GERRIT BON
* 9 November 1901, Amsterdam, Nederland
† 1983, Harare, Zimbabwe
Gedigte
Sneeu
Winter
Verlange, 1930
Gerrit se vader, Gerrit Bon snr, was musikaal en het, saam met sy moeder ‘n deeglike grondslag vir sy loopbaan gelê. Na vyf jaar as vioolleerling by Harold Ketelbey, het hy onder leiding van Jos de Groen homself begin toelê op die hobo. Willem de Vries en Leon Bouwman het tot sy verdere vorming bygedra.
Sy studieveld het die regte, letterkunde, klavier, viool, orrel en komposisie ingesluit. In 1915 ontvang hy die diploma in orrel en hy word op sestienjarige leeftyd as die jongste orrelis in Nederland by die Lutherse Kerk van Nijmegen aangestel. In 1918 word hy as koordirigent en hulporrelis in Amsterdam aangestel waar hy verder onder Evert Comelis studeer.
Op twee en twintig het Bon egter sy studie in Nederland gestaak en na Suid-Afrika ge-emigreer om in Pretoria ‘n bestaan as klavier- en orrelonderwyser te maak.
Op die ouderdom van agt en twintig het Bon in die eerste uitgawe van Die Nuwe Brandwag ‘n artikel genaamd Musiek in Suid-Afrika gepubliseer.
Van 1924 - 1928 was hy by die NGK Pretoria-Oos orrelis. Nadat die nuwe groot orrel in die nuwe Pretoriase Stadsaal ingebou is, het hy begin met weeklikse orreluitvoerings wat gelei het tot sy aanstelling as stadsorrelis in 1938.
Toe Petrus van den Burg se ASAF-Koor in 1926 ontbind is, het Bon die gemengde Zanglust koor gestig en dit tot 1943 gelei. Die Johannes Passie van Bach is gedurende die Bach-jaar in Bon se eie Afrikaanse vertaling gesing en opgevoer in die Pretoria-Oos NG Kerk.
Bon is aanvanklik as deeltydse lektor en met ingang van 1935 in voltydse hoedanigheid aan die Normaalkollege Pretoria (Onderwyskollege) aangestel. Sy pligte het die gee van lesings oor musiek en skoolmusiek ingesluit. Bon het Die Kollegelied, met woorde deur CF Rudolf, getoonset.
Bon het ook buitemuurse klasse begin aanbied en die Erato-koorvereniging (studente) gestig. Hierdie koor is met die Zanglustkoor geamalgameer vir groter uitvoerings. Hy is in 1933 in beheer van die musiekdepartement aan die Universiteit van Pretoria aangestel. Hierdie pos het in 1936 ten einde geloop toe die departement opgeskort is.
Bon het intussen sy musikale studies voortgesit en in 1933 die diploma FRCO en in 1946 die graad BMus aan die Universiteit van Durham in Engeland verwerf. In 1944 word hy die komponis van die eerste Afrikaanse Oratorium.
Sy loopbaan as orrelis het in 1950 ‘n hoogtepunt bereik toe hy in die Bach-jaar ses en twintig opvoerings van die meester se orrelwerke in die Presbiteriaanse Kerk in Pretoria gelewer het.
Gerrit Bon was saam met E Chisholm, PJ Lemmer en J Schulman beoordelaars van musiek vir die Jan van Riebeeck Feesprogram in 1952. In 1957 is Bon na Holland waar hy sy studie onder Jaap en Haakon Stotijm voortgesit het.
In die instrumentale kamermusiek genre het Bon twee trio’s en kwartette vir verskillende instrumentale kombinasies en tydsduur gekomponeer. In 1957 ontvang hy internasionale erkenning vir hierdie werk, uitgevoer deur die Röntgen-strykkwartet oor Hilversum radio Nederland. In 1963 verhuis hy na Zimbabwe (destyds Rodesië) maar sit sy werk in Suid-Afrika en Europa voort.
In Suid-Afrika het hy ‘n betrekking as derde hobospeler van die SAUK simfonieorkes aanvaar en het mettertyd eerste hobospeler van die orkes geword. Sedert 1972 is hy senior lektor vir blaasinstrumente aan die musiekdepartement van die destydse Natalse Universiteit in Durban.
Vanaf 1977 tot 2011 was Bon orrelis van die NG Kerk in Pretoria terwyl hy in Zimbabwe woonagtig was. Op sy afskeidskonsert het hy werke van Sweelinck, Bach, Andriessen en Guilmant gespeel.
In die destydse Rhodesië het Bon met dinamiese geesdrif as orrelis, koorleier en musiekdosent aan byna elke vorm van ernstige musiekbeoefening in die hoofstad meegewerk. By die Universiteits Kollege van Rhodesië en Njassaland was hy musieklektor en terselfdertyd ook orrelis van die Katedraal. In Salisbury (Harare) het hy volledige uitvoerings van al die Bach orrelwerke gelewer.
Na die dood van sy vrou, Maria Helena Getruida Barnard in 1963, tree hy in 1965 in die huwelik met Dulcie Bell, die Rhodesiese komponis van klaviermusiek. Dulcie was hoogs aangeskrewe as uitgewer van die Zimbabwe Society of Music Teachers tydskrif.
By die Katedraal het hy sy loopbaan as orrelis voortgesit en teen 1975 onder die opskrif Vier Eeue Orrelmusiek ongeveer twee honderd en vyftig uitvoerings gegee. Verder bestee hy heelwat tyd aan musiek-wetenskaplike navorsing oor Bach en Mozart.
