Berend ELBRECHT

BEREND ELBRECHT

* 1 April 1883, Schildwolde Gemeente, Slochteren, Groningen, Nederland

† 2 Oktober 1954, naby Tzaneen, Suid-Afrika

Transvaal Universiteit Kollege Personeel 1923, vlnr dr B Elbrecht, A Milton, mej Wagner, mej J Joubert, L Morgan. Sittende vlnr dr Aucamp, mejj Anderson en Ehrlich.

Gedigte

Klaas Vakie
Winter
Kinderlied
As Saands
Groot Suid-Afrika (opgedra aan Modest Lauwerijs)
Aan my moedertaal
Maar een Suid-Afrika

Elbrecht was ‘n botanis, akademikus, digter en komponis

Hindrik Elbrecht, ‘n dienskneg van beroep, was vyf en twintig toe hy op 31 Maart 1883 met Hillechien van der Wolde in Slochteren getrou het. Op 1 April 1883 word Berend Elbrecht gebore.

As gekwalifiseerde onderwyser het Berend sy beroep vir ‘n paar jaar in Gorinchem, Nederland, beoefen. Met ‘n uitruilskema in 1912 vertrek hy na Suid-Afrika en sluit by die Oos-Eind Skool in Pretoria aan. Aangesien botanie Elbrecht se grootste belangstelling was, het hy spoedig hierdie vak by die Onderwyskollege in Heidelberg, Transvaal, doseer. In 1919 trou hy met Josina Maria Boshoff en ‘n seun en drie dogters is uit hul huwelik gebore.

Aan die Normaalkollege in Pretoria doseer hy Botanie in 1920 en in 1923 is hy in dieselfde pos by die Transvaal Universiteit Kollege aangestel. Saam met Josina, wat ook ‘n Botanis was, skryf hy ‘n inleidende Afrikaanse skoolhandboek oor Botanie vir skole in 1922. Vir die boek het hy in samewerking met JH Pierneef en P Wenning pensketse gemaak.

Elbrecht het in 1926 ‘n senior lektorpos gekry en in 1930 het hy sy doktoraal in Botanie aan die Universiteit van Utrecht behaal.

Hy is in 1934 as professor en hoof van die Departement van Plantkunde en Biologie aan die Universiteit van Pretoria (UP) aangestel. As Botanis word hy aan sy werk by die Botaniese Tuin op die universiteitskampus, wat hom laat reis het na die Karoo, die Sandveld en Victoria Valle in Zimbabwe onthou. In 1941 is hy as ‘n Suid-Afrikaner genaturaliseer.

Met sy aftrede in 1943 het hy op sy plaas Lianas in Magoebaskloof, Limpopo gaan woon, waar hy 1954 oorlede is.

Op 20 April 2011 is ‘n gedenkplaat tot sy nagedagtenis in Manie van der Schijff Botaniese Tuin van die UP onthul. Sy enigste oorlewende kind, Joy Elbrecht-Crous, het die eer gehad om die onthulling te doen.

‘n Opmerking van JFE Celliers oor proefskrifte van Afrikaners: “Dat het Nederlandsch in alle opzichten rijk genoeg is om het Afrikaansch overal aan te vullen waar het als wetenschappelijke taal te kort schiet, blijkt uit twee andere, beide zeer belangrijke proefschriften van Afrikaners, die te Utrecht hebben gestudeerd: M. G. Mes over „Fisiologiese Siektesimptome van tabak" en den heer B. Elbrecht „Plantstudie onder konstante voorwaarden". Bij het lezen van deze werken vial ons een aardige opmerking te binnen, die prof. J. F. E. Celliers maakte op de te Bloemfontein gehouden Taal- en Kultuurkonferensie. Hij noemde het Nederlandsch „het latijn van het Afrikaansch". Het Afrikaansch kan zich, naar hij uitlegde, evenzeer in wetenschappelijke richting ontwikkelen en verrijken, als het Italiaansch in de vijftiende eeuw harmonie, kleur en verscheidenheid ontleende aan het latijn.”

Ten opsigte van musiek het die Nuwe Bundel Skoolliedjies: meerstemmig, met klavierbegeleiding, saam met H Visscher, by Van Schaik, Pretoria, 1922 verskyn, asook Nuwe Afrikaanse Skoolliedjies, NasPers, 1920, en ‘n Duitse leesboek in twee dele vir matrikulante in 1921 en 1924 onderskeidelik.

Soos gesien kan word op die gedrukte komposisies van Berend Elbrecht se toonsettings van Keet se gedigte, verskyn die naam van Hendrik Visscher (26/11/1865, Roermond, Hardewijk – 14/3/1928 Rustenburg, Suid-Afrika). Hendrik Visscher was ‘n onderwyser op Abcoude in Nederland toe die Nederlandsche-Zuid Afrikaansche Vereniging (NZAV) hom na die Transvaal gestuur het. Hy was een van Paul Kruger se Hollandse Onderwysers. As koorleier, komponis en versamelaar van liederewysies het Visscher baanbrekerswerk verrig. Hy het hom veral vir Christelike onderwys beywer. In 1893 het hy ’n musiekvereniging gestig en ’n blaas- en strykorkes gedirigeer, saam met musiekonderrig aan die spelers. Hy kon volgens oorlewering klavier, harmonium, tjello, viool, fluit, klarinet en hobo met groot vaardigheid speel. Visscher het baie in die Voortrekkers se liederewysies belanggestel en het tydens sy besoeke as inspekteur by plaasskole in die distrik wysies van die volks- en kerkliedere in gebruik opgeteken en versamel. Soos met Elbrecht, het hy ook saam met CG de Jonge (1865-1899) gewerk. Die eerste notering van liederwijzen is, sover bekend, in 1896 deur Hendrik Visscher gedoen.

Geen bewys kon gevind word dat Visscher van Keet se gedigte self getoonset het nie, maar hy was beslis by B Elbrecht se toonsettings betrokke, soos gesien word in die Nuwe bundel skoolliedjies: meerstemmig, met klavierbegeleiding van uitgewer Van Schaik, Pretoria, 1922.

Ander Afrikaanse digters getoonset

JM Boshoff, FJ le Roux en H Visscher.

Toonsetting: Winter

Toonsetting: As Saands

Toonsetting: Kinderlied

Toonsetting: Klaas Vakie

Toonsetting: Maar een Suid-Afrika

Toonsetting: Groot Suid-Afrika

Toonsetting: Aan my moedertaal