DIRK IZAK CATOGGIO DE VILLIERS - Dirkie
* 29 Junie 1895, Wellington, Kaap Provinsie, Unie van Suid-Afrika
† 2 Julie 1993, Onrus, Kaapprovinsie, Suid-Afrika
Gedigte
Net Maar gesien, 1940, De Villiers beskou hierdie as sy eerste volwaardige liedkomposisie
Maar één Suid-Afrika / Gee my
Sneeu
Klaas Vakie
Slagvaardig
Muskietejag
Ek hou van blou
As saans
Kom, Afrikaners
Van die liedere verskyn in al drie uitgawes van die Volksang Bundel. In die 1937 en 1961 uitgawes verskyn die gedig Kom, Afrikaners van Keet, met musiek deur Aennchen Schumacher, as ‘n lewendige mars. Aangesien die musiekkomitee nie graag die mooi woorde van Keet wou verloor nie, is Dirkie de Villiers gevra om vir die 1979-uitgawe ‘n nuwe toonsetting te maak. In 1990 het Dirkie weer die gedig getoonset.
Om Dirkie de Villiers se mens-wees in ‘n paar bladsye weer te gee, is ‘n ingewikkelde taak. Hy word beskryf as kultuurmens, spontaan, hartlik, opreg, charismaties, diplomaties en as persoon met ‘n uitstekende humorsin, wat sy arbeid sonder enige inspanning verrig het.
“Kultuur is vir my ’n lewenswyse. Kultuur is vir my ’n handhawing van dit waarmee ek groot geword het: my Godsdiens, my geskiedenis, my taal, my familie en my liefde vir die fynere aspekte van die lewe naamlik die boukuns, die beeldhoukuns, die skilderkuns en dit wat vir my naaste aan die hart lê - die musiek." - Dirkie de Villiers.
Joubero Malherbe vertel: “Ek sien hom voor die klavier sit en al pratende en spelende die een na die ander Psalm en Gesang ontleed en vergelyk met die oertekste – of ek hoor hom die heerlikste Gershwin-melodieë speel met so ‘n ritmiese, flambojante flair, om dan ewe skielik oor te slaan na ‘n romanties-meesleurende weergawe van Danny Boy en Jeannie with the light brown hair. Dis wanneer jy jou vergaap het aan Dirkie de Villiers, want jy het geweet dis nie al nie. Want hy was ‘n koorleier en -verwerker by uitstek, ‘n komponis (al het hy gelag vir party van sy eie pogings), ‘n skoollied-komponis, samesteller van die FAK-sangbundel, geskiedeniskenner soos min, ‘n uitsaaier van gehalte, nie net van musiek-programme nie, maar ook van sport, ‘n kritikus en rubriekskrywer vir die pers, ‘n uithaler tennis- en krieketspeler, ‘n gholfspeler en om alles te kroon ook nog ‘n top-brugspeler.”
Dirk Izak Catoggio de Villiers (Dirkie of DIC) is in die pastorie van die NG Kerk in Simonstad, Kaapprovinsie gebore. Hierdie gebou is tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar - dit was immers in hierdie pastorie waarin Dirkie se vader, ML de Villiers, Die Stem van Suid-Afrika gekomponeer het. Sy moeder was Jemima Susanne du Plessis.
‘n Vriend van Dirkie se pa wat destyds hoof was van die ABC –uitsaaikorporasie, René Caprara, het tydens ‘n besoek aan die pastorie die sewejarige Dirkie hoor sing. Caprara se kommentaar was dat Dirkie móét uitsaai – so is die saadjie vir uitsaaiwese geplant.
Op 26 Januarie 1927 begin Dirkie se skoolloopbaan by die Primêre Skool Simonstad waar hy Sub A, Sub B en Standerd 1 in een jaar voltooi.
