DALENE STEENKAMP-BRITS
* 28 Julie 1945, Kaapstad
Gedig
Muskietejag, vir gemengde-koor, seuns-koor en meisies-koor
Dalene het self haar eie lewensreis beskryf
Dalene Steenkamp-Brits is in Kaapstad gebore en het aan die Hoërskool Jan van Riebeeck gematrikuleer.
Sy gaan studeer daarna musiek aan die Universiteit van Kaapstad (UK) met as hoofvakke klavier en sang. Reeds as student tree sy gereeld op as pianis dwarsoor die land saam met bekende musici en ook as solis saam met die Kaapstadse Universiteitsorkes en die Kaapstadse Simfonieorkes.
Nadat sy haar BA Mus en twee nagraadse diplomas behaal het, is sy by die UK aangestel as junior lektrise in klavier en repetateur vir die Operaskool.
Sy is later as die eerste amptelike pianiste vir die Kaaplandse Raad vir Uitvoerende Kunste (KRUIK) aangestel en tree op saam met plaaslike en besoekende buitelandse kunstenaars en is ook die voltydse repetateur en deeltydse koorafrigter vir die KRUIK Opera geselskap.
Sy was ook lid van die groep Strings and Percussion Unlimited saam met Eric Rycroft, Pierre van Veenhuisen en Peter Hamblin en vorm 'n trio saam met Eric Rycroft en Olivier de Groote. Hierdie groepe het ook landwyd getoer en uitvoerings gelewer.
In 1973 is Dalene as pianiste by die Musiekdepartement van die SAUK ateljees in Seepunt aangestel. Sy het gereeld opnames gemaak as solokunstenaar en begeleidster. In hierdie tydperk het sy ook koorverwerkings vir die Hans van Heerden Mannekoor in Bellville gedoen en in 1978 neem sy by Van Heerden oor as koorleier van die koor, voortaan bekend as die Bellville Mannekoor. Sy besef spoedig dat daar nie juis oorspronklike musiek vir mannekore in ons land beskikbaar is nie, en sy begin self om toonsettings vir die koor te skryf waarvan die eerste 'n siklus, Uit Klipwerk, op woorde van Van Wyk Louw was. Die SAUK het later 'n transkripsieopname van hierdie werk van ses kort liedjies gemaak met die Bosch Troebadoers.
In 1981 verhuis die Brits-gesin na George waar Dalene die George Mannekoor stig, wat sy vir dertig jaar afgerig het. Die Mannekoor het, benewens optredes oor die hele land, ook radio- en televisieoptredes gedoen, drie maal oorsee gereis en opgetree in Engeland, Ierland, Duitsland, Nederland, Oostenryk, Switserland, die Tjeggiese Republiek en Slowenië. Steenkamp-Brits was orrelis van die George Tuinedal NG Gemeente vanaf 1982 tot 2012, met gereelde uitvoerings deur die kerkkoor. Sy het voorts bekend geword vir haar orrelimprovisasies, komposisies en koorverwerkings.
Die ATKV gebruik gereeld van haar oorspronklike werke as voorgeskrewe liedere vir hulle jaarlikse nasionale skoolkoorkompetisies. Van haar musiek is gepubliseer in Die Suid-Afrikaanse Orrel Vereniging se vier orrelbundels, die Voortrekker Sangbundel, die FAK Sangbundel en Vir die Musiekleier. Dalene het reeds verskeie eretoekennings ontvang, onder andere ’n Afrikoon toekenning van die ATKV en ’n oorkonde van die FAK.
In 2014 het die Bel Canto-koor van George met groot welslae onder haar leiding deelgeneem aan die Stellenbosch Woordfees met ’n Paasprogram bestaande uit haar verwerkings van volksliedjies en oorspronklike komposisies, asook toonsettings van onder andere WEG Louw en E Eybers, afgewissel met voorlesings van haar gedigte.
Steenkamp-Brits is ook skrywer en digter onder die skuilnaam Dale Stone. Sy het Die Du Plooys van Soetmelksvlei met die goedkeuring van Jan Schutte tot ’n drie-bedryf drama vir die verhoog verwerk en opgevoer, en die Menotti opera Amahl and the night visitors vertaal en in beide Engels en Afrikaans opgevoer.
Sy het onlangs ’n boek, Dis soos dit was, vir haar kinders geskryf, asook The amazing adventures of Elsie Brits, vir haar kleinkinders.
Steenkamp-Brits tree nog gereeld op as solopianis, ensemblespeler en begeleier.
Ander Afrikaanse digters getoonset
P de Vos, M Bosman, EWS Hammond, CL Leipoldt, M van Niekerk, EN Marais, V Oliphant, ID du Plessis, PW Buys, E van der Walt en E Eybers.
Toonsetting: Muskietejag - Gemengde koor met begeleiding
Toonsetting: Muskietejag - Seuns
Toonsetting: Muskietejag - Dogters