JAN BOUWS
* 28 Julie 1902, Etherland, Purmerend, Noord-Holland
† 26 Januarie 1978, Bellville, Kaap Provinsie, Suid-Afrika
Gedigte
As saans, 1929
Ek haat die Felle daglig, 1930
Klaas Vakie, 1930
Die Maan, 1931
Sonnedaal, 1930
Maar één Suid-Afrika / Gee vir my, 1933
Kafferkindjie, 1933
Ou Amsterdam is tog so mooi
Muskietejag
“Waar bliksems slaan” / “Hier in die wereld” is dieselfde gedig. Jan Bouws het dit vir Marinus de Jong gestuur en nie weer terug ontvang nie, dus is die toonsettings verlore
Jan Bouws word onthou as Nederlands-Afrikaanse musiekwetenskaplike, musiekpedagoog, skrywer, komponis, musikant en kenner van volksmusiek
Hy het 'n enorme bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek gelewer, met onder andere toevoegings tot die South African Music Encyclopaedia (SAME), Die Musik in Geschichte und Gegenwart en die Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Talle artikels oor musiekgeskiedenis- en -wetenskap het uit sy pen gevloei, en is in internasionale joernale in België, Denemarke, Duitsland, Holland, Hongarye en Switserland asook in Suid-Afrika gepubliseer. Ook het hy meegewerk aan musiek-ensiklopedieë in Engels, Nederlands, Vlaams en Duits.
Jan se pa, Evergardus Bouws, is gebore op 6 Januarie 1875, trou op 23 November 1899 met Catharina Margaretha Groen (gebore 1879) en sterf op 19 April 1943 – al drie hierdie mylpale vind plaas te Purmerend, Zaandam, Noord-Holland.
Jan Bouws was getroud met Juliana Catharina van Heijningen (14 Februarie 1910 – 13 September 2007). Sy was 'n skrywer en navorser wat aan ensiklopedieë gewerk het en bydraes tot die Suid-Afrika program vir die Nederlandse Uitsaaikorporasie gemaak het, wat Jan aan Nederland bekend gestel het. Twee seuns, Niels en Jan, is uit die huwelik gebore.
Die huis van Jan en Juliana Bouws in Kruislaan 214 A, Amsterdam, was ‘n toevlug en tuiste vir baie Afrikaanse studente in Nederland. Terwyl Keet se seun in 1949 medies in Amsterdam studeer het, skryf hy: “Pa, nou wil ek vertel van gisteraand, toe ek die aand kon deurbring aan die huis van die komponis Jan Bouws. Hy is eintlik ‘n skoolprinsipaal van beroep. Nou hy is ‘n groot liefhebber van Afrikaans en alhoewel hy nooit in S.A. was nie, sal hy ook baie graag emigreer soontoe. Jan Bouws het baie van pa se gedigte getoonset waar pa miskien nie van weet nie. Hy het ook ‘n groot versameling van pa se gedigte wat deur ander mense getoonset is – so het hy minstens vyf toonsettings van ‘Klaas Vakie’. Ook het ek by hom gesien ‘Ou Amsterdam is tog so mooi’ en selfs ‘Die maan is ‘n kwaai ou kerel.’ Hy reken dat Pa die ‘populêre’ digter is in Nederland vir sover dit toonsettings betref. O ja, ‘Muskietejag’ is ook op musiek. Hy kan die musiek laat ‘fotografeer’ en dan is hy bereid om dit aan te stuur.”
Reeds vroeg in sy lewe het Jan begin om inligting oor Suid-Afrikaanse musiek te versamel, want tydens en na die Anglo Boereoorlog, was daar groot belangstelling in Suid-Afrika onder die Nederlanders. Sy belangstelling in Afrika en sy mense het verder ontwikkel deur verhale en liedjies uit die mond van sy grootmoeder.
Jan het aan die Universiteit van Amsterdam studeer en klas gegee aan die Watergraafsmeerse Skoolvereniging in Amsterdam Oos, waar hy ook ‘n kinderkoor begelei het.
Musiekopleiding ontvang hy van U Schults (klavier), L Smit en W Pijper (musiekteorie) en EW Mulder leer hom kontrapunt. Hy het ook lesings van K Ph Bernet Kempers en W Smits van Waesberghe ontvang.
