HORACE PERCIVAL BARTON
* 20 Mei 1872, Forrest Gate, Essex, Engeland
† 17 September 1951, Johannesburg
Gedig
As Saans
Hy is beskryf as ‘n besonder begaafde leerling met ‘n vinnige begripsvermoë en hoë intelligensie. Horace was begeleier, orrelis en musikale opvoeder
Die nagevolge van die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) is gekenmerk deur depressie en ’n knellende droogte wat bygedra het tot nasionale sosio-ekonomiese vraagstukke. Desnieteenstaande het Horace Barton in sporadiese samewerking met Ethel Biden (violis), Alice Ivimy (violis), Charles Davies (violis) en Percival Jackson (tjellis) tydens die uitvoering van trio’s deur Niels Gade en Mendelssohn in die Duitse Liedertafelsaal, bekendheid as uitvoerende ensemble speler verwerf.
Jan Bouws maak die opmerking: “Merkwaardig is die bydrae wat Engelssprekende Suid-Afrikaanse komponiste in dieselfde tyd (rondom 1920) tot die Afrikaanse kunslied lewer, ‘n duidelike bewys is van die toenemende emansipasie van Afrikaans as sangtaal. Tot hierdie komponiste behoort Horace Barton, Arthur Ellis, Sydney Richfield, Hayden Thomas Matthews. Laasgenoemde het onder die skuilnaam Johannes Joubert gepubliseer.”
Pa William George Barton was ‘n musikale boekwinkeleienaar en het homself leer klavier speel. Ma Martha het op die agtergrond gebly.
Horace was die tweede van drie seuns en twee dogters. Die meisies was albei musikaal en is in sang opgelei. Die oudste broer, William, was ‘n suksesvolle musiekstudent en het aan die Guildhall School of Music, waar hy vyf en twintig jaar lank studente onderrig het, professor geword. As lid van ‘n musikale familie kon Horace gedurig in ‘n atmosfeer deurdrenk van musiek verkeer. Sedert sy vroeë jeugjare kon hy na musiek wat deur bekwame kunstenaars uitgevoer is, luister. Dit het hom die geleentheid gegee om met verskillende sieninge van en benaderinge tot musiek kennis te maak.
As vyfjarige ontvang hy sy eerste klavierkles van sy broer. Op nege het hy as solis painis gedebuteer. Op hierdie brose ouderdom is hy al beskryf as ‘n wonderkind. In die daarop volgende jare word hy ‘n welbekende solis en speel op uitnodiging.
Onderrig in orrelspel ontvang hy by Cuthbert Nunn, wat hom aangemoedig het om homself toe te spits op orrel, aangesien Horace 'n besondere aanleg en aanvoeling vir hierdie instrument openbaar het. Verder het hy in viool, tjello, harmonie, kontrapunt, orkestrasie en komposisie opleiding ontvang.
Orton Bradley, een van sy leermeesters, skryf: “Ek het nog nooit ‘n student gehad wat so maklik leer en begrip toon vir musiek nie. Hy het uitstekende tegniek en sy entoesiasme is verbasend.”
Op dertienjarige ouderdom het hy aan een van baie klavierkompetisies by die Royal College of Music deelgeneem. Hier het Sir George Grove die volgende opmerking gemaak: “Horace is ‘n hoogs sensitiewe mens en dit strek tot sy voordeel as musikant”.
Aan die Trinity College in Londen verwerf hy sy lisensiaat en word hy Fellow van Trinity College. Hy word lid van Royal Society of Teachers, Incorporated Society of Musicians, London Musicians Club en die Performing Right Society.
Op aanbeveling van Alfred Hollings word hy as orrelis van die St. Augustine Rooms-Katolieke Katedraal in Port Elizabeth aangestel waarna hy in September 1897 na Port Elizabeth vertrek. Prof Barnette se getuigskrif het die volgende bevat: “… he is a musician of great ability, and will be a great acquisition in Port Elizabeth as pianist and teacher.”
In Port Elizabeth laat Horace die Philharmonic Society herleef en kry ook as musiekonderwyser op die personeel van Marist Brother’s College in Uitenhage ‘n aanstelling. Hy het in al die vakke waarin hy opgelei is, onderrig gegee.
Ethel Maude Collett van Uitenhage word in 1905 sy vrou. Sy was lid van ‘n koor waar hy die dirigent was. Na die troue het sy haar musikale aktiwiteite laat vaar en haar op die versorging van haar man en hul dogter, Phyllis, toegespits. Ethel is in 1938 oorlede en Horace het dit sterk oorweeg om terug London toe te gaan, maar het uiteindelik daarteen besluit. Al het Phyllis musiekonderrig ontvang, het sy haar nie daarop toegelê nie. Phyllis trou met mnr Wille, ‘n ingenieur. Vir Horace is ‘n kleindogter en -seun gebore wat in sy grootvader se voetspore gevolg en in 1966 viool in Duitsland gaan studeer. Hy was ‘n begaafde jong man met wilskrag en deursettingsvermoë.
In 1907 het Horace ‘n koor van meer as tweehonderd lede en Britse soliste in ‘n Coral Festival begelei. Gedurende April 1911 het Horace en ‘n orkes op ‘n vyf maande toer deur Suid-Afrika opgetree. Die berigte uit Bloemfontein, Kimberley en Pretoria, vermeld hom as ‘n voortreflike begeleier.
In dieselfde jaar, 1911, bevind Horace hom as orrelis by die Presbiteriaanse Kerk St George Johannesburg. Hy neem die Johannesburg se Mannekoor se leiding oor en word in 1915 musikale direkteur van die Johannesburg Philharmonic Society.
By die Musiekdepartement van die Universiteit van die Witwatersrand was Rosa Nepgen een van sy studente.
Met die koms van die uitsaaiwese in die dertigerjare in Suid-Afrika, het hy radio-uitvoerings gegee waarby hy van sy eie werke ingesluit het.
In 1945 sê Horace dat hy hoop om nooit op te hou met selfstudie nie. Sy oë het egter begin ingee en dit het sy aktiwiteite begin inkort. Hy het daarna slegs enkele studente opgelei en meer tyd aan sy komponering gegee. Skuilname wat hy by sy komposisies gebruik het, is Excalibur en Kleinjan. In dieselfde jaar was hy stigter en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Komponiste, waar hy vir drie jaar die pos as voorsitter beklee het.
Horace was saam met M Fismer, E Grant, A Hallis, FH Hartman, PJ Lemmer, E Marx en DJ Roode, musiekeksaminator.
In Suid-Afrika het hy met die afrigting van kore, oratoria en operas baanbrekerswerk gedoen. Veel van die sukses wat hy behaal het tydens sy lang verblyf in Suid-Afrika, kan toegeskryf word aan sy veelsydigheid as musikus.
Die eerste lied deur Horace Barton is in 1937 deur Nasionale Pers Beperk gepubliseer, maar is waarskynlik reeds in 1936 (vir die honderdste herdenkingsjaar van die slag van Vegkop) geskryf.
Horace Percival Barton is op 17 September 1951 in Johannesburg oorlede.
Ander Afrikaanse digters getoonset
Totius, CL Leipoldt, R Nepgen, W Norman, AG Visser, MC Roode, B de la Porte, TH Matthews, SJM Osborne, MC Botha, TW Jandrell en Die Bybel.
Toonsetting: As Saans