Hendrik Johannes JOUBERT

HENDRIK JOHANNES JOUBERT - Hennie

* 27 Desember 1926, Bellville, Wes-Kaap, Suid-Afrika

† 16 April 1986, Laingsburg, Wes-Kaap, Suid-Afrika

Gedigte

Ek hou van Blou, onopspoorbaar
Slagvaardig, onopspoorbaar

Solo-pianis, skrywer, administrateur, kamermusiekpianis, liedbegeleier, orrelis, komponis en beoordelaar, uitstekende klavieronderwyser, leergierig, deeglik en verstandelik uiters hoog begaafd

Hennie Joubert aan die woord: “Jy sien, toe ek 14 jaar oud was en ek begin grootkop kry, het ek ‘n werk van taamlike omvang met ‘n stel variasies gekomponeer en trots en byna verwaand dit aan my destydse leermeester gegee. Nadat hy daarna gekyk het, het hy voor my kom staan en gesê: ‘So, jy dink jy is Beethoven!’ Dit was die einde van my grootheidswaan.”

Hendrik Johannes Joubert is op 27 Desember 1926 in Bellville gebore. Hy was die derde kind van Hendrik Johannes Joubert (oorlede 1948) en Anna Susanna Olivier. Die res van die gesin het bestaan uit Willem Adolph, Nicolaas Jacobus, Stephanus en Anna Susanna Gertruida.

In Januarie 1932 is Hennie Joubert ingeskryf as leerling aan die Laerskool Bellville. Reeds op hierdie vroeë ouderdom het sy ma hom gereeld in die badkamer aangetref waar hy op die bad se rand sit en tik het. Op die vraag waarmee hy dan besig is, was sy antwoord: Ek speel klavier. Na aanleiding hiervan is hy deur 'n plaaslike musiek-onderwyseres getoets en as hoogs musikaal bestempel. Aangesien die gesin nie 'n klavier besit het nie, is een teen £35 aangekoop.

Op agtjarige ouderdom het Hennie met formele musiekonderrig begin. Sy eerste musiekonderwyseres was Connie Townsend. In 1937 het hy die Elementêre Klaviereksamen, Graad II, van UNISA afgelê. Gedurende sy Standerd 5 jaar het hy die Pre-liminêre Teorie Eksamen van UNISA aangedurf, maar nie geslaag nie. Hy het weer probeer en met eervolle vermelding geslaag. In die jare aan Hoërskool Bellville het hy al sy musiekeksamens geslaag.

Hy het aan verskeie Eisteddfods deelgeneem, met beoordelaars onder andere J van Niekerk en W Swanson. Afgesien van sy musiek, wat ‘n naskoolse aktiwiteit gebly het, het hy ook aan sport deelgeneem. Hy het tot junior kampioenskappe van die Westelike Provinsie Atletiek Vereniging in hoogspring vir seuns onder vyftien gevorder.

Op 24 Augustus 1943, gedurende sy matriekjaar, het hy die Finale Klaviereksamen, Graad VIII van UNISA, met lof geslaag. Hennie het sy matriek met Afrikaans, Engels, Fisiologie, Gesondheidsleer, Aardrykskunde, Geskiedenis en Duits, geslaag.

Na matriek het hy in 1944 met ‘n BA kursus in tale aan die Universiteit van Stellenbosch (US) begin, maar verander sy kursus na BMus. Hierdie kursus, in klavier en orrel, het hy met onderskeiding onder M Fisher geslaag. B van Brakel het gehooropleiding gegee, en E Lubbe het hom kontrapunt en harmonie geleer. W Swanson het hom oor komposisie wysgemaak. Hennie se voordraerslisensiaat-eksamen het voor PJ Lemmer, DJ Roode en A Hallis afgespeel.

Met ‘n musiekbeurs van UNISA het hy gelukkige jare in Europa deurgebring. Sy terugvaart na Suid-Afrika was op die Athlone Castle en hy werk as lektor by die Universiteite van Potchefstroom en US. Verdere studie in het Londen gevolg. Met sy terugkeer uit Londen aanvaar hy ‘n betrekking as onderwyser aan die Hoërskool Bellville.