In 1946 verskyn Musiek in Suid-Afrika - die eerste poging tot ‘n omvattende Afrikaanse dokument oor die musiekgeskiedenis van Suid-Afrika uit Jan se pen in Brugge.
Die behoefte aan Afrikaanse kultuur dra by tot die buitengewone FAK Volkskongres oor Afrikaanse Volksmusiek in Stellenbosch van 30 September – 3 Oktober 1957. Jan is genooi om hierdie Volkskongres by te woon waar hy die volgende noem: “Die Nasionale kenmerke van die Afrikaanse volkslied word nie bepaal deur die kombinasie van musiekinstrumente wat gebruik word vir die uitvoering daarvan nie, maar dit hang af van watter instrumente beskikbaar is en wie daarop kan speel. Dit is musiekmaak sonder vaste voor-opgestelde reëls wat die Boeremusiek tot volksmusiek gemaak het.”
Bouws gaan voort: “Volksmusiek is ‘n lewendige ding, dit kan verander by elke nuwe situasie.” en “…die verwerking van volksmusiek lewer nuwe probleme op wat elke geslag op sy eie manier sou moes oplos.”
Jan en Juliana emigreer in dieselfde jaar na Suid-Afrika en hy word aangestel as lektor in Musiek aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy sy DPhil graad in 1965 verwerf. Hier het hy as musiek dosent opgetree tot 1972. Met sy kennis van Afrikaans en Frans, kon hy sy studies moeiteloos voortsit.
Ander wat saam met hom op die Kommissie van die FAK gedien het, was GG Cillié, DIC de Villiers, PJ de Villiers, SH Eyssen, JE Fourie, H Gutsche, AC Hartman, N Holtzhausen, B Kok, CE Lamprecht, PJ Lemmer, IM Lombard, WEG Louw, JP Malan, P McLachlan, HJ Moolman, R Nepgen, JJ Pauw, MC Roode, C Swanepoel, HB Thom, J van Rensburg, JC van Rooy en HP van der Westhuizen.
Gedurende 1960 het hy talle bydraes aan SAME, onder redaksie van prof Jacques Malan van Pretoria, gelewer.
Jan Bouws het op 17 November 1961 ‘n referaat by die Oranjeklub in Kaapstad gelewer met die opskrif Die Franse Volksmusiek deur die eeue. Hierdie klub was die eerste Afrikaanse kultuurorganisasie, en was reeds vanaf 1915 in Kaapstad bedrywig.
Tussen 1946 en sy afsterwe het Bouws elf boeke en nagenoeg 'n duisend artikels oor merendeels Suid-Afrikaanse kunsmusiek gepubliseer. In Die Burger en ander koerante het ongeveer twee honderd en vyftien artikels van hom verskyn. Bouws het in 1934 artikels vir Die Huisgenoot begin skryf. In hierdie artikels is komponiste soos Flor Peeters, HC van Oordt, A Lambrechts-Vos, JPJ Wierts, MAH Kerrebijn en A Spoel, genoem.
Bouws was lid van die Suid Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Maatschappij der Nederlandse Letterkunde (Leiden), Internationale Gesellschaft für musiekwissenschafft (Basel), International Folk Music Council (Illinois) en Erelid van die Instituut vir Volksmusiek in SA.
Hier ter plaatse vereer die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hom in 1960 en in 1967 ontvang hy van hulle die Stals prys vir Kultuurgeskiedenis. Van die Nederlands Zuid-Afrikaansche Vereniging (NZAV) ontvang hy die Van Riebeeck Erepenning op 10 Mei 1969, oorhandig deur die konsul in Kaapstad, GHJ Zuidberg. By die FAK se Algemene Vergadering in 1972 is ’n oorkonde uit erkentlikheid vir die rol wat hy in die bevordering van die Afrikaanse lied gespeel het, aan hom oorhandig. Vanweë sy swak gesondheid is die oorkonde deur Juliana Bouws in ontvangs geneem.
Verskeie radio opnames van sy werk is deur die SAUK gemaak, onder andere saam met Johan Stemmet, Anton Hartman, Joubero Malherbe, Bun Booyens, Monica Breed, ML de Villiers en Jan se vrou, Juliana.
