ARNOLD SPOEL
* 26 Desember 1859, Dordrecht, Nederland
† 12 Desember 1934, Kniestück, Duitsland
Gedig
Sing uit jou lied, 1918
Gevierde komponis, bariton, sangonderwyser en sangleier
“Ik ben een gelukkig mens, mede dank zij het Nederlandse lied” - Arnold Spoel
In twee van Spoel se liedere is sy verbintenis met Suid-Afrika duidelik hoorbaar. Vereenigd Afrika, Spoel se eie komposie wat in 1904 in Brussels opgeneem is, is in 1899 Aan de helden der Transvaal opgedra. Hierdie lied, saam met Keet se toonsetting van Sing uit jou lied, is aan President Paul Kruger geskenk met sy aankoms as banneling in Den Haag in 1901.
In Arnold Spoel se huis in Adriaan Pauwstraat, sien mens portrette van familie, vriende en herinneringe aan openbare uitvoerings van sy kore. Albei sy dogters, Greta en Martha Spoel, het die musiek-geen van hul pa Arnold en ma Martha (néé Pfeiffer), geërf. Greta was vanaf 1914 ‘n sangeres aan die Operahuis te Hannover.
Op veertien begin hy met sangonderrig by H Geul. As sewentienjarige sing hy in ‘n gemengde koor. Op hierdie brose ouderdom het hy in die Groote Kerk solosang van ‘n werk van Medelssohn gelewer.
Op agtien jaar was Arnold al ‘n gekwalifiseerde onderwyser en hy het ‘n halwe jaar lank onderwys in Maasdam gegee. Sy oom Willem Kes het gehelp dat Spoel hom heeltemal aan sang kon toewy. Hy ontvang sangles by W Gips en komposisie by W Kes. Nie lank daarna nie neem hy afskeid van sy skool en vestig sy loopbaan in musiek en sang deur ‘n reeks konserte in Nederland. Arnold studeer later eers in Keulen, waar sangmeester C Schneider hom leiding gee. Daarna beweeg hy na Berlyn waar hy operaklas by G Engel bywoon, in komposisie onderrig word deur Nicolaï en Mann en in viool deur JG Mulder.
Daniël de Lange het Spoel se mooi stem ontdek en het hom in sy beroemde acapella koor opgeneem waar hy liedere van J Messchaert gesing het. Prof Schulze verbonde aan die Kön. Hochschule het ook vir Spoel opleiding gegee. In Berlyn het Spoel in verskeie operahuise gesing en hy word as eerste bariton in die nuwe Operahuis wat in Berlyn opgerig is, aangestel. Hierdie operahuis het nie lank bestaan nie en Spoel moes ‘n nuwe heenkome soek. In 1884 word hy dirigent van die Operahuis te Wezel, maar dit het ook ten gronde gegaan. Mei 1885 word hy as dosent vir die koorklasse aan die Kön. Muziekschool in Den Haag aangestel. Hier het dit buitengewoon goed gegaan en kort na sy aanstelling styg die leerlingtal tot honderd en sestig.
Met sy aanstelling as dosent vir soloklasse groei die leerlingtal weer en nog ‘n dosent moes aangestel word. ‘n Pos aan die Konservatorium te Keulen in 1910 het hy van die hand gewys. Uit dankbaarheid dat hy aangebly het, is sy vriende en studente aangespoor om vir hom ‘n vleuelklavier present te gee. Die dameskoor Euphonia en die gemengde koor Melesofia het hom in onderskeidelik 1889 en 1897 tot dirigent verkies.
Op luisterryke wyse het die Koninklike Konservatorium Spoel se veertigste diensjaar in 1925 gevier en in Desember 1929 tree hy eervol na vier en veertig jaar diens af. In sy dienstydperk het hy honderde leerlinge opgelei en so wêreldbekend geword. Sy beste leerling word aangewys as Ana Stronck-Kappel.
Die grootste sukses wat Spoel behaal het, was in 1903 met die stigting van die Spoel Vocaal Ensemble. Die koor het meestal uit afgestudeerde leerlinge, wat binne-, sowel as buitelands opgetree het, bestaan.
Die grootste roem en populariteit het Spoel deur sy leierskap in Volksang verkry. Sedert 1915 was hy al ‘n organiseerder en leier van die sogenaamde Spoelavonden, wat elke goeie Hagenaar meer as een keer bygewoon het. Die koor het op ‘n stadium uit vyf en sestig lede bestaan. Die koor en Spoel is in 1927 na Frankfort am Main waar hulle tydens die Internasionale Kongres vir Musiek ‘n uitbundige sukses was. Toe was dit weer tyd vir ‘n toer na Frankfort, Wiesbaden, Hamburg, ensovoorts.
Die verhaaltjie van Spoelaande: Op ‘n dag in 1914, kort voor die oorlog uitgebreek het, het ‘n oudleerling van Arnold hom na die stigtingsvergadering van Vereniging vir Volkzang genooi. Hulle het ‘n leier en inkomste nodig gehad en Arnold was die aangewese persoon. Met die eerste Volkzangavond in Diligentia op 19 November 1914, was ongeveer drie honderd mense teenwoordig. Toe hy agterkom die gehoor kan sing, verander hy die mopje Ik heb m’n wagen volgeladen vol met oude Wijven na Ik heb mj’n wagen volgeladen vol met jonge Meisjes! Toe begin die saal dreun! Daardie aand het tagtig mense by die Vereniging van Volkzang aangesluit. Drie weke later volg die tweede sangaand – en ‘n honderd nuwe lede sluit aan. Die staat het finansiële hulp aangebied sodat ‘n groter saal gehuur kon word. Met die volgende sangaand moes vyfhonderd mense huis toe gestuur word - die groter saal was helaas te klein.
