CORNELIS DOPPER - Kees
* 7 Februarie 1870, Stadskanaal, Groningen, Noord-Oos Nederland
† 18 September 1939, Johannes Verhulststraat 127, Amsterdam, Nederland
Van links na regs: Rudolf Mengelberg (1892 – 1959), Ottorino Resphighi, Willem Mengelberg (1871 – 1951), Igor Stravinsky (1882 – 1971), Cornelis Dopper (1870 – 1939), Mathilde Mengelberg-Wubbe (1875 – 1943), Sam Bottenheim, mev Lourié, Arthur Lourié.
Gedigte
Winter
Klaas Vakie
Sneeu
Kinderlied
In 1930 loop Cornelis Dopper vir Jan Bouws (1902 – 1978) raak en raak so bewus van Keet se gedigte. Binne ‘n week nooi Dopper vir Bouws uit om na sy vier Afrikaanse liedere te gaan luister. Die eerste wat Bouws opgeval het, is Dopper se foutiewe spelling van Afrikaans: “Soos alle Nederlanders het ook Dopper die Afrikaanse spelling ‘n bietjie ver-Hollands en het “Sonnetjie Skyn”, “Sonnetjie skijn” geword.” Die eerste toonsettings was net met eenvoudige klavier begeleiding, maar is toe verander met Winter na begeleding met vier viole ad libitum. Dopper wou die lied as ‘n rondeel vir drie stemme komponeer. In die gedig Klaas Vakie gaan hy anders te werk – met twee stemme. Met die ander twee gedigte, Sneeu en Kinderlied, kon hy die instrumentale begeleiding nie weglaat nie. Dopper: “Bij Sneeu moet de muziek tintelen en bewegen, precies alsof de lucht leeft. Dat is wat Keet heeft bedoeld.” Keet se gedigte wat deur Dopper getoonset is, is uitgegee onder die naam Zuid-Afrikaanse Liederen: voor vrouwen- of kinderkoor en piano. Detail rakende die toonsettings van die ander gedigte is as volg: Die gedig Winter: rondeel vir drie gelyke stemme met begeleiding van vier viole ad libitum; Klaas Vakie: kanon vir twee stemme, met ‘n begeleiding van vier viole; Sneeu: vier stemme, met ‘n begeleiding van vier viole; Kinderlied: drie stemme, met ‘n begeleiding van vier viole. Joop Stam, Dopper se amptelike biograaf, se kommentaar: “Misschien is Kinderlied, met het speelse fugato en de snelle instumentale toonladderfiguurtjes in tertsen, sexten en tegenbeweging wel het best geslaagd in de reeks van vier.” Keet en Dopper se vier koorwerkies is in 1931 deur ‘n groot kinderkoor met begeleiding van ‘n strykorkes onder HJ den Hertog in die Concertgebouw in Amsterdam uitgevoer. Kommentaar van Stam: “Sommige van Doppers koorwerkjes voor kinderen zijn door de tijd achterhaald, toch behoorden ze jarenlang tot het standaardrepertoire van elk kinderkoor. Nog vijftien jaar na zijn dood op Vrijdag 17 september 1954 wordt een radio-uitzending geheel gewijd aan muziek voor kinderen van Dopper.”
“Vernieuwingen in de muziek zijn alleen mogelijk door voort te bouwen op het bestaande” - Cornelis Dopper
“Een typische Hollandse meester die mij als componist herinnert aan onze schilderkunst uit de 17de eeuw” - Willem Mengelberg oor Dopper
“Geert Teis schreef in 1913 in een Gronings lofdicht: ‘Knelis Dopper, hoge kunst’noar, grootste Knaolster dei d’r is;, terwijl Saul van Messel melding maakte van Doppers ‘Wiederwaaidege wiezn, die gliedn as tjaalkn liek daip’.”
Cornelis is gebore as seun van Lucas Dopper, ‘n skeepskaptein en hotelier en Grietje Swarts, in sy pa se hotel, Hotel Dopper aan Hoofstraat in Stadskanaal, Amsterdam. Toe pa Lucas in 1885 oorlede is, het ma Grietje tot in die twintigste eeu in die hotel aangebly. As jong seun wat albei sy ouers aan die dood afgestaan het, het Cornelis op vyftienjarige ouderdom by sy suster, ook Grietje, en haar man Johannes Bernardus Kolkman, komponis en musiekonderwyser, gaan woon. Kolkman het hom opleiding in musiek gegee en hom geadviseer om na die Konservatorium in Leipzig te gaan.
Dopper was uitgesproke, had ‘n konserwatiewe styl en was Duits georiënteerd. Met sy groot liefde vir Nederlandse volksliedere, kultuur en landskappe, is daar soms na hom verwys as die grootste van al die Nederlandse komponiste. Vir ontspanning het hy graag biljard gespeel.
