ARTHUR JAMES ELLIS
* 3 September 1909, Barnstaple, Devon, Ilfracombe, Engeland
† 22 Januarie 1992, Parkfields, Chippenham, Wiltshire, Engeland
Arthur en Beatrice Winifred (néé Jewel, 1903 – 1982)
Gedig
Maar één Suid-Afrika (1933, onopspoorbaar)
Komponis, dirigent, fotograaf, skilder in waterverf in Engeland en Suid-Wallis, skooladministrateur, uitvoerende kunstenaar, kookboek- en skoolboek-outeur, filmmaker vir televisie, eksaminator: akademiese tessisse
Ellis was ‘n neef van Alec Ashworth (1895 – 1959), wat ook gedigte van Keet getoonset het. Sy vader, William Henry Ellis (1884 – 1973), was 24 toe Ellis gebore is en het as ‘n koetsmaker (coach smith) gewerk. Sy ma, Anna Louise Brand (1888 – 1967), was een en twintig met sy geboorte. Sy het haar besig gehou met haar man en twee seuns, wie se name in die 1919 sensus van Engeland en Wallis as Arthur James Ellis en Herbert William Ellis aangeteken is.
Arthur Ellis trou in Junie 1933 met Beatrice Winifred Jewel. Hy het as opsigter by watervoorsiening in Ilfracombe gewerk. Van die min feite rakende sy lewe is dat hy as Britse immigrant in die Poswese in Suid-Afrika gewerk het. Uit enkele artikels, die Federasie vir Afrikanse Kultuurverenigings (FAK), die Museum van Chippenham, SAME en Die Brandwag, is karige inligting bekom.
Die FAK is herhaaldelik deur Afrikaanse musiekliefhebbers oral in Suid-Afrika versoek om grammofoonplate van hoër gehalte as “die vastrap-soort” te laat vervaardig. Op versoek van die FAK het die firma Gebr. Mackay in 1932 ingewillig om sewe plate met dertien Afrikaanse sangitems op te vervaardig teen 'n prys van 4/- vir 10" plate en 5/6 vir 12" plate. Hierdie geleentheid is aangegryp en met die welwillende medewerking van die plaaslike verteenwoordigers van die His Master's Voice-platemaatskappy het die FAK ‘n aantal Afrikaanse liedere laat opneem. Arthur Ellis het vir hierdie opnames onder andere die Heidelbergse Nederduits Hervormde of NG Kerkkore met begeleiding van die ABC Radio-orkes gedirigeer. Die kunssinnige wyse waarop hy groot, volmaak-gebalanseerde kore kon laat saamsing, lewer onmiskenbare bewys van Arthur Ellis se deeglike opleiding en toewyding aan sy musiek. Melding word gemaak van byvoorbeeld die treffende, melodieuse dog eenvoudige toonsetting, uitstaande vertolking deur die solis en die “ryke orkesbegeleiding” van die JFE Celliers gedig Dingaansdag.
Die nuwe plate word deur musiekliefhebbendes waardeer en stel ‘n nuwe standaard vir oorspronklike koorwerk van eg Suid-Afrikaanse aard. Ellis neem hiermee sy plek in onder die toonaangewende Afrikaanse musici.
Ander werke wat onder Ellis se dirigeerstokkie op plaat vasgelê is, is Stephen Eyssen se vertolking van AG Visser se Duisend-en-Een en CJ Langenhoven se Die Stem van Suid-Afrika, getoonset deur Stephen Eyssen.
Oor die Asafkore skryf S. Ign. Mocke ‘n artikel: Siel van die Volk in Sang: “Mnr. John Connell (1891 – 1955), die bekende Stadsorrelis van Johannesburg, sowel as mnr. Arthur Ellis, wat hom onderskei het deur sy knap toonsettings van Afrikaanse verse, het in die Asafkore twee kragte gehad wie se medewerking veel gedoen het om die welslae van die vereniging te verseker. Die bekende Asaf-koorbeweging, wat reeds sowat twintig jaar gelede in die lewe geroep is, en het sedert sy totstandkoming 'n sterk, vormende invloed op ons musiek uitgeoefen.” Die eertydse Die Sangvereniging in Johannesburg se naam is verander na die Asaf-koorbeweging. Die naam spuit voort uit ‘n woord in ‘n Psalm van Dawid in die Bybel: Oppersangmeester.
Die Troubadour Musiekklub wat in 1942 op Stellenbosch gestig is, was ‘n eksklusiewe damesklub wat hulle met musiek en voordragte besig gehou het. Joan van Niekerk was die eerste president en die eerste byeenkoms is gehou aan huis van mev Louwrens, suster van dr Karl Bremer. Die musiek van ML de Villiers, J Joubert, E Fismer, S le Roux Marais, A Ellis, S Richfield en PJ Lemmer is uitgevoer, saam met die groot meesters van musiek. Die Universiteit van Stellenbosch se Sangfees het in 1950 Arthur se komposisie van Voor in die wapad brand ‘n lig gesing. Twee van Arthur se komposisies is opgeneem in Liefdesweë wat deur Anna Bender-Brink saamgestel is.
Ander Afrikaanse digters getoonset
A Clarke, L Faul, S Edwards, S Richards, M du Plessis, CH Weich, CL Leipoldt, EN Marais, M Danielson, P de V Pienaar, FW Reitz, AG Visser, JFE Celliers, S van Vene, P de Villiers, B Gerstman en J Brent-Wessels.
Arthur James Ellis in sy vroeër jare