HENDRIK CHRISTIAAN VAN OORT - Henk
* 28 April 1873, Utrecht, Nederland (populasie in Nederland 1873: 4 miljoen siele)
† 26 of 28 Augustus 1953, Soest, Baarn, Nederland
Gedigte
Sonnedaal
Klaas Vakie
Kinderlied
Sneeu
Skrywer, bas-bariton, pianis, skilder, komponis en musiekdosent
Die goudsmit Johan van Oort (1848-1911) en Johanna Geertruide Alida Ditmarsch (1849-1930) ‘n vroedvrou, se kinders was Johan, Christina Helena (Tia) en Hendrik Christiaan (Henk).
Henk se eerste huwelik was met Helena Sophia Wilhelmina Hauer (1875-1944) op 20 Julie 1899, maar die huwelik verbrokkel en hulle skei in Augustus 1915.
Die volgende maand, op 1 September 1915 op twee en veertigjarige ouderdom, trou Henk met Wilhelmina Charlotte Elisabeth Anna (Mien) Braakensiek (1889-1966). Twee kinders, Johan (Jan) en Coenradina Petronella (Cok) word gebore. Henk het sy musikale gene aan sy seun Jan, met die verhoognaam Jean Dulieu (1921 – 2006), oorgedra. Jan het musikus geword en was in 1943 tweede violis van die Amsterdamse Concertgebou. Hy was ook ‘n skrywer van kinderboeke en het onder sy verhoognaam gepubliseer.
Henk en Mien se paaie skei mettertyd en hy gaan sy derde huwelik aan met Annetje Beets (1888-1987).
Aan Anna Fles kom al die eer toe vir die ontdekking van Henk se sangstem. Deur haar bemiddeling het hy opleiding by die bekende pedagoog Aaltje Noordewier-Reddingius ontvang. By die Muziekskool der Toonkunst studeer hy klavier onder C Wirtz en musiekteorie en komposisie leer hy by J Wagenaar. Sangopleiding het hy van J Messchaert ontvang.
Vanaf 1903 tot en met 1929 sing hy 73 maal in die Amsterdamse konsertgebou met die Concertgebouw Orkest met Willem Mengelberg as begeleier.
Na die ontvangs van sy pianisdiploma, eerste graad en met onderskeiding, maak Henk sy debuut met ‘n klavierkonsert van F Mendelssohn. Vanaf 1906 tot 1936 was hy hoofleraar in solosang aan die Konservatorium van Amsterdam. Henk kon gehoor word in operas van J Rontgen, P Cornelius en J Wagenaar. ‘n Konsertreis deur Wes-Europa as liederen- en oratoriumsanger volg.
Henk Van Oort skep die feeslied vir gemende sangkoor en klavierbegeleiding vir die huweliksbevestiging van Haar Majesteit Koningin Wilhelmina van Nederland met Hendrik van Mecklenburg-Schwering in 1901.
Vir die tweeweeklikse tydskrif vir koorsang, volksang en kindersang vir die Nederlandse sanger en sangverenigings, Zingende Stemmen, was hy ‘n medewerker. Die redakteur van die tydskrif was JPJ Wierts. Dirk Jan Brinne het vir Henk van Oort en HW Wolff geken deur hul gedeelde belangtelling in en liefde vir musiek.
Op Dinsdag 24 Augustus 1926 verskyn ‘n koerantberig in die Bijvoegsel van Radio-Expres dat Sonnedaal – gedig deur Keet en getoonset deur Van Oort - in ‘n program van Radio Hilversum uitgesaai sou word. Ander liedere op daardie program was van Bach, Schubert, Heine, Gevers, Guido Gezelle en Kallenbach.
Met die onverbiddelike koms van die ouderdom het Henk se sig verswak, maar hy het aanhou komponeer. Hy was ook sy hele lewe lank ‘n aktiewe skilder. Van die Nederlandse koningshuis het hy die Ridderskap in die Orde van Oranje Nassau ontvang.
Met sy dood in Augustus 1953 is hy veras in Westerveld te Driehuis, waar daar jaarliks ‘n musiekkonsert aangebied word wat deur duisende mense bygewoon word.
In Stadsnieuws (1950) skryf ‘n resensent oor Hendrik se veelsydigheid “... de wijze waarop hij deze rollen vervulde, zouden doen vermoeden, dat de opera het eigenlijke terrein van Van Oort was. Zijn stem klonk van het toneel af zo zwierig, dat men moet erkennen, dat in hem een voortreffelijk operazanger verloren is gegaan ... "
Ander Afrikaanse digters getoonset
Klein Jan, JFE Celliers
Pentekening: Die Huisgenoot 22 November 1946
Brief van Keet aan Bouws, 7 Mei 1961
Leeuwaarder Courant 12-3-1941
Toonsetting: Kinderliedjie
Toonsetting: Klaas Vakie
Toonsetting: Sonnedaal
Toonsetting: Kinderliedjie
Toonsetting: Kinderliedjie