Op 4 Oktober 1888 vertrek Cornelis na Leipzig, waar hy twee jaar onder Reinecke, Wendling, Hermann, Grill en Jadassohn aan die Koningliches Konservatorium der Musiek zu Leipzig, studeer. “Te Leipzig” vertel Dopper, “Kwam ik bij toeval terecht in een omgeving, die van grote invloed op mijn algemene ontwikkeling zou worden. Een gepensioneerd oud-kolonel, Karel von Stein genaamd, nam mij bij zich in huis.”
Von Stein het Dopper se onblusbare leeslus aangewakker en sy kennis oor die literatuur het aansienlik uitgebrei. Prof Paul, musioloog en filosoof en kenner van Antieke Griekse kultuur, het gesorg dat Dopper lesings oor kunsgeskiedenis, estetika en musiekteorie aan die Universiteit van Leipzig kon bywoon.
Na sy terugkeer uit Leipzig, vestig hy in Groningen en word hy direkteur van die Gemengde Sangvereniging te Hoogezang-Sappemeer. In 1897 tree hy in die orkes van die Nederlandse Opera en as tweede kapelmeester op as violis. Na die heengaan van die direkteur, Heuckeroth, word Dopper aangestel as dirigent. By die Nederlandse Opera in Amsterdam het hy in 1894 sy opera, Het blinde meisje van Castel-Cuillé, met sukses opgevoer. Hy werk as violis, koormeester en dirigent tot Nederlandse Opera in 1903 sy deure toegemaak het.
Om finansieël staande te bly het Dopper vir die volgende twee jaar as musiek-resensent vir die koerante De Echo en Het Leven gewerk.
In 1906 lok Die Verenigde State hom en hy toer saam met die operageselskap van Henry Savage deur die Verenigde State, Kanada en Mexiko. Met sy terugkeer na Nederland twee jaar later, vra Willem Mengelberg hom om sy eie Derde Simfonie, Rembrandt, te dirigeer en Mengelberg stel hom aan as tweede dirigent van die Concertgebou. Hy behartig hierdie pos tot 1931.
In 1908 trou Cornelis met Henriette Siedenburg, alhoewel die groot liefde van sy lewe Sophie Zimmerman was. Sy verhouding met Sophie was innig en intens - die familie uit Groning se middelstand was uitgesproke daarteen gekant en onder al die druk het die verhouding gesneuwel. Jare later hoor iemand Sophie se sugte by sy graf: “Kees, wat hebben we het samen zwaar gehad.” Daar was ook ander vroue in Cornelis se lewe, soos die meisie by wie hy in sy jeugjare ‘n kind verwek het. “Een jongeman kan dome dingen doen”, het hy later opgemerk. Sy huwelik met Henriette Siedenburg is in 1920 ontbind en hy trou daarna met Christina de Roos.
Gedurende die November Revolusie van 1918, het Richard Strauss op 8 November Dopper se Sesde Simfonie in Berlyn gedirigeer en twee weke later dirigeer Dopper self sy Simfonie No Sewe.
Dopper het meer as honderd werke gelewer en met die uitvoering van sy Sewende Simfonie, wat in 1917 voltooi is, het sy reputasie ‘n knou gekry, omdat hy “te Duits” was. In November 1918 voer hy hierdie spesifieke simfonie voor ‘n vol saal op. Die joernalis Matthijs Vermeulen het hom vanuit die gehoor uitgekryt oor sy Duitse oriëntasie.
Die publiek se ondersteuning vir Dopper se musiek het na hierdie sogenaamde “Vermeulen Insident” drasties getaan. Die opvoering van die Sewende Simfonie het eers weer in 1940, ses maande na die Duitse inval in Nederland, onder die bekwame hande van Mengelberg plaasgevind. By daardie geleentheid is die simfonie as ‘n patriotiese oorwinningsopvoering beskryf. Baie van sy werk is in groot konsertsale deur ander bekende dirigente, waaronder ook Strauss, Pierre Monteux en Otto Klemperer opgevoer.
In die 1920's begin Cornelis met skoolkonserte, wat tot ’n tradisie uitgebrei het. Hy doseer komposisie en orkestrasie en onder sy leerlinge tel Henriëtte Bosmans, Rudolf Mengelberg en Max Tax.
Enkele maande voor sy dood het hy met ‘n huishoudster getrou, sodat sy Cornelis se pensioen kon kry. Hy sterf op nege en sestig in sy huis in Johannes Verhulststraat 127, Amsterdam en is in die Zorgvlied begraafplaas ter ruste gelê.
Van Koningin Wilhelmina het Dopper in 1930 die Zilveren Eremedaille voor Kunst en Wetenschap der Huisorde van Oranje, ontvang.
In 1970 het die Hotel Dopper se direksie, met Dopper se honderdste geboortejaar, sommige van sy komposisies weer laat lewe deur die Nederlands Blazers Ensemble.