As derde van vier kinders het sy musiekonderrig by sy moeder teen die einde van sy sesde lewensjaar begin. Later is hy op Wellington deur Adrienne Joubert in klavier en orrel onderrig en mettertyd het Eric Grant, dekaan van die Kaapse Universiteit Musiekkollege hom onderrig in komposisie.
De Villiers se vader het 'n goeie huisorrel gehad. Dirkie se gehoortoetse is dikwels voor hierdie orrel gedoen omdat dit waarskynlik makliker was, gegee die aanhou van die orrelklank. Veel meer vormend en toonaangewend was die ontwikkelingsoefeninge saam met sy vader. "...dan was pa geduldig. Kan nie onthou van een dag wat hy my uitgeskel het nie. Net ophou speel en gesê 'luister' ".
Die prosedure was kortliks soos volg: klein Dirkie neem links - nooit regs nie - langs sy vader stelling in voor die vleuelklavier. Sy vader speel dan 'n Psalm, Gesang, Halleluja-lied of bekende volkslied voor terwyl Dirkie dit aanhoudend moet saamspeel. "Pa het my gelei, nie geforseer nie. Hy het die moeite gedoen om vir my temas te speel en 'n bietjie agtergrond te gee, sodat ek kon volg en verstaan." Die saamspeel met sy pa is later uitgebou tot volwaardige duetspel. Sy liefde vir die gewyde musiek het sy jare-lange werk in en om kerkmusiek ten grondslag gelê. Hy het ’n besondere gawe gehad om te improviseer en volksliedjies en populêre musiek van sy jeug "op gehoor" te speel.
In Oktober 1930 emiriteer sy pa en die gesin verhuis na Wellington, waar Dirkie in 1936 by die Hoër Jongenskool matrikuleer. In Standerd 7 (hedendaags Graad 9) verskyn twee van sy opstelle in die skooljaarblad - dit was oor onderwerpe waarop hy sy loopbaan as onderwyser en opvoeder sou vestig – geskiedenis en musiek.
As agtienjarige jong man, het hy begin peusel aan gedigte. Hier het sy belangstelling in die wêreld van die kunslied ontwaak en het die toonsetting van 'n gedig van formaat hom begin interesseer.
In 1937 skryf Dirkie in vir ‘n BA Graad aan die Hugenote Universiteits Kollege te Wellington. Met as hoofvak, Geskiedenis, word die graad aangevul met Afrikaans, Engels, Latyn en Biologie. In 1940 voltooi hy die graad BAHons (Geskiedenis).
Op Wellington kry hy spraak- en voordragopleiding by Aletta Gericke en Emma Smith help met klavieronderrig. Hy maak ook kennis met die befaamde PJ Lemmer, wat in die dertigerjare werksaam was aan die Onderwyskollege in Bloemfontein, kennis gemaak. As onderwyser op Vredenburg, Parow, Bellville en Grabouw het Dirkie musiek beoefen en skoolsang behartig. Hy het ‘n Mannekwartet byeengebring wat bekendheid verwerf het en oral in die Kaap in aanvraag was. In sy Parow- en Bellville-tyd het hy as orrelis groot sukses met sy kerkkore behaal. Hy ontvang erkenning van Gawie Cillie, bekende figuur in kerkmusiek kringe en die FAK musiekkomitee. Dirkie speel 'n leidende rol in die stigting van die destydse Skiereilandse Kerkkoorbond.
Die volgende ongedateerde briefie van ‘n negejarige leerder van die Totius Laerskool in Bellville oor die skoollied se nuwe toonsetting verwoord De Villiers se vermoë om met kinders om te gaan: "Liewe Oom Dirkie, ek wil net dankie sê dat oom vir ons nuwe skoollied musiek geskryf het. Ek het oom se grappies baie geniet, en die raaisels was baie maklik. Ek hou baie van oom. U is baie welkom by ons skool en in ons klas. Ek ken al ons nuwe skoollied se woorde. Oom speel goed klavier."