In 1954, word hy hoof van die NG Kerk se musiekskool in Heidelberg, Transvaal. Hy rig kore af, is orrelis, gee musiekopleiding en komponeer.

UNISA vra hom in 1959 om te eksamineer. Hulle was so beïndruk dat hulle aan Hennie ‘n beurs toeken om eksamenstelsels oorsee te gaan ondersoek. UNISA het hom later weer Europa toe gestuur om in Frankryk, België, Nederland, Engeland en Duitsland klavieruitvoerings te gaan lewer, met die klem op Suid-Afrikaanse komposisies.

Hennie vertel dat hy tydens ‘n draai in Japan ‘n spektakel van homself gemaak het. Die jong skoolgaande Japannertjies het spesiaal vir sy besoek Die Stem aangeleer om hom te verwelkom en met ‘n voet-glipsie slaan hy toe neer dat die kranse antwoord gee!

Terug in SA in 1960, vestig Hennie hom in Suidoos-Pretoria waar hy vir dertig jaar as orrelis optree.

Wêreldberoemde kunstenaars het hom geloof, onder andere Montserrat Cabellé wat na ‘n eerste repetisie hom gekomplimenteer het: You know, we understand each other – we don’t need another rehearsal. Sy het ‘n roos uit haar ruiker gehaal en met ‘n omhelsing aan Hennie gegee. Die meerderheid Suid-Afrika se kunstenaars van sy tyd is op ‘n stadium deur Hennie begelei.

Hennie was ook ‘n goeie spreker. Hy was Joubero Malherbe se eerste ateljeegas met die uitsending van die program Musiekposbus vir die SAUK.

Die blad Musicus, was sy breinkind. Suid-Afrika se Departement van Buitelandse Sake het hom gevra om by ‘n internasionale musiekkompetisie in Montevideo beoordelaar te wees en so kry Hennie se droom om ook hier te lande ‘n internasionale musiek-kompetisie te loods vlerke. In 1982 word die droom bewaarheid, met borge en gebruik van UNISA se lokale. In die Pretoriase dagblad, Hoofstad, het hy artikels oor musiek en resensies oor uitvoerings die lig laat sien.

Joubert het in 1979 'n spesiale eretoekenning van die FAK ontvang vir sy omvangryke en diepgaande invloed op die musiekonderwys in Suid-Afrika.

Hennie Joubert sterf in ‘n motorongeluk in Laingsburg op 16 April 1986. Hy is te ruste gelê vanuit die NG Moederkerk Bellville op 23 April 1986.

Twee dae na sy afsterwe is 'n ere-doktorsgraad deur die Universiteit van Port Elizabeth aan hom toegeken. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hom postuum vereer met ‘n erepenning vir musiekbevordering.

Prof Theo van Wijk, Rektor van UNISA, skryf in sy In Memoriam: Hennie Joubert was een van die merkwaardigste persone wat ek geken het, ‘n minsame persoon, talentvol en toegewyd. Met sy kenmerkende beskeidenheid sou hy verleë gevoel het oor ‘n eerbetoon. Hy het nie erkenning gesoek nie, erkenning het hom gesoek. Die eregraad was ryklik verdien. Sy aansteeklike idealisme en entoesiasme het ook aanleiding gegee tot die aanbieding van die internasionale musiekkompetisies. Vandag geniet die Suid-Afrikaanse musiekkompetisies wêreldwye bekendheid. Hennie Joubert se heengaan laat die musieklewe in Suid-Afrika baie armer. Ons is egter oortuig dat wat hy gedoen het, blywend sal wees en ‘n besieling vir almal wat sy werk sal probeer voortsit. UNISA het besluit om ‘n Hennie Joubert-prys in te stel wat toegeken sal word by toekomstige Internasionale Klavierkompetisies, Pretoria.

Die Hoërskool Bellville, waar Hennie in 1943 gematrikuleer het, het ten tye van hul 75ste verjaardag die skool se musiekdepartement na wyle professor Hennie Joubert vernoem.