Stichting Cornelis Dopper is in 1991, onder die wakende oog van biograaf Joop Stam (1934 - ) en Ida Datema Stam opgerig, met die doel om die belangstelling in Dopper se lewe en werk te bevorder. Joop was langjare onderwyser in Trompsburg, Suid-Afrika en het met Keet se seun (ook AD Keet) gekorrespondeer. Joop was ook direkteur van die Algemene Muziekschool in Zuid-Groningen en in 2009 en 2010 het Dopper Feeste in die Noorde van Nederland plaasgevind onder die vaandel van die Stichting Cornelis Dopper.
Met Dopper se honderd en vyftigste geboortedagherdenking het Joop Stam ‘n boekie gepubliseer oor die verhouding tussen Cornelis en Sophie Zimmerman in die tydperk 1898 - 1900. "Die brieven lezen als een dagboek. Je kan van dag tot dag precies lezen wat hij heeft gedaan en hoe hij zich voelde", skryf Stam. Die boekie Pamorah, Cornelis Dopper’s onsterfelijke geliefde, het Joop Stam dit aan Klaas Ykema Westerhius gegee – kleinseun van Sophie Zimmerman. Pamorah is natuurik die troetelnaam van Sophie Zimmerman.
In April 2013 word briewe ontdek wat Willem Mengelberg aan Dopper geskryf het. Die briewe is in die besit van die Siedenburgfamilie, nakomelinge van Cornelis se eerste vrou, Henriëtte Theda Siedenburg.
As blywende eerbetoon aan Dopper word daar op 13 Februarie 2010 ‘n standbeeld deur Joop Stam onthul op die Raadhuisplein in Dopper se geboortedorp, Stadskanaal. Die beeldhouer was Loek Bos. Dopper se lank verlore Requiem van 1935, wat Joop Stam opgespoor het, is hier vir die eerste maal uitgevoer. Stam en die Stichting Cornelis Dopper het ‘n Ridderorde, Visser Neerlandia Prys, van die Koningin van Nederland vir sy werk oor Dopper ontvang.
Dopper se naam pryk vandag nog op die balkon in die Consertgebouw Amsterdam tussen die ander grotes van sy tyd.
Ander Afrikaanse digters getoonset
JFE Celliers
Die Burger, 7 September 1965
Stigting Cornelis Dopper: Joop Stam, biograaf van Dopper se nalatenskap
Keet skryf op 26 Augustus 1968 aan sy seun oor ‘n vriendin op Trompsburg, Reneé Louw, wat namens Joop Stam toestemming gevra het om Muskietejag te laat toonset vir OVS Jeugkoor. Toestemming is verleen, maar die toonsetting kon nie opgespoor word nie.
Joop Stam aan die woord: “De Stichting Cornelis Dopper ontvangt de Visser Neerlandia-prijs Cultuur, voor haar werk ten behoeve van de herleving van belangstelling voor de muziek van Dopper. Ter gelegenheid van de 70e sterfdag van Dopper organiseert de Stichting in Groningen een Dopperfestival. Een van de hoogtepunten is in november de wereldpremière van het verloren gewaande 'Requiem' (1935), dat Dopper enkele jaren voor zijn dood schreef. Deze dodenmis voor koor en symfonieorkest (of orgel) werd door Dopper-biograaf Joop Stam ontdekt in het archief van het Nederlands Muziek Instituut in Den Haag en door hem in samenwerking met Marinus Degenkamp gereconstrueerd. In het Veenkoloniaal Museum te Veendam wordt in dezelfde periode onder de titel 'Cornelis Dopper, componist tussen Mahler en Mengelberg' een expositie georganiseerd.”
In April 1972 is Joop Stam deur die Vrystaatse Streekraad (SUKOVS) aangestel as Direkteur van Musiek en Opera. Hierdie pos het hy gevul tot sy vertrek in 1978. As direkteur van Opera het Joop nagenoeg 140 opvoerings van operas uit die standaardrepertorium en een-bedryfwerke, skoolkonserte, geleentheidskonserte, enkele oratoriums en toevallige musiek by toneelopvoerings gedirigeer. Tydens sy verblyf in SA het hy in 1966 en in 1977 lesings in Port Elizabeth en Bloemfontein oor die onderwerp aangebied en artikels in Die Burger en verskeie tydskrifte gepublisser.
Joop Stam: “We wilden de belangstelling voor het leven en het werk van componist en dirigent Dopper bevorderen en dat is ons gelukt. Zijn muziek wordt weer geregeld gespeeld. In Stadskanaal staat zelfs een standbeeld van hem. Hij is terug, en dat was ons doel."
Al die handgeskrewe partituur is ontvang van Joop Stam van die De Stichting Cornelis Dopper uit Nederland, maar die gedrukte kopie is meer leesbaar. Hier volg ‘n voorbeeld van die handgeskrewe dokumente:
Toonsetting: Winter
Toonsetting: Klaas Vakie
Toonsetting: Sneeu
Toonsetting: Kinderlied