HERMAN WILHELM DE WOLFF
* 25 Februarie 1903, Noordestraat, Rotterdam, Nederland
† 8 Maart 1994, Rotterdam, Nederland
Gedig
Voorjaarslied
Orrelis, dirigent, komponis, uitsonderlike musikus en kunstenaar, perfeksionis
Dit was altyd sommer net Herman of, amptelik, Dr Herman W de Wolff.
Oude Noorden, waar Herman vandaan kom, is ’n egte negentiende eeuse woonbuurt wat gestig is om die oorvol binnestad van Rotterdam met sy smal straatjies en huise wat dig op mekaar staan, lug te gee. Hy het gedurende sy leeftyd ook gewoon in Ooievaarstraat 10 en Rembrandstraat 16, Rotterdam.
Herman se pa was Evert de Wolff, ’n opregte Rotterdammer. Sy moeder was Wilhelmina Geertruida van der Wel, gebore in De Hoesche Waard, Nieuw Beijerland. Nie een van hulle het ’n musikale agtergrond gehad nie.
Vier kinders is uit die huwelik gebore. Maar slegs die twee jongstes, Herman en sy jonger broer Daan, het oorleef. Herman se ma sterf in Desember 1910 en sy pa trou in 1912 met haar suster, Pleuntje van der Wel.
Op vyfjarige ouderdom fasineer draaiorrels vir Herman en tuis doen hy nabootsings van die orrels se dirigent-poppies voor die spieël. Dit was die begin van ’n lang verhouding met musiek.
Herman wou sy musiektalent ontwikkel en op Juliana Skool het hy by die musiek-juffrou klavierlesse ontvang. Hy oefen aanvanklik op ‘n huisorrel van sy oom wat ‘n klavierhandelaar was en kry eers later die geleentheid om te oefen op kerkorrels.
Hy verlaat skool op 31 Maart 1916, al moes hy nog ses jaar gebly het indien hy sy skoolloopbaan sou voltooi. In Augustus van daardie jaar begin hy orrel speel by die Presbiteriaanse Kerk en slaag hy die orreleksamen in eerste klas. Al was almal bewus van sy musikale talent, kon hy nie amptelik aangestel word nie, aangesien hy te jonk was. Toe werk hy maar as orrelbouer by Standaart Kerkorrelbouers, ’n maatskappy in Rotterdam wat tussen 1904 en 1935 orrels gebou het.
Oud genoeg, word Herman in 1920 orrelis aan die Oud Gereformeerde Gemeente en vanaf 1921 is hy vir ses jaar by die Zweedse Kerk orrelis. By die Muziekschool van Toonkunst ontvang hy algemene opleiding van JH Besselaar, orrel-, klavierlesse en musiekteorie by Frits Tollig, komposisie en koorafrigting by WF Kool, sangles by Cornelis van Munster en Piet Ketting leer hom om koordirigent te word.
’n Lied wat hy in 1922 gekomponeer het vir ’n koor waarin hy gesing het, moes hy self begelei op die orrel. Met bestaande tekste van verskeie digters as vertrekpunt, begin hy stelselmatig meer toonset. Hy skryf mettertyd self gedigte - waarvan vele ’n Bybelse agtergrond het - en kinderliedjies word ook nie afgeskeep nie. Die eerste publikasie van sy werk is in 1924 by die drukkers De Harp in Amsterdam. Van sy musiek is ook verewig op plate. Begeleiding van volwasse- en kinderkore volg en in 1923 dirigeer hy die Julianakoor en Rotte's Christelike Gemengde Koor. By die Sangvereniging ontmoet hy die sopraan Kladina Zeilstra, wat na 'n verlowingstydperk van byna 3 jaar aan hom ewige trou beloof. Hul huwelik op 1 Augustus 1928 was die eerste in die Nassaukerk. (Interessantheidshalwe: die laaste huwelik wat jare later in die Nassaukerk voltrek is, was die van Herman se kleindogter, Ankie van Veen en haar man Hans de Bruine).
De egpaar De Wolff het die grootste gedeelte van hul getroude lewe in Willibrordusplein 6, in die Oude Noorde in Rotterdam, gewoon. Drie kinders is uit die huwelik gebore.
Herman se eerste groot werk as dirigent was in 1926: die Schöpfung van Hayden. Hy word hierna gevra om as beoordeelaar op te tree by musiekkonserte en dit word ’n permanente komponent van sy lewe. Een gedeelte van sy opdrag as beoordelaar behels dat hy aanbevelings aan kore doen te einde hul standaard te verbeter - wat hom groot genoegdoening verskaf.
