endler en sy vrou, Enid, kort na hul huwelik

Briewe

Brief aan AD Keet, 7 Mei 1931

Brief aan AD Keet, 4 Maart 1931

Toonsetting: Kinderliedjie