JOHAN VAN RENSBURG
* 2 Oktober
Gedig
Bimbamboela
Johan vertel van sy lewensreis tot dusver
Johan van Rensburg het in 1944 vir die eerste keer musiek gehoor en daarna vir nog vyf en dertig jaar in Potchefstroom aangebly. Sy ouerhuis was vol musiek, met albei ouers en vier kinders wat almal kon klavier speel.
Pa Ivan, ‘n onderwyser, was leier van sy eie dansorkes. Die Astra Orkes was in die negentien vyftigs en sestigs die orkes wat op die meeste danse, troue, dinees en ander funksies in die Wes-Transvaal gespeel het. Johan het as matriekseun die klavierspeler van die orkes geword.
Gedurende sy universiteitjare was hy lid van die Alabama Studentegeselskap en hy bly uiteindelik vir agtien jaar aktief by hierdie groep betrokke. Onder sy leiding word die eerste revue, Revue ’67 gebore en hierna gee Alabama vir die volgende veertig jaar die pas aan vir hierdie nuwe genre, veral in die Afrikaanse gemeenskap. Bimbamboela was een van Johan se vele komposisies waarmee hierdie geselskap gehore landwyd vermaak het.
In 1968 het die pragtige en baie talentvolle sangeres Rina Hugo by die Alabama aangesluit. Johan kon hierdie geleentheid nie laat verbygaan nie en die twee is vroeg in 1971 getroud. Kort daarna vertrek hulle vir twee jaar na Boston, VSA om hulle musiekstudies voort te sit. Johan het homself verder bekwaam in gevorderde jazz- tegnieke en orkestrasie en Rina het ‘n Meestersgraad in sang behaal. Met die terugkomslag was dit tyd vir Riaan en Anri en tans het daar reeds vier kleinkinders bygekom.
Gedurende die tagtigerjare was Johan regisseur van Ligte Afrikaanse musiek- programme by SAUK TV en maak hy onder andere reekse soos Platepraatjies, Applous, Debut, Teletreffers en selfs Die Kulkuns van Martino. Hy komponeer en verwerk ook talle nuwe kenwysies en agtergrondmusiek vir reekse soos Sondaarspoort, Nommer Asseblief en rolprente van Leon Schuster en Tolla van der Merwe. Nadat Johan en kollega Johan Stemmet in ’89 weggebreek het van die SAUK vorm hulle Stemmburg Televisie en sien hulle eie skepping Noot vir Noot die lig in 1991. Hierdie programme was jare lank op SABC 2 uitgesaai en Stemmet het in 2022 die ses en veertigste reeks van hierdie gewilde reeks vervaardig.
Van Rensburg het in 2012, ná amper ses honderd programme van Noot vir Noot uitgetree en hy en Rina het afgeskaal om in Retire at Midstream te gaan woon. Tot en met Covid-19 het hulle nog baie saam opgetree, meestal in kerke en aftree-oorde. Johan hou homself daagliks besig met musiek, maar nie so baie dat dit inmeng met sy gholf nie! Onder Johan se talle toekennings tel onder andere die FAK Prestigeprys en die Noordwes Universiteit se Kanseliersmedalje.
Bimbamboela is geskryf deur AD Keet en is gepubliseer in Verspotte gediggies vir Verspotte kinders:
”Opgedra aan die kinders van Kroonstad ter herinnering aan die eerste kultuurdagviering daar, toe twee geleerde menere jou waarlik waar amper vergeet het, dat te veel wysheid selfs kinders verveel.”
Die Universiteit van Stellenbosch se koor het Bimbamboela, met die toonsetting van Johan van Rensburg, in 1974 en 1975 gesing.
Toonsetting: Bimbamboela
Musiek: Bimbamboela, gesing deur Alabama Studentegeselskap
Luister hier: Bimbamboela