Op 19 September 1927 word Herman orrelis van die nuutgeboude Nassaukerk aan die Kleiweg in Hillegersberg. Hierdie orrelispos het hy beklee tot die kerk na een en sestig jaar in 1988 gesluit het. Die gemeente was so geïnspireer deur sy orrelspel dat mense van heinde en verre kom luister het.
Na ’n radio-opname een Sondag, word hy aangespreek deur ene ds Couvée, omdat hy met die trein na die opnameateljee gery het – treinry is onfatsoenlik!
In dieselfde jaar (1927) word hy dirigent van Ex Animo in Leiden, ’n koor waarby hy meer as vyftig jaar betrokke was en het ook ’n kinderkoor onder sy bekwame hand gedirigeer. Saam met Ex Animo word vyftig uitvoerings van die Matthias Passie gegee. Hierdie uitvoerings beskou hy as sy lewenswerk. Die laaste huwelik wat in die Nassaukerk voltrek is, was Herman se kleindogter, Ankie van Veen en haar man, Hans de Bruijne.
Gedurende die oorlog het dienste soos gewoon voortgegaan. Die orrel is weliswaar met die hand gepomp. As daar “Duitse gevaar” naby gekom het, het die onderduikers in die kerk binne-in die orrel geskuil. Herman met sy sterk anti-Duitse gesindheid was erg besorgd oor “sy” orrel toe ’n Duitser een maal die orrel wou speel. Onder in sy musiekkis met musiek boeke was naamlik die kerk se waardevolle voorwerpe verdoesel... In die na-oorlogsjare het hy met groot entoesiasme aanhou kore begelei.
’n Besonderse optrede met ’n koor uit Schiebroek het by die Soesdijk Paleis voor Koningin Juliana plaasgevind. Hulle het die lied De zon schijnt in mijn ziel vandaag, uitgevoer. Die Koningin het self die vertaling van die lied gedoen.
Afgesien van die Ex Animo koor lei Herman vanaf Junie 1930 sewe volwassekore en drie kinderkore, met die gevolg dat hy weinig saans tuis was, en dinge dikwels dol gegaan het - hy draf veral gedurende die Kersseisoen van die een van die een koor na die volgende. Die kore sing ook van sy eie komposisies. Vir die kinderkore skep hy sangspel, musiekblyspele, opvoerings met ’n storie, verskillende bedrywe met aangepaste dekor en kostuums.
Inspirasie vir die musiekblyspele kom gewoonlik uit die natuur se seisoene. Voorjaarslied van AD Keet, wat Herman getoonset het, dien as voorbeeld. By die Sinterklaasoptog op die Coolsingel in Rotterdam dirigeer hy kinderkore vir vyf en twintig jaar. Op Bergpolderplein het Herman heelwat tyd verwyl om na die straatpredikante wat op seepkissies staan en heil verkondig te luister.
Herman het die derde druk van die Sendingliedere Bundel verwerk en versorg.
Duitsland en Switserland was die Wolff’s se geliefde vakansielande en as daar ’n kerk met ’n interessante orrel besoek kon word, het hy altyd probeer om daarop te speel of ’n Sondag kerkdiens te lei met orrelspel.
In 1984 verhuis die De Wolff’s na ‘n woning op die boonste vloer in die Borghave aan die Wilgenlei.
Tot op ’n baie hoë ouderdom het hy homself besig gehou met musiek. As tagtigjarige dirigeer hy nog enkele kore vir bejaarde persone– nie vir die geselligheid, maar om die hoogste kwaliteit van sang te bereik – waaroor die koorlede nie altyd dankbaar was nie!
Op vier en tagtig dirigeer Herman in Leiden koraalmusiek ter ere van Leiden se vryheid. Van sy geliefde Nassaukerk orrel moes hy op vyf en tagtig afskeid neem toe die kerk finaal sy deure sluit.
Demensie het in sy laaste jare die lewe moeilik gemaak en op 8 Maart 1994 is hy op een en negentig oorlede. Herman is langs Klazina te ruste gelê by die Hillegondakerk in Rotterdam.
Sy musiek word vandag nog uitgevoer.
Herman de Wolff met sy kinderkoor
Trouw/Kwartet, 28 Februarie 1979
Toonsetting: Kinderlied / Voorjaarslied