CHARLOTTE BOTHA
* 9 Desember 1986, Klerksdorp, Noordwes Provinsie, Suid-Afrika
Gedig
Sneeu
Charlotte vertel haar verhaal tot dusver
1986 - 2004: Klerksdorp
Sy was bevoorreg om musieklesse te neem by wonderlike pedagoë soos Nesco du Toit, Wilna Bogenhofer en Werner Nel. Haar liefde vir Westerse musiekteorie is gegrond in Magda Wilson se noukeurige metodes. Tydens haar loopbaan as leerling van Laerskool Saamtrek en Hoërskool Wesvalia, is Charlotte verkies tot die Noordwes Kinderkoor en Jeugkoor, asook die Nasionale Jeugkoor waar sy die voorreg gehad het om te sing onder Rudolph de Beer, Awie van Wyk, Richter Grimbeek, Jacques Imbrailo, Sonja van Amstel, Ralf Schmitt en André van der Merwe.
2005 - 2013: Pretoria
Charlotte het in 2005 Pretoria toe getrek. In 2009 het sy haar BMus graad in koorleiding, musiektegnologie en musikologie aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en onder Johann van der Sandt in die TUKS Camerata gesing het. Haar loopbaan as koorleier in Pretoria het in 2009 begin met ‘n pos by Glenstantia Primary School, en later Pretoria High School for Girls, Hoërskool Oos-Moot en die UP Onderstepoort Kampuskoor. Verder was sy die dirigent van Singkronies Kamerkoor en assistent-dirigent van Akustika Kamerkoor en die TUKS Camerata. Charlotte het in 2008 vir een semester koorleiding studeer onder Rita Varonen in Jyväskylä, Finland. In 2010 het sy ‘n lid van die Wêreld Jeugkoor geword, en sy sing steeds in dié groep se alumni kamerkoor TIME Ensemble. Dit is as lid van hierdie groepe wat Charlotte regoor die wêreld gereis het en haar kennis en passie vir nie-Westerse musiek ontwikkel het. Tussen 2011 en 2013 was Charlotte ‘n deeltydse dosent in gehooropleiding by the Universiteit van Pretoria. Tussen 2006 en 2019 het Charlotte agt keer die ATKV-Serenade prys vir die beste nuwe Afrikaanse komposisie, en vier keer ‘n kategorieprys in die ATKV-Applous Komposisiekompetisie gewen. In 2011 het sy die klankbaan vir Lodewyk Barkhuizen se Loerie-wenner kortfilm “The Well” geskryf. Tussen 2013 en 2015 het sy die opdrag ontvang om die jaarlikse voorgeskrewe werke vir die Super 12 Laerskool Koorfees te skryf.
2013 - 2016: Drakensberge
In September 2013 is Charlotte aangestel as dirigent van die Drakensbergse Seunskoor waar sy saam met van Suid-Afrika se beste musikante, insluitend Liza Joubert, Johann van der Sandt, Lubabalo Dyasi en Bernard Kruger gewerk het. Die lewe met die singende seuns op die pad, op die verhoog en in die berge was by verre die gelukkigste tyd van haar lewe. In 2015 het sy haar meestersgraad in koorleiding by die Nelson Mandela Universiteit (destyds Port Elizabeth) onder Junita van Dijk en Peter-Louis van Dijk voltooi.
2017 - 2020: Texas
Aan die begin van 2017 het Charlotte vir ses maande gefokus op komposisie en beoordeling vir die ATKV-Applous Koorkompetisie. Daarna het sy Denton, Texas toe verhuis en haar Doktorsgraad in koorleiding en musiekteorie by die University of North Texas begin. Gedurende hierdie periode was Charlotte die dirigent van die UNT Women’s Chorus en assistent-dirigent van die University Singers en Dallas Symphony Chorus. Haar mentors was Richard Sparks, Joshua Habermann, Kristina MacMullen en Justin Lavacek.
2020 - New York
Sedert Mei 2020 woon Charlotte saam met haar man, Jeff Collins, in Clinton, New York. Sy is ‘n assistent-professor in musiekteorie en musikologie, asook Director of Choral Activities by Hamilton College. Sy het haar doktorsgraad in 2021 voltooi. Sy tree gereeld op as dirigent van streekskore en staatskore in die VSA, en hopelik na die pandemie weer internasionaal. Haar navorsingsbelang is in die aanleer van nuwe tale in koorsang. Sy is ‘n aktiewe komponis en verwerker onder die vaandel van die uitgewers Walton Music, E.C. Schirmer Publishing, Vektor en Santa Barbara Music Publishing.
Toonsetting: Sneeu