Die grootste aantal mense wat Spoel ooit as gehoor gehad het, was in Frankfurt op ‘n groot oop stuk veld in die stad – twintig duisend mense. Arnold vertel: “Na een van mijn zang-avonden ging een troepje meisjes hossend naar huis. Op het Plein komen ze een sergeant tegen. Die kwam netgoed te pas. Voordat hij weg kon spannen dansen ze hand in hand in een kring om hem heen en zingen: Sergeant, sergeant, je broekie staat in brand! Het slachtoffer schuimbekt van woede. Maar de meisjes hebben net zoo lang gezongen totdat het sergeantje is mee gaan zingen en hossen! Ziet u, zulke dingen doen me zoo intens goed en steunen me in mijn werk. ‘Weg met die stijfheid van ons!’ is langzamerhand mijn leus geworden.”
Dit was tydens die moeilike oorlogsjare en die ellende het juis gehelp om die hunkering na ongebonde pret tydens ‘n aandjie uit te geniet. Die Nederlanders was volgens Spoel aanvanklik beskimmeld en teruggetrokke, maar dit het mettertyd verbeter.
Watter sangaand was vir hom die beste? Sy antwoord: “Aan dien bij de Koninklijke Familie den vorigen winter op het Loo – dat was werkelijk een onvergetelijke dag voor me. De Koningin had de arme Apeldoornsche kinderen uitgenoodigd – tjonge wat glomen die gezichtjes toen ze in de prachrige zalen van het Loo binnekwamen en er in de pause allerlei lekkernijen warden rondgediend. Maar het allermooiste oogenblik was, toen de Prinses uit eigen beweging opstand en een lied zong, en haar ouders het refrain meezongen.”
Spoel was op die redaksie van Zingende Stemmen, waarvan JPJ Wierts redakteur en Anna-Lambrechts-Vos en Hendrik C van Oort medewerkers was.
Met Spoel se sewentigste verjaarsdag is ‘n grootse huldigingsaand met samewerking van die Hoogsche Afdeling van Volkzang op 27 Desember beplan. In die dieretuin is ‘n buitengewone sangaand gehou, waar Spoel kersliedere gesing het.
TJ WR de Haan, voorsitter van die Technisch College van de Nederlandse Vereniging voor de Volkszang, skryf: “Arnold Spoel, hij staat - zeer terecht - met een twaalftal regels vermeld en besproken in een beknopte en zeer verspreide ‘Encyclopedie der muziek’, tussen de Rus Jascha Spiwakowsky en de Duitser Ludwig Spohr. Veel immers heeft de actieve en sympathieke Arnold Spoel verricht in zijn lang leven, en zijn blijvende betekenis ontleent hij aan zijn scheppend en nog meer aan zijn pedagogisch werk op het gebied van de Nederlandse volkszang. Van zijn composities werden volksbezit het gemoedelijke en tevens rustig-zelfbewuste ‘Wij willen Holland houwen’ en het grappig-kinderlijke liedje ‘Onder moeders paraplu’.”
Van Keizer Wilhelm ontvang Spoel De Ridderorde van die Rooden Adelaar. Die Nederlandse regering het hom benoem tot Ridder in de Orde van Oranje Nassau en Offisier in de Huisorde van Oranje.
Met die troue van Haar Majesteit die Koningin (Wilhelmina) het hy die gemengde koor in die Groote Kerk Amsterdam dirigeer en van die koorlede het hy ‘n goue medalje, asook ‘n silwer medalje van die Departement van Kuns en Wetenskap ontvang. Duitsland, Frankryk en Denemarke het hom verder vereer met ‘n Ridder Orde.
Die Koninklijke Zangvereniging Cecelia het hom ‘n lid uit verdienstelikheid gemaak en die Muziek Vereniging van Euterpe het hom tot erelid verklaar.
Koerantberig oor sy afsterwe: “Crematie Arnold Spoel – Een laaste groet van de Hagenaars. ‘s Gravenhage, 14 December 1934. Heden, den dag der crematie van het stoffelijk overschot van den beminden volkszangleider, Arnold Spoel, is aan de Haagsche ingezetenen de gelegenheid gegeven een laatste afscheid te nemen. De kist stond opgesteld in de voorhall van het gebouw van Kunsten en Wetenschappen, waar Spoel zoo velejaren gewerkt heft ten bate van den volkszang. De hall was ingericht als chapelle ardente. Gedurende het defile werd treurmuziek gespeeld “Van een Koningsvrouwe”, door Spoel gecomponeerd. Het defile, waaraan door velen werk deelgenomen, duurde een uur.”
Arnold Spoel is op 15 Desember 1934 veras.
Die dorpsplein in Loosduinen, Den Haag, is na Arnold Spoel Plein herdoop.
Van sy komposisies, onder andere Wij willen Holland hou en Ons Holland fier maar klein is in die liedbundel Kun je nog zingen, zing dan mee opgeneem.
Ander Afrikaanse digters getoonset
CJ Langenhoven, HA Fagan, JFE Celliers, M du Toit, M Brink en CL Leipoldt
De Indische Courant Woensdag, 21 Feb 1934
Haagsche Courant, Saterdag 8 Oktober 1934
Nieuwsblad van het Noorden, Saterdag 15 Desember 1934
Toonsetting: Sing uit jou lied