Reino Ottermann van die Universiteit van Stellenbosch som Jan Bouws soos volg op: “As ’n mens die lewenswerk van dr Jan Bouws in oënskou neem, dan kom jy telkens onder die indruk van hoe diep en veelsydig sy belangstelling in en kennis van die musieklewe en musiekgeskiedenis van Suid-Afrika was.”
Die laaste woning van die familie Bouws was Molenvliet 37, Van Riebeeck Straat, Stellenbosch. Jan Bouws is op 26 Januarie 1978 in Tygerberg Hospitaal, Bellville, oorlede.
Ander Afrikaanse digters getoonset
CL Leipoldt, Eitemal, AG Visser, Kleinjan, J van Broekhuizen, P Beukes, JFE Celliers, WA Boonzaier, NP van Wyk Louw, JC Bouws en J van Bruggen.
Jan Bouws en Anton Hartman kuier by NALN in 1957
Jan Bouws skryf in Die Huisgenoot van 23 April 1948, oor Emiel Hullebroeck
Brief van Bouws aan AD Keet, 2 Februarie 1963
Brief van Bouws aan AD Keet, 4 Februarie 1963
Brief van Bouws aan AD Keet, 3 April 1966
GIACOMO PRAMPOLINI se vertaling van Keet se gedig “As Saans”
Giacomo Prampolini (22 Junie 1898, Milaan – 25 April 1975, Pisa), was ‘n Italiaanse vertaler, gegradueer in Literatuur en gegradueerde Regsgeleerde, wat ongeveer sestig tale magtig was. Hy het ‘n boek, Poeti Afrikaans (1959) die lig laat sien.
In die jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde 1976, staan die volgende paragraaf oor Prampolini: “Hij is een wonderkind van God bemind en tot geluk geschapen. Hij gaat ‘s avonds naar bed met een Finsche dictionnaire onder zijn hoofdkussen, droomt hardop in het Friesch en merkt ‘s morgens plotseling dat hij vloeiend Bengali spreken kan.” En: “De waardering voor Prampolini's literaire ‘propaganda-arbeid’ in Italië, was al veel eerder tot uiting gekomen door zijn benoeming (in 1923) tot lid van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde; hij was eveneens lid van de Koninklijke Vlaamse Academie voor Taal- en Letterkunde en van de Fryske Akademy. Ook IJsland en Cuba hadden Prampolini tot lid van respectievelijke letterkundige academies gemaakt.”
‘n Foto van die vertaalde gedig, is verkry met die hulp van die Universiteit Stellenbosch uit Italië. Uit die hantering van die boek, kan die waarde van die boek ingesien word. Ander digters en persoonlikhede wat in hierdie boek opgeneem is, is: EC Pienaar, R Antonissen, DJ Opperman, T van den Heever, WEG Louw en E Eybers.
Dirk Opperman se skrywe aan Keet oor Giacomo Prampolini
Jan Bouws se skrywe aan Keet oor Giacomo Prampolini
Brief van Keet aan sy seun op 4 Julie 1960 oor Poeti Afrikaans
Uit briewe tussen AD Keet en Piet Nienaber op 16 en 21 Oktober 1949: “My seun het nog nou die dag met my verjaarsdag ‘n toonsetting van “Die maan is ‘n kwaai ou kerel”, een van my Verspotte Gediggies, aan Jan Bouws gestuur. Dis nogal goed geslaag. Hy was een aand by Jan Bouws in Amsterdam op besoek en het daar verneem van sewe toonsettings van verskillende kommponiste op my “Klaas Vakie”. Dan kla ons nog hier oor ‘n gebrek aan liedere, nê?”
En: “Die toonsetting van Die maan het hier veilig aangekom en ‘n vriendin van ons het dadelik gesing saam met Gijsbertus Seubring (12 September 1894, Haarlem - 17 Oktober 1959), wat haar op die klavier begelei het. Seubring is ‘n wêreldwandelaar wat gestap het vanaf Constantinopel tot Suid-Afrika.” Sy reisverhale is in 1930 gepubliseer en in 1944 het hy met die aflewering van die boek, weer by die Keet’s op Senekal gekuier. Seubring se verhale is in die Volksblad en De Huisgenoot gepubliseer en is ook by NALN-argief beskikbaar.
Toonsetting: Die Maan (handgeskrewe)
Toonsetting: Die Maan
Toonsetting: Ek Haat Die Felle Daglig
Toonsetting: Sonnedaal