Gisela DE VILLIERS

GISELA DE VILLIERS

Nog op die onder maanse

Gedigte

Ek hou van Blou
Muskietejag, wat nie opgespoor kon word nie

Gisela vertel van haar lewensreis tot dusver

“Ek het mooi gedink, hierdie is nie die plek vir ‘n droewige koue CV nie. Dis ‘n kennismaak, ‘n gesels.

Ek is ‘n komponis, koordirigent, pianis en kabaretsangeres. Na voltooiing van die grade en die lisensiate en al die nodige papiere jare gelede, het die regte musiek-maak begin. Alles in my lewe draai daarom: ek hoor en sien klanke en klankpatrone om my, reeds van kleins af. Maar om nou minder esoteries te klink: my kore was onder andere by die Afrikaanse Hoër Meisieskool, Verre Noord Jeugkoor en Hoërskool Waterkloof.

Die afgelope jare is ek nasionale beoordelaar vir ATKV Applous en verskeie kunswedstryde landswyd. Ek gee ook meesterklasse in Duitsland en Italië.

My komposisies word wyd gebruik; van die meer bekendes is: “Die eggo van jou oë” en Lied 518 in Die Liedboek van die Kerk, “Voel jy soms of die Here te ver is”. Ook die woorde van die liedere is deur myself geskryf.

Ek skryf meestal my eie tekste, maar wat ‘n vreugde is dit, as mens wonderlike digters se werk leer ken, wat inspireer en mens dan soveel wyer en vryer laat swerf en dink. “Ek hou van Blou” was een daarvan.

Dit sal te veel en te vervelig wees om al my werke, hoogtepunte en omswerwinge hier te noem. Enkeles bly altyd by my: die uitvoering van die sangsiklus “Winterreise” deur Franz Schubert in Praag, met my man, Robert Brooks, as solis. Die klavier was ‘n doelgemaakte Bosendörfer en dit was ‘n eenmalige wonderlike geleentheid in ‘n sprokiestad. En dan, groot kontras: my kabaret in die knus Eden Bar in die hartjie van Wenen, met sy tradisionele fluweelstoele, sagte lampbeligting oral en die kabaretverhogie in die middel, naby die gehoor. ’n Droom venue, wat al menige groot naam se tuiste was.

Maar genoeg daarvan! Ek is (by die skryf van hierdie bydrae) die ma van drie seuns (lankal reeds manne), het twee pragtige skoondogters en drie kleinkinders. My man is ‘n Oostenryker, en ons pendel tussen Pretoria en Wenen. Soos ek hier sit en gesels met jou, kyk ek uit op my tuin, wat oordadig blom na die genadige reën.

Om my is my musiekboeke, my vleuelklavier, my skilderye wat my deur die jare vreugde gee, en boeke en boeke. Die bure se gemmerkat kom kuier gereeld.

Ek is dankbaar vir lewe en vir sagte woorde om my. Dis tog al wat saak maak…….”

Toonsetting: Ek hou van Blou