EMIEL LEOPOLD HULLEBROECK
* 20 Februarie 1878, Sasstraat, Gentbrugge, Oos Vlaandere, België
† 26 Maart 1965, Liedekerke, Vlaams Brabant, België
Gedigte
Corrie, geskryf Julie 1912. Gepubliseer in Die Nuwe Brandwag, Augustus 1930. Op 5 Augustus 1959 het Hullebroeck die komposisie vir Keet gegee, maar dit het verlore gegaan en geen kopieë is gemaak nie
Sonnedaal
Uit pure pret
Muskietejag
Verlange
Aan die Vierkleur, onopspoorbaar
“Iedere vogel zingt zoals hij gebekt is.” - Emiel Hullebroeck
“Elke mens behoort te sing by sy werk. My broer kan nie, hoekom dan nie? Hy blaas die trompet.” - Emiel Hullebroeck
Hullebroeck se oeuvre het bestaan uit liedere, kantate, oratoria, instumentale musiek, orkeswerk, toneel, operette en opvoedkundige werk. Hy was skrywer, komponis, korrespondent, uitgewer, opvoeder, sanger, dirigent en was getroud met Anna de Vos.
Van ‘n vroeë ouderdom was Emiel aangetrokke tot alles wat met musiek te doen gehad het. As negejarige koorlid aan die St Anne’s Kerk in Ghent, het hy Gregoriaanse dreunsang en ook die basis van solfege baasgeraak. Hy het sy studies aan die Ghent Conservatorium voortgesit en deel die volgende oor sy leermeesters:
Oscar Roels (solfege)
Paul Lebrun (harmonie): “Lebrun was een knap en sympathiek leraar, met een zwak voor noneakkoorden. Ik was de bandeloze geest van de klas”.
Joseph Tilborghs (orrel): “De klas van die oude heer, die goed als koek was, professor Tilborghs heeft ons heel wat jolijt bezorgd.”
Adolphe Samuel (kontrapunt, fuga, komposisie): “Samuel, de kleine, doch gevreesde bestuurder waar wij ‘s zomers onze lessen in zijn buiten op de dries te Gentbrugge kregen. Wij hoorden er Beethoven en Wagner, vooral Wagner, waar Samuel bleek mee te dwepen.”
Hullebroeck behaal eerste pryse vir orrel en harmonie met onderskeiding. Tydens sy studietyd het hy al ‘n koor gedirigeer wat internasionale pryse ontvang het. Hy het by sosio-kulturele verenigings en by die Algemeen Nederlands Verbond honderde sangaande wat praatjies oor die Vlaamse geskiedenis ingesluit het, of Peter Benoit se lewensbeskrywing, gehou. Vir orrelspel het hy in 1898 ‘n eerste prys ontvang.
Aangesien hy geen uitgewer kon kry om sy werk te publiseer nie, het hy besluit om dit self uit te gee. Die eerste oplaag het tekste van R de Clercq bevat. Eerste oplaag het 17 drukke beleef en in totaal het hy negentien bundels gepubliseer. Die verkope het so goed gegaan dat die uitgewer Alsbach hom genader het vir publikasie.
Gedurende 1902 tot 1937 was hy dosent aan die Rijksnormaalschool in Gent en in 1912 publiseer hy die boek Notenleer door het lied. In die tyd was hy koor dirigent van Het Gentsche a-capellakoor en het hy liedereaande deur die hele Vlaandere en Noord-Nederland aangebied. Optredes in Engeland, Switserland, St Petersburg, Italië, Indonesië, Suid-Afrika en Amerika volg. In 1930 was hy die oorsiener van musiekonderwys in Vlaandere.
Tydens die Eerste Wêreldoorlog wyk Emiel uit na die neutrale Nederland, waar hy kontak gehad het met W Mengelberg en J Pisuisse. Hier tree hy op vir die Belgiese vlugtelinge en die Vlaamse Oorlogsmeters, ‘n organisasie waarin sy vrou, Anna, betrokke was. Sy het gewerk om die lot van die frontsoldate te verbeter deur briewe, boeke, warm klere en Wervikse tabak na die front te versend.
Gedurende die oorlogsjare komponeer Hullebroeck ‘n aantal oorlogsliedere waarin hy die benarde situasie van die Vlaamse soldate aan die front aanspreek. Hierdie liedere verskyn in sy sewentiende bundel en was sy donkerste werk. Met die oorlog in volle swang in 1915, vertrek hy op ‘n konserttoer na Nederlands-Indië waaroor hy ‘n reisbeskrywing skryf – die reis het heelwat teenkanting van vaderlandsgesindes gekry.