Op verskilllende stadiums van sy loopbaan was Bon voorsitter van die SA Raad vir die Bevordering van Musiek, leier van die Pretoriase Bach-vereniging, voorsitter en lid van die Afrikaanse Kerkmusiekvereniging, ondervoorsitter van die Radioraad en Redaksielid van Res Musicae. Hy was ook voorsitter van die YMCA, president van die Rotary en verkose president van die SASMT.
Bon was op vele vlakke betrokke by die FAK. Van sy komposisies is opgeneem in die FAK Sangbundel en hy was ook betrokke by die keurkomitee se toonsetting van Die Stem, saam met PJ Lemmer, P Kirby en J Connell.
Op een van die plate wat die FAK in 1932 opgeneem het, verskyn Bon se toonsetting van Was ek ‘n sanger waaroor IM Lombaard, Algemene Sekretaris van die FAK, die volgende opmerking maak: “In hierdie nuwe, opgewekte sangstuk van G Bon, die talentvolle Pretoriase musikus, laat hy sy sonore stemgeluit en volmaakte uitspraak op hul beste hoor.”
Bon se oeuvre het uit ongeveer tagtig komposisies, strykkwartet en ‘n opera bestaan. In 1952 het hy Suid-Afrika by die UNESCO konferensie in Venesië verteenwoordig as korrespondensielid van die Wêreldraad van Musiek. “On behalf of the General Post-War Cultural Research of South Africa he (Gerrit Bon) visited Britain, France, Italy, Germany and Scandinavia, and received the Queen’s Coronation Medal for this work.”
‘n Radionuusberig in Nederland van 14 Januarie 1938 lui soos volg: “Goedenavond Dames en Heeren, Nieuwsberichten van het Algemeen Nederlandsch Persbureau A.N.P.: Ook in Zuid-Afrika leeft men sterk mede met de aanstaande blijde gebeurtenis aan het Hof in het Oude Moederland, zoodra het heugelijke nieuws bekend zal zijn, word teen groot vreugdevuur ontstoken en de bekende Zuid-Afrikaansche componist, professor Gerrit Bon heeft een orgel-compositie aan prinses Juliana opgedragen.”
DIC de Villiers spreek hom soos volg uit oor Gerrit Bon in die Afrikaner se musiekprestasie gedurende die afgelope kwarteeu:
“Ons as Afrikaners durf nie die werk van die groot aantal Nederlandse kerkorreliste wat, veral na die jongste wêreldoorlog, na Suid-Afrika geëmigreer het, geringskat nie. Ons stem nie altyd met hulle saam oor die inkleding van hul Psalm- en Gesang-begeleidings nie, ook nie oor hul weiering soms om hulle by die Afrikaanse kerkorrel gebruike in te skakel nie, maar een ding is seker: mense soos G Bon, W Zorgman, H van Eck en baie ander dwing ons bewondering af vir hul hoogstaande tegniese vaardigheid voor die orrel, hul improvisatoriese vermoë, hul wakkerheid om orreliste-konferensies te hou, hul deeglike kennis van orrelbou en die onverbiddelikheid van hul musikaal-etiese standaarde.”
In die tydskrif Vir die Musiekleier van Januarie 1984 word Gerrit Bon geloof as een van Suidelike-Afrika se groot musiekfigure.
Gedigte van Keet wat Gerrit Bon getoonset het, is Verlange, Winter en Sneeu – al drie klaarblyklik getoonset in 1930. Nie een van die komposisies was opspoorbaar nie, maar dit word wel bespreek in Potgieter se tesis van 1967.
Gerrit Bon is in Harare oorlede.
Ander Afrikaanse digters getoonset
CFR Mostert, T van den Heever, E Marais, JFE Celliers, Van Bruggen, W Bennett, A Drese, CFL Leipoldt, Totius, AG Visser, T Wassenaar, JS Barnard, ID du Plessis, D Mostert, A Bender-Brink, E Hullebroeck, Boerneef, G Fagan, DIC de Villiers, WEG Louw, C Lamprecht, GG Cillié, SJM Osborne, E Eybers en JRL van Bruggen, asook die Bybel, Gesange en Psalms.
Zuid-Afrikaansche maandblad voor de culturele en economische betrekkingen tussen Nederland en Zuid-Afrika, JG 16, 1939, p 28:
“Prof. Gerrit Bon van Pretoria heeft in een referaat op de vergadering van de S.A. Akademie geklaagd over gemis aan muzikale cultuur onder te Afrikaners en over den hachelijken toestand van de Afrikaansche volkzang. Bij het Eeuwfeest waren er maar vier liederen, die het publiek kon aanheffen om aan gemeenschappelijke ontroeringen uiting te geven: “Die Stem van Suid-Afrika” en het Transvaalsche volkslied.
Prof. Bon vroeg waarom aan den musicus niet een grooter plaats wordt ingeruimd bij het regelen van feestelijkheden; waarom de onderwijzers niet beter worden voorbereid tot het geven van zangonderwijs. Andere deskundigen en belangstellenden hebben verklaard geheel met hem in te stemmen, maar zij gaven ook als hun meening te kennen dat bij den ossenwagentrek het publiek niet alleen groote behoefte aan gemeen-schappelijken zang heft getoond, doch zich ook reeds verschillende tot nu toe weinig bekende liederen heeft eingen gemaakt. Het gaat er nu maar om deze neiging leven te houden en te veredelen. De F.A.K.-bundel geeft een schat van goede liederen en op “braaiveis aande’ kan men te zamen oefenen. De tijd der “picnic-liedjies” moet voorbij zijn. Hoe kunnen wij in Nederland, waar het met den volkzang ook altijd nog maar niet wil vlotten deze moeilijkheden en deze behoefte aan verbetering begrijpen!”
Anp Nieuws Bericht, 14 Januarie 1938
The SA Music Teacher, Oktober 1983