In Vredenburg was hy Biologieonderwyser. Hierdie gemeenskap was Afrikaans en “selfs die Jode het daar Afrikaans gepraat”. Hy is rugbykaptein van die dorpspan en speel ook krieket. Op die tennisbaan het hy 'n mej HC Grobbelaar in Wellington ontmoet. Sy was dosent in sielkunde te Friedenheim, 'n kollege vir die opleiding van maatskaplike werkers. Hulle het die volgende jaar amptelik verloof geraak en is op 1 Januarie 1944 op Heidelberg in die Transvaal getroud. Vyf kinders is uit die huwelik gebore: Johan, Suzanne, Louise en Ilse en Pierre wat op veertienjarige leeftyd in 'n motorongeluk oorlede is. Twee van die kinders het op musiekgebied uitgeblink. Johan was later Phillip McLachlan se opvolger as dirigent van die US koor en hul dogter Suzanne is ‘n begaafde violis.
Wat sy verbintenis met die SAUK as omroeper betref, vertel hy soos volg: "Toe kom ek Parow toe in 1943, onderwyser en so arm soos 'n kerkmuis. My maat Hannes Gerber, ook 'n onderwyser, het deeltydse omroepwerk gedoen by die radio en het my aangespoor om ook te probeer. Ek het toe 'n toets gedoen, geslaag en toe deeltydse omroepwerk begin doen. Elke greintjie geld wat ek kon verdien om my met die brood en botter van die lewe te help, het ek aangegryp en dit was glad nie 'n oneerbare wyse om geld te verdien nie."
Hy tree op as vryskut sportskrywer en assistant-musiekresensent vir Die Burger en plateresensent vir Sarie Marais tydskrif. "My program wat die langste aangehou het, was die glanspunte uit die sportnuus wat elke Saterdagaand saam met Herman Steytler se rugby-raaikompetisie uit Kaapstad aangebied is en waarvoor ek soms alleen en later in medewerking met vaste radiomanne soos wyle Dirk Kamfer en Gerhard Roux verantwoordelik was."
In 1952 is hy lid van die FAK se musiekkommissie en in 1984 word hy verkies tot hoofbestuurslid van die FAK. Vanweë sy betrokkenheid by Suid-Afrikaanse musiek en verbintenis met die FAK, word hy benoem tot lid van die redaksie van Die Goue Gerf in 1970. Dirkie was vir een en twintig jaar op die Advieskomitee van die Musiekeksamens van UNISA.
Graaff-Reinet se Onderwys Kollege het gehoor van die entoesiastiese jong man, en saam met sy mooi donkerkop vrou, Doll, is hy in 1954 na hierdie skilderagtige plek, waar hy Philip McLachlan as dosent in skoolmusiek opgevolg het.
Toe kom die Vrystaat aan die beurt, en die gesin vertrek na Bloemfontein waar hy inspekteur van skoolsang word. Dit was nie lank nie of Dirkie het hoof van musiek aan die Vrystaatse Onderwys Departement geword. Omdat hy altyd in koorsang belanggestel het, was dit vir hom ‘n wonderlike dag toe die administrateur hom in 1964 gevra het om ‘n Vrystaatse Jeugkoor in die lewe te roep. Die koor het tussen 1965 en 1975 ongeveer twee honderd optredes gehad. Hierdie koor is ongetwyfeld De Villiers se belangrikste kulturele aktiwiteit op die gebied van koorsang in Suid-Afrika.
Joubero Malherbe vertel dat Dirkie onthou word vir sy musiekprogramme. "Bekend Maak Bemind en veral sy laaste reeks, Vanmelewe Was Hulle Bemind. Hy kon in hierdie programme altyd iets vertel wat nuut en fris op die oor geval het – uit die skatkis van sy eie musiekervaringe kon hy juweeltjies haal en jou laat skater.”
