Edward Wium ALBERTYN

EDWARD WIUM ALBERTYN

* 21 November 1924, Montagu

† 1980

Gedig

Maar een Suid-Afrika gepubliseer in “Lekker Sing”, Pretoria, 1972

Die Kaptein wat oorlog maak met sy dirigentstokkie

Musiekdiplomas wat Albertyn met lof geslaag het, sluit onder meer in LRSM, UTLM, ATCL, LTCL (klavier), ATCL en LTCL (orrel). Hy was lid van die Royal College of Organists (MRCO).

Buiten sy boeke oor musiekkomposisie het Albertyn ook Die beginsels en Teorie van Musiek en in samewerking met MC Roode Stories van Simfoniese Musiek geskryf.

Menige langspeelplate van Albertyn se komposisies en toonsettings en werke met hom as dirigent het die lig gesien, onder andere opnames van die Suid-Afrikaanse Leërorkes en Swellendam se Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerkkoor. Sommige van die komposisies wat uit sy pen gevloei het is: ’n Wiegeliedjie, Twee liedjies vir die Kleintjies, Wip Ry, Susanna, Mooi Sing, Lekker Sing, Soet Sing en Slaap Gerus, wat in skole landwyd opgeneem is as deel van die destydse sangleerplan. Hy was voorts betrokke by die samestelling van ‘n kerkkoorbundel. Verskeie concerto’s vir klavier en orkes en ‘n toonsetting van die Onse Vader het ook uit sy pen gevloei. Albertyn het gedurende sy loopbaan musiektoere deur verskeie provinsies in Suid-Afrika onderneem.

Edward Wium Albertyn is op Montagu gebore uit die huwelik van Edward Wium Albertyn (24/10/1892 – 11/3/1931) en Angelique Adelaide Uys (1/1/1898 – 22/8/1972). As sesjarige het sy musiekonderrig begin en op dertien was hy leier van die Hoër Jongenskool in die Paarl se strykorkes en later was hy leier van die Hoërskool Jan van Riebeek se skoolorkes.

Die toekenninges en pryse het ingerol en hy het groot lof ingeoes met sy klavierspel, wat hom ‘n eerste plek besorg het in die afdelings 16 jaar en jonger, 16 jaar en ouer, 18 jaar en ouer en die ope-afdeling in Nasionale Kunswedstryde.

In sy vroeë jeug het hy drie jaar lank as voorsitter van die musiekkomitee vir Die Jongspan by die Kaapstadse Uitsaaikorporasie gewerk en ook self agter die mikrofoon ingeskuif. Hierna word hy orrelis by die NG Moedergemeente te Kaapstad. Hy vertrek na Port Elizabeth en in 1944 word hy as 20 jarige die Stadsorrelis by die NG Moedergemeente, waar die Werdakoor hom as dirigent leer ken. Hy het ook by die Heidelbergse Musiekskool - met sy dertig klaviere - diens gedoen.

Albertyn kry ‘n aanstelling as Stadsorrelis in Salisbury, Rhodesië (Zimbabwe) en saai ook die program They make music oor Radio Salisbury uit. Gedurende 1948 was hy saam met Cecelia Wessels verantwoordelik vir ‘n reeks musiekkonserte.

Terug in Suid-Afrika word hy in 1955 voorsitter van Mosselbaai se Musiekvereniging en tree hy op as Stadsorrelis. Onder sy leiding het die eerste kunstefees in Mosselbaai plaasgevind.

In dieselfde tydperk word hy met die rang van Kaptein as musiekdirekteur van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) Leërorkes te Pretoria aangestel. Hy behou hierdie aanstelling tot sy aftrede in 1961. Hierdie orkes, wat in die tweede helfte van 1934 tot stand gekom het, se eerste optrede was in April 1935 tydens die vlagstrykingseremonie te Voortrekkerhoogte, toe nog bekend as Roberts’ Heights. Sy voorgangers was WEH Kearly en PJ Lemmer.

Onder Albertyn se leiding het die leërorkes talle musiekkonserte landwyd gehou en blaasorkeste gestig as deel van die SAW se poging om ‘n liefde vir musiek by die jeug aan te wakker. Albertyn was ook verantwoordelik vir die organisering en opleiding van Burgermag- en skoolkadet-orkeste in Suid-Afrika. Op 27 Mei 1960 het hy tydens die Uniewordingsfees die optrede van die massa jeugkoor saam met die Suid-Afrikaanse Leër- en Lugmagorkeste gedirigeer. Albertyn se werkywer word weerspieël in die deurlopende toere en besoeke aan meer as 50 skole. Boonop het die SA Leërorkes onder sy leiding in een jaar meer as twee honderd en vyftig uitvoerings in Pretoria gehou, aan 103 parades deelgeneem en by 12 staatsbegrafnisse opgetree. Dinsdae se gewilde etensuur-konserte in Pretoria se stadsaal het meer as 257 beloop. Dit was gedurende een van hierdie konserte dat hy vir Edselina Timmerman ontmoet het, met wie hy ses maande later op 4 April 1959 in die huwelik tree.

In 1957 het Albertyn vir vier maande in Deal, Brittanje, aan die Royal Marines School of Music die organisering en opleiding van militêre orkeste bestudeer. Hier het hy ook as gasdirigent by die musiekskool se sluitingskonsert vir die winterseisoen opgetree. Sy oorsese besoeke het hom gelei na Rotterdam, Amsterdam, Den Haag, Nijmegen in Nederland en na Frankryk. Tydens hierdie besoeke het Edward meer as dertig orkeste, onder andere die Guards’ Bands in Brittanje, die Koninklijke Militêre Kapel-orkes in Nederland en die Orchestre Harmone Republicaine in Frankryk gedirigeer.

In 1961 vertrek die Albertyngesin na Swellendam, waar Edward as orrelis en musiekonderwyser opgetree het. Met befondsing deur musiekkonserte, orrel- en kooruitvoerings het hy ‘n nuwe orrel vir die NG Gemeente van Swellendam laat invoer.

In 1964 bevind hy homself in Uitenhage en Port Elizabeth as Stadsorrelis en in 1968 begin sy loopbaan as skole-inspekteur in Durban.

Hy is in 1980 skielik oorlede.

Edward Albertyn sal onthou word as ‘n hartlike, gewilde man en ‘n uitmuntende, talentvolle musikant wat sy lewe aan musiek gewy het.

Ander Afrikaanse digters getoonset

A Rorich, CL Leipoldt, AG Visser en MC Roode.

Toonsetting: Maar een Suid-Afrika

Soos gesien kan word, het die instansie wat die toonsetting geskenk het, geskryf dat dit nie die volledige toonsetting is nie. Volledige toonsetting is kon nie opgespoor word nie.