Hayden Thomas MATTHEWS (Johannes Joubert)

HAYDEN THOMAS MATTHEWS - Johannes Joubert

* 15 Augustus 1894, Llanwonno, Glamorganshire, Wallis

† 14 Augustus 1958, Johannesburg, Suid-Afrika

DIE BRANDWAG, 6 Oktober 1938

Gedigte

Sing uit jou lied (1934)
Maar één Suid-Afrika
Amsterdam (1938)

Komponis, musiekopvoedkundige en skrywer van die geskiedenis van die SA Noodhulpliga

Hayden Matthews se skuilnaam is saamgestel uit Johannesburg en Joubertpark: Johannes Joubert.

Sy ouers, Jacob en Elizabeth Thomas Matthews het die tekens van hul spruit se buitengewone musikaliteit op ‘n jong ouderdom raakgesien en al het die gesin dit nie breed gehad nie, het sy ouers probeer om sy talent te bevorder. Hy is met behulp van beurse onderrig en op tienjarige ouderdom tree hy al op as orrelis - twee jaar later het hy die Baradag-toekenning verower, wat die weg na die Universiteit van Cardiff oopgemaak het. Kort na sy sestiende verjaarsdag het hy ‘n tweede en groter beurs verower, wat studies aan die Royal College of Music in Londen moontlik gemaak het.

Sy dosente was H Sharpe: klavier; Garcia: sang; A Boult: dirigering. H Parry en CV Stanford het hom in komposisie opgelei.

Kort voor die begin van die Eerste Wêreldoorlog het hy ‘n beurs vir sang verower. Hy het verskeie aanbiedinge uit Australië en Kanada van die hand gewys en verkies om met die Kaapse Onderwysdepartement te onderhandel. Op vyf en twintig het hy na Suid-Afrika emigreer. Aan boord van die Armadale Castle het hy geweet hy sien nooit weer sy tuisland nie. By die Grahamstadse Onderwyskollege het hy lesings in skoolsang gegee. Alhoewel hierdie tyd nie bevredigend was nie, het dit hom voorberei vir die res van sy loopbaan.

Klaarblyklik het hy teen 1925 besluit dat Oos-Londen verkieslik was bo sy werk aan die Kollege in Grahamstad. Gedurende sy verblyf in Oos-Londen (1926 – 1929), het hy F Moeller se orkes gedirigeer en ook by filmvertonings voorgespeel. In 1929 het hy uitvoerings by die National Eisteddfod in Johannesburg beoordeel en besluit om saam met sy vrou, Anna Roberts, en gesin na die Goudstad te verhuis. Hy het die gesin se finansiële posisie in stand gehou deur onderwys in sang, viool, klavier en musiekteorie te gee en deur sy komposisies te verkoop.

Tydens die Groot Depressie het hulle na aan die broodlyn geleef. Gedurende die dertigerjare het die skaarste aan Afrikaanse liedere onder sy aandag gekom en hy het liedere uit Engels na Afrikaans laat vertaal. Dit is in hierdie tyd dat hy sy skuilnaam begin gebruik het.

Hy het die voortou geneem met die stigting van die South African Music Company om sy eie en ander Suid-Afrikaners se werk in Engeland te laat druk en om die verspreiding daarvan in Suid-Afrika te hanteer. Om die bande met Suid-Afrikaanse musiek verder te versterk het hy ‘n stigterslid van die Vereniging van Suid-Afrikaanse Komponiste geword.

In 1934 het hy sy eie liedere self gesing en laat sing deur die Castalides Vereniging van die Universiteit van Pretoria – die funksie was ter verering van JBM Hertzog. Hy het ook ‘n rol gespeel in die iJohannesburg Music and Dramatic Society.

In 1945 het die Anglikaanse Sendingskool van St. Matthew, geleë in die Amatola Berge sowat ses kilometer vanaf Keiskammahoek, hom gevra om dosering van musiek waar te neem. ‘n Aantal komposisies in sy eie handskrif op Xhosawoorde in die Engelse kerkstyl het bewaar gebly.

In 1947 het die SAUK die eerste Suid-Afrikaanse nasionale komposisiekompetisie geloods, met ‘n totale prysgeld van R200. Vyfhonderd en tien inskrywings is in drie afdelings vir orkes- en koorwerke, kamermusiek, asook liedere en komposisies vir solo-instrumente ontvang. Die beoordelaars was E Chisholm en PR Kirby. In die instrumentale kamermusiekafdeling is die eerste prys van R160 aan Hayden Matthews toegeken. Op 29 Mei 1948 het die SAUK ‘n reeks omvattende radioprogramme met uitsluitlik Suid-Afikaanse musiek uitgesaai en Matthews se musiek was deel daarvan.

Nadat hy in 1953 afgetree het, gaan hy na agt jaar weer terug na Johannesburg en het weer met privaat onderrig begin en aan die Queen’s High School in Kensington klasonderwys gegee.

In 1958 het hy aan ‘n koronêre trombose beswyk.

Uit ‘n brief van Keet aan sy seun gedateer 18 Oktober 1959, skryf Keet: “...en Donderdagaand aanstaande om 8.15 luister na Sing uit jou lied, gesing deur Philip Markgraaff (musiek van Johannes Joubert met orkesbegeleiding van Anton Hartman). Dis ‘n kunsteraar wat julle seker nog nie gehoor het nie.”

Sing uit jou lied van Johannes Joubert verskyn op Mimi Coertse se sanglys.

Ander Afrikaanse digters getoonset

TW Jandrel, CL Leipoldt, CFE Cilliers, CF Visser, H Postman, AG Visser, JRL van Bruggen, J van Broekhuizen, PH Langenhoven, Eitemal, E Marais, CJ Langenhoven, WJ du P Erlank, Joh. Du Toit, DF Malherbe, P de V Pienaar, PJ Kloppers, DEA Gutsche, J Bennie, G Mes, R Hol, GRA Moll en ‘n Anonieme skrywer.

Brief aan Keet

Toonsetting: Sing uit jou lied