De Villiers se gesondheid het agteruitgegaan en op aanbeveling van sy dokter het die egpaar na Onrus in die Weskaap verhuis waar hy en Doll nog ‘n paar jare gelukkig kon deurbring en hy kon voortgaan met verwerkings en skryfwerk. Hy was bewus daarvan dat hy nie sou herstel nie en in een van sy laaste briefies skryf hy: “Ons lewens gaan verby en ons sien die vir wie ons werklik liefhet en omgee, te min”.
Op 2 Julie 1993 het die Libertas-Koor van Johan de Villiers, Dirkie se seun, by die Grahamstadfees opgetree. Die werk wat hulle gesing het was Ein Deutsches Requiem van Johannes Brahms. Hoe wonderlik dat, terwyl die koor die woorde Denn alle Fleisch ist wie Gras gesing het, Dirkie sy oë vir ewig gesluit het.
In Oktober 1990 word aangekondig dat die jaarlikse ATKB-koorfees vir volwasse kore in Bloemfontein voortaan bekend sal staan as die Dirkie de Villiers-koorfees, uit dank vir wat hy vir musiek in die Vrystaat gedoen het.
DIC de Villiers het vir die volgende gedrukte media geskryf: Die Orrel, Naweekpos, Handhaaf, Vir die musiekleier, Die Burger, Sarie Marais, Volksblad, Opvoeding en Kultuur, SA Biografiese Woordeboek, Vrystaatse Onderwysnuus, Paratus, Vir ons Volkspele en die Koraalboek.
Toekennings wat Dirkie van verskillende instansies ontvang het:
- FAK: ‘n oorkonde vir dienste aan die Afrikaanse musiekkuItuur;
- Rotary: Oorkonde vir opvoedkundige musiekdienste in die Oranje-Vrystaat;
- SAUK: nominasie vir 'n Artes-toekenning om erkenning te gee aan voortreflikheid op alle gebiede van radio- en televisieaanbieding;
- Universiteit Oranje Vrystaat: goue penning vir voortreflike diens;
- SA Koorvereniging: Erepresidentskap;
- SAUK: ‘n spesiale vereringsprogram vir sy sestig jaar lange verbintenis met die instansie sedert hy in 1927 as seunsopraan sangsolo's oor die radio gelewer het
- Stadsraad van Bloemfontein: oorkonde uit erkentlikheid vir die werk wat hy gedoen het in Bloemfontein ter bevordering van musiek: Die Orde vir Voortreflike Diens, Klas 1, Goud;
- Pro Ecclesia-koor: oorkonde vir sy aanmoediging van koorsang;
- FAK-Erepenning: een van die hoogste kultuureerbewyse in die land, vir volksdiens;
- SA Polisie: Spesiale toekenning vir sy volgehoue ondersteuning van musiek en koorsang deur lede van hierdie staatsdepartement.
Ander Afrikaanse digters getoonset
Doll de Villiers, N Hofmeyr, EN Marais, G Weideman, DF Malherbe, M Browne, Toon van den Heever, CR Swart, CJ Langenhoven, JF Spies, Gerhard Beukes, Totius, Gawie Cillie, DF Malherbe, JFE Celliers, ML de Villiers, NP van Wyk Louw, AG Visser, HH Joubert, ID du Plessis, HC Grobbelaar, Rykie Pienaar, JW Jandrell, L Leipoldt, O van Oostrum, W Rowland, H Heese, IL de Villiers, W de Wet, S Ign. Mocke, A Beukes, A de Villiers, ID du Plessis, T van den Heever, CR Swart, HH Joubert, B Gericke, W Spiethoff en W de Wet
Foto van Dirkie De Villiers
Foto van Dirkie De Villiers met sy Presidensiële toekening
Brief van Keet aan sy seun, 6 Mei 1957
Ellen en Rosa is kinders van Keet uit sy huwelik met Rina (uittreksel).
Brief van De Villiers aan AD Keet, 20 October 1963
Toonsetting: Kom, Afrikaners