Op 5 April 1919, terug in Vlaandere, word hulde aan hom gebring deur Nederlandse vriende en bewonderaars wat aan hom ‘n goue horlosie oorhandig met die woorde: “Moge dit uurwerk, mijnheer Hullebroeck, spoedig de stoned aanwijzen waarin Uw heerlijk Vlaamscche volk de plaats in den Belgiscchen staat sal innemen, waarop het recht heft krachtens zijn oude beschaving, zijn prachtige kunst, zijn heerlijke taal. Leve onze Vlaamsche zanger. Leve Emiel Hullebroeck.”
Weens die oorlog word ‘n verbod op uitvoer of publiseer van Vlaamse liedere op 13 April 1919 ingestel. Militaristiese, anargistiese geskrifte en aktivistiese koerante en brosjures word as staatsgevaar deur Ministerie van Spoorweg, Posterye en Telegraaf gebrandmerk. Die gedigte van A Rodenbach, die liedere van Hullebroeck en geskrifte met kritiek van die Vlaamse Beweging van Aug. Vermeylen en die Gebed vir Vlaandere was hierby ingesluit. Die suiwere sang van Vlaandere mog nie meer gehoor word nie. Die militêre beheer het Emiel se aktiwiteite as spioenasie geklassifiseer en hy is na die oorlog aangekla.
Na die oorlog hervat hy weer sy sangaande. Hy deurkruis Vlaandere en Nederland en lewer tot vyf en twintig optredes per maand.
Op aandrang van die Algemeen Nederlandsch Verbond het Emiel ‘n Suid-Afrikaanse sangreis van drie en sestig optredes onderneem tussen September 1920 en vroeg Januarie 1921. Die doelwitte van die besoek was om “het gezonde, levensblije lied te doen waarderen en begrijpen...” Die sukses van die sangreis blyk uit berigte in De Burger (in later jare Die Burger), waarin die mening uitgespreek word dat “... die Heer Hullebroeck ons waardering vir ons eie lied ...” sal inboesem. Hullebroeck se onsteltenis oor die afwesigheid van ’n Afrikaanse kunslied-tradisie – ondanks die reeds ontwikkelde kultuur rondom die Afrikaanse literatuur (Celliers en Leipoldt) en visuele kunste (Pierneef, Mayer, Van Wouw), was duidelik. Hy het die liedwerk wat op daardie tydstip “echt Afrikaans” genoem is, as blote kopieë van uitheemse kultuurgoedere beskou. Hullebroeck het sy Suid-Afrikaanse verbintenisse verder uitgedra deur uitvoerings van Afrikaanse liedere in Londen, Brussel en Nederland. Die voorliefde vir die werk van vroeëre digters soos Celliers, Leipoldt en Keet onder en andere sou lei tot ’n groot aantal Vlaamse en Nederlandse toonsettings. Emile was een van die heel eerste komponiste om verse van NP van Wyk Louw, H Badings (wat ook ’n radiofoniese opera op Van Wyk Louw se Asterion voltooi het), W Wijdeveld, M de Jong en J Bouws te toonset. Op die toer deur Suid-Afrika het Hullebroeck onder meer kennisgemaak met C de Wet, JBM Hertzog, CJ Langenhoven, goewerneur Jansen, mev Jansen-Pelissier, AG Visser, CF Cilliers, JH Pierneef, E Mayer en AD Keet, aan wie se huis in Senekal hy by verskeie geleenthede gedurende sy reis gekuier het. Hullebroeck se toonsetting van Langenhoven se Wiegeliedjie (Lamtietie Damtietie), en Bouws se Op my ou ramkietjie word steeds gereken as Afrikaanse lied-kleinode. J Bouws vermeld dat daar in die Hollands-Afrikaanse Liederbundel (1907) ‘n liedjie is met die titel Grietji. Dit is deur Hullebroeck gekomponeer, wat hiermee een van die eerstes was wat ‘n Afrikaanse lied in die volksidioom geskryf het.
Saam met Jef Denijn stig Hullebroeck die vereniging Onze Beiaarden, om die belange van Vlaamse beiaardekuns (beiaardierskuns) uit te brei. Hy bedryf vanaf Januarie 1922 saam met L Lambrechts Muziekwarande, ‘n besonder konserwatiewe tydskrif wat fokus op die behoud van die tradisionele Vlaamse musiekskat, en wegstuur vanaf eietydse meer moderne neigings. Hierdie tydskrif verskaf tot 1931 inligting aan diegene wat kampvegters is vir die behoud van Vlaamse musiek.
