JACO MEYER
* 27 Maart 1988, Rustenburg, Suid-Afrika
Gedig
Ek hou van blou
Jaco deel ‘n grepie uit sy reis
Jaco Meyer is 'n Suid-Afrikaanse komponis en navorser van Johannesburg. Hy is in 1988 in Rustenburg gebore en het aan die Noordwes-Universiteit (NWU) studeer. Daar het hy sy BMus, MMus en PhD onder die komponis Hannes Taljaard voltooi. Hy het addisionele kwalifikasies in Sielkunde, Onderwys en Duits verwerf. In 2017 het hy ook die kwalifikasie Fellow of the Trinity College in komposisie aan die Trinity College of London behaal. Jaco werk sedert 2010 saam met die konseptuele kunstenaar Willem Boshoff en trek sterk verbande op 'n konseptuele vlak tussen kuns en musiek. Hy het sedertdien verskeie komposisies vir kunswerke en -uitstallings van verskeie kunstenaars geskep. Jaco se komposisies is reeds in verskeie lande deur internasionale kunstenaars uitgevoer. Hy het ook referate by verskeie plaaslike en internasionale konferensies gelewer, asook artikels en hoofstukke in navorsingspublikasies die lig laat sien. Sy navorsing is meestal gefokus op Musiekteorie, Komposisie, Persepsie en Kognitiewe aspekte van musiekervaring en -skepping. Jaco is tans 'n navorsingsgenoot by die NWU se navorsingsnis, MASARA, en beywer hom as 'n onafhanklike komponis.
Ek hou van blou
Meyer se toonsetting van die Keet gedig Ek hou van blou is in 2021 vir die SATB-koor gekomponeer en later vir tenoor, mezzosopraan en klavier op versoek van die tenoor Coert Grobbelaar verwerk. Die weergawe vir koor is vir die honderdjarige vieringe van die bestaan van die Hoërskool Rustenburg waar die komponis skoolgegaan het, geskryf. Die duet- en klavierweergawe is in 2021 tydens die Suid-Afrikaanse Musiekkonsert van die Skool vir Musiek en Konservatorium aan die Noordwes-Universiteit vir die eerste keer deur Coert Grobbelaar, Loraine Hibbert en Rudolf Geldenhuis uitgevoer. Die werk is opgedra aan Louise Vermaak, Jaco se musiekonderwyser op hoërskool, en in herinnering aan 'n voormalige Afrikaanse onderwyseres en vriendin, Debora Kruger, wat hierdie klassieke Afrikaanse gedig aan Jaco bekendgestel het.