ERNST LöWENHERZ
* 18 Oktober 1874, Hamburg, Noord-Duitsland
† 13 Julie 1958, Johannesburg, Suid-Afrika
Gedig
Aandmymering / Op die stoep van ‘n boereplaas, 1930, Publ: E Löwenherz, Jhb 1949, sangstem en klavierbegeleiding.
Ernst was komponis en violis
Ernst het as begaafde kind met toononderskeidingsvermoë grootgeword in ‘n Ortodoks-Joodse huis. Sy grootvader het aan hom ’n Stradivarius-viool geskenk, maar sy vader het besluit om sy seun as vakleerling by ‘n optikus in te skryf, voordat hy vir opleiding in elektrotegniese ingenieurswese na Hanover gestuur is. Ernst het in ‘n amateurorkes in Hanover gespeel en vioollesse by Löwenberg ontvang.
In Mei 1909 het hy en Helga Cohn verloof geraak, ‘n familielid het hom ‘n kaartjie op ‘n passasiersboot na Suid-Afrika aangebied en so begin hy by Siemens in Johannesburg werk.
Pas nadat hy sy aansoek om Suid-Afrikaanse burgerskap ingedien het, het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek. Hy het sy aansoek om burgerskap teruggetrek en is geïnterneer op Fort Napier, Pietermaritzburg. Na die oorlog is hy op 31 Julie 1919 in Johannesburg op parool vrygelaat en het hy weer by Siemens gaan werk.
In 1920 trou hy uiteindelik met Helga Cohn en ‘n dogter, Ruth, is uit die huwelik gebore.
In die dertigerjare het hy in Krugersdorp sy eie besigheid in meganiese ingenieurswese begin. Hier was hy lid van die orkes wat, voor die koms van klankbane, agtergrondmusiek gespeel het tydens vertoon van stilfilms in Krugersdorp.
Sy gesondheid het hom genoop om in 1926 vir waarneming en behandeling na Hamburg in Duitsland, te gaan. Terug in Suid-Afrika is Pott’s Disease (rugmurgtering) by hom gediagnoseer. Weens hierdie siekte was hy byna ‘n invalide, maar in 1931 het hy begin toonset en hom veral op Afrikaanse liedere toegespits, waarvoor hy goue medaljes op kunswedstryde gewen het.
Op 17 Mei 1932 het Ernst sy laaste openbare uitvoering op sy geliefde Stradivarius gelewer. Hy het rumatiek ontwikkel en het gevolglik die Stradivarius verkoop. ‘n Gedeelte van die opbrengs het hy gebruik om sy komposisies te laat publiseer. Geen spoor van die Stradivarius kon gevind word nie. Löwenherz en Braam Verhoef het hierna steeds aan kamermusiekuitvoerings, en veral strykkwartette deel-geneem.
Die Zionist Record berig in 1932: “Die moontlikheid dat Suid-Afrika sy eie volkslied kan kry, het gestalte gekry in soverre dat ‘n Joodse komponis, J de Waal, woorde geskryf het wat ‘n Joodse komponis getoonset het. Die komponis, mnr Löwenherz, is ‘n bekende Afrikaanse komponis.” Hierdie berig is geskryf deur ‘n mnr Hamabit, ‘n verslaggewer van die Zionist Record wat ‘n musiekbyeenkoms aan huis van Madame Hilda Neale-Weyhausen bygewoon het en veral beïndruk was met die komposisie van ‘n lied deur Löwenherz. Hy het bygevoeg dat ‘n Joodse komponis ses Afrikaanse liedere getoonset het, en gerus ook sy hand kon waag aan toonsetting van Hebreuse liedere.
Vir die toonsetting van JFE Celliers se gedig Dis al, het Löwenherz die eerste prys op die 1932 Afrikaanse Kunswedstryd in Johannesburg ontvang.
Hy was lewenslank ‘n aktiewe lid van die Society of South African Composers, die Johannesburg Musical Society en Musica Viva.
Mnr Löwenherz het gesê hy het vyf en dertig jaar gekomponeer, maar dat komponeer steeds tweede viool gespeel het wanneer dit by sy besige loopbaan as ingenieur kom.
Ernst Löwenherz is op 13 Julie 1958 in Johannesburg oorlede.
Ander Afrikaanse digters getoonset
JLR van Bruggen, AG Visser, H Postma, CL Leipoldt, JFE Celliers, CJ Langenhoven, CH Vrede, H Löwenherz, H Postma en R Rudolph.
Toonsetting: Aandmymering