Ook in 1922 was Hullebroeck die medestigter van die Genootschap der Vlaamse Komponisten saam met L Mortelmans, J van Hoof en A Wilford. Vanuit hierdie vereniging het die Nationale Vereniging voor Auteursrechten (NAVEA) ontstaan. In 1923 het die vereniging honderd lede; twee dekades later staan die ledetal op 1,800 en was die vereniging twee miljoen Frank sterk. Via NAVEA het Hullebroeck kontak gehad met internasionale komponiste en in 1934 word hy sekretaris van die Bestendige Internationale Raad der Componisten, wat oorgeneem word deur Richard Strauss. In 1945 verander NAVEA na die Outeurs Vereniging België (SABAM), met Emiel as ere-president. SABAM bestaan steeds in 2025. Hy volg P Gilson van 1930 - 1944 op as algemene inspekteur van die musiekonderwys.
Die Tweede Wêreldoorlog het Hullebroeck nie van stryk af gebring nie. Hy tree op as gaskunstenaar op die oorlogsangfees en was aktief in die Federatie der Vlaamsche Kunstenaars. Hierdie organisasie het steun aan die Duitse besetters gebied, en Jode en Vrymesselaars is uitgesluit. Hullebroeck het wel armlastige kunstenaars en musici ondersteun. Na die oorlog word hy beskuldig dat hy die vyand ondersteun het, maar hy het sy bedrywighede in 1943 gestaak en dus vervolg die Brusselse Krygsraad hom nie. Sy burgerreg word wel lewenslank opgeskort, maar ‘n jaar later (in 1948) word hierdie vonnis weens ‘n gebrek aan konkrete getuienis tot ses jaar verminder.
Op 10 November 1950 word Emiel se naam in ere herstel.
In 1959 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir Hullebroeck en Modest Lauwerijs, die voordragkunstenaar, vereer met ‘n Erepenning. Met die Halfeeufeesviering van die Akademie op Stellenbosch het Keet die huldigingswoord saamgestel wat deur Anton Hartman voorgelees is en oor die radio uitgesaai is. Die amptelike funksie was aan huis van die ambassadeur van die Unie van Suid-Afrika in België. Honderd en vyftig gaste het die geleentheid bygewoon en dit is oorsee op televisie uitgesaai en in twintig Europese koerante gepubliseer.
So skryf Jan Bouws oor die afsterwe van Hullebroeck in Die Burger van 7 April 1965: “Sanger van Vlaandere sterf op hoë ouderdom. Hullebroeck was ‘n stryder vir sy volk, vir sy kultuur. En daardeur het hy van die begin af ‘n juiste begrip vir die kultuur-stryd van die Afrikaner en sy taal gehad. As vokale komponis het hy – vroeër as die meeste digters en skrywers van oorsee – die bestaansreg van Afrikaans as kultuurtaal ontdek en die geskiktheid daarvan as sangtaal deur ‘n aantal geslaagde liedere bewys.”
Toe Hullebroeck in Kaapstad van Cilliers afskeid geneem het, het dié vir hom gesê: “U het nou Suid-Afrika deurkruis, u het in die kleinste en verste dorpe gesing, u het ongetwyfeld ons volk leer ken, ons land leer ken, leer liefkry. U het ons nader aan Vlaandere gebring, u het hier onbreekbare bande gesmee.”
Sy laaste lewensjare het Emiel Hullebroeck saam met sy vrou, sy Marleentje, in ‘n rushuis in de Oos-Vlaamse stadjie Denderleeuw deurgebring. Wel oud in jare was hy, maar steeds vol belangstelling vir die musikale bedrywighede van sy mense en sy vriende in die verre Suid-Afrika, soos blyk uit die briefwisseling wat hy tot kort voor sy dood gevoer het.
Emiel Hullebroeck sterf op 26 Maart 1965 in die Sint-Rafaëlinstituut in Liedekerke.
Hullebroeck het in totaal sowat vierhonderd en vyftig liedere getoonset met ‘n sirkulasie syfer van meer as vier miljoen werke, voor die Tweede Wêreldoorlog. Tussen 1926 en 1934 het Hullebroeck sewe operettes gekomponeer. Van sy musiek is vasgevang op plate. In die Huisgenoot het verskeie artikels van hom verskyn.
Ander Afrikaanse digters getoonset
CJ Langenhoven, CL Leipoldt, CF Visser, JFE Celliers en MJ Vorster-Van Straten.
Brief aan AD Keet, 26 Junie 1917
Brief aan AD Keet, 17 Mei 1918
Brief van dank aan die Keets van Senekal, na ‘n aanhuis kuier, 11 November 1920
Huisgenoot artikel, Oktober 1920
Uittreksel vanuit Keet se brief aan sy seun op 11 April 1965
Erepenning
Foto vanaf Modest Lauwerijs aan Keet, toe die erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in Brussel, aan Hullebroeck en Lauwerijs oorhandig is.
Modest Lauwerijs se brief aan Keet, 17 September 1959
Doodsberig in Het Parool, Maandag 29 Maart 1965
Toonsetting: Verlange
Toonsetting: Sonnedaal
Toonsetting: Sonnedaal handgeskrewe
Toonsetting: Uit Pure Pret