Anton Erich KRATZ

ANTON ERICH KRATZ

* 2 Februarie 1917, Sambor/Galicia, Oekraïne

† 14 Januarie 1980, Innsbruck, Oostenryk

Gedig

Ek hou van Blou, onopspoorbaar

Kratz was ‘n komponis, musiekdosent, dirigent en orrelis; nederig en hardwerkend

“Kratz’s legacy is an extraordinarily remarkable musical one.”

Sy vader was ‘n offisier wat afgedeel was na die Oostenrykse monargie vir diens in Galicië (Spanje). Die grootste deel van sy jeug het hy by sy grootouers in Innsbruck deurgebring, waar hy ook sy skoolloopbaan voltooi het. Sy familie het sy uitsonderlike talent herken en hom gedurig aangemoedig.

Sy basiese musiekopleiding was in Wenen en Innsbruck, onder P Weidling en J Eduard Ploner. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was hy musiekdosent aan die Tiroolse Opleidingskollege.

Na die oorlogsjare het hy vir homself naam gemaak deur ‘n klein kamerorkes te bestuur. In die dorp Absam in Oostenryk was hy ‘n gerekende komponis van kerkmusiek. Al was hy ‘n gesiene komponis en orkesleier, was daar nie volhoubare vooruitgang in Tirool nie en besluit hy om te emigreer na Suid-Afrika om vir homself ‘n loopbaan uit te kerf.

In Suid-Afrika was die situasie van so ‘n aard dat hy sy talente kon uitleef. Dit kan gesien word uit ‘n koerantresensie van 8 Augustus 1951: “Dit is onmoontlik om prof Kratz te hoog te ag” en “…die beroemde prof Anton Kratz.”

Hy was by die Operavereniging in Pretoria betrokke en direkteur van die Messias Koor in Johannesburg. By die Universiteit van Pretoria het hy as professor, konsertpianis en dirigent opgetree.

In Februarie 1956 het Kratz leiding van die Duitse Mannekoor in Vanderbijlpark oorgeneem. Die koor het tot stand gekom onder die Duitse immigrante wat aan die staalnywerheid in Vanderbijlpark verbonde was. Die eerste dirigent van die koor was E Frohne. Met ’n ledetal van vyftig het hulle in Johannesburg, Pretoria en ander Transvaalse dorpe opgetree. Aan die begin van 1958 vertrek Kratz uit Vanderbijlpark en die koor was tydelik sonder dirigent.

In die vroeë 1960’s het Anton na Frans Ekwatoriaal Afrika (Gaboen) gereis en in die veldhospitaal in Lambaréné, by die Nobel pryswenner Albert Schweitzer, besoek afgelê. Schweitzer het hom onderrig in orrelspel. Met hierdie opleiding agter die rug, het sy uitvoerings in Suid-Afrika bekend geword en het hy gereeld as dirigent en solis in kerke opgetree. Schweitzer het hom geïnspireer om ‘n rapsodie vir twee klaviere te komponeer.

Kratz het ‘n koor bestaande uit lede van die Bantoebevolking gestig. Dit het fel kritiek uitgelok en gelei tot die boikot van sy werk en uitvoerings. Kratz het diepgaande gesprekke hieroor met Schweitzer gevoer en baat gevind by laasgenoemde se humanitêre lewensuitkyk.

Die FAK het in die sestigerjare ‘n Plateklub gestig. Aangesien die kommersiële verspreiders van plate nie belang gestel het in die bevordering van die Afrikaanse plaat nie, het die FAK vanaf 1965, 10 plate per jaar teen R3.50 elk deur Brigadiers laat versprei, onder die etiket Luistergenot. Die plaat wat in Desember 1966 verskyn het was getiteld Engelkoor en bestaan uit 12 Afrikaanse Kersliedere, gesing deur die Cantare-Sanggroep onder leiding van H Strauss en P de Villiers. Kratz se verwerking van Susa-Ninna is op hierdie plaat te hoor. Ander name wat by hierdie opname betrokke was, is onder andere TW Jandrell, PK de Villiers, H du Plessis, DJ Opperman, JS Beyer, GG Cillié. Rudi Neitz en Kratz het ook ‘n vinielplaat Liederskat vir Elke Huisgesin die lig laat sien, met Kratz as orrelspeler. Liedere van S le Roux Marais, G Bon, S Richfield, P Elliot, L Rossel, AA Penn, L Mason, MH Brake, Beethoven en Händel is hier te hoor.

Aan die einde van 1960 het Kratz ‘n boek gepubliseer wat die politieke situasie in Suid-Afrika volgens sy perspektief uiteengesit het. In die voorwoord staan: “The author lived in South Africa for almost twenty years – a white man who learned to see black. Back in Europe today, he takes stock; a balance sheet of terror, acts of violence and oppression."

Ongeag van sy groot sukses as konsertpianis, strewe hy na perfeksie en gaan studeer onder Julius Katchen in Amerika. So vind hy sy tweede groot musiekliefde: die pyporrel.

Kratz voel bedreigd in Suid-Afrika en vertrek terug na Tirool in 1968. In Oostenryk het hy by pastoor Van Gries am Brenner verblyf gekry. Die distriks-kapelmeester, F Wessiack, het vir Anton ‘n pos by die Steinach Secondary School gekry as dosent in musiek, Engels, Duits en Geografie. Hy verhuis na ‘n ou huis in Brennerstrasse in Gries am Brenner, want sy moeder het ook Suid-Afrika verlaat, en teruggekeer na Tirool. Die energieke moeder het die honde saamgebring en ‘n groter spasie was dus nodig.

Spoedig het hy te veel werk gehad. Opleiding, orrelis, dirigent, ontwikkeling van musiek by Steinach skool, komponering vir kore en blaasorkeste het sy lewe gevul.

Alhoewel hy onder druk gewerk het, was daar merkwaardig min foute in sy handgeskrewe musiek. Sommige manuskripte was nie volledig nie, aangesien hy dit vir homself geskryf het en die laaste note nog in sy kop was.

Die einde van sy loopbaan by die Musikkapelle Steinach en as dirigent by die Eisenbahnermusiek Innsbruck was die gevolg van plaaslike blatante miskenning van sy talent en disrespek vir sy artistieke werk. Hul vertroue in hom het die Secondary School in Steinach genoop om hom in diens te hou en dit was hier waar hy sy eerste hartaanval oorleef het.

Sy laaste woonplek was in ‘n voormalige leerverwerkingsfabriek in Steinach. Hy het dit Palais Kratz genoem en het tevrede en gemaklik daar gevoel.

Onderweg na die musiekskool op die middag van 14 Januarie 1980 het hy ‘n hartaanval agter die kerk in Steinach gehad en dit nie oorleef nie - dit was toevallig op sy groot vriend, Albert Schweitzer, se verjaarsdag.

Tot eer van Albert Schweitzer se 90ste verjaarsdag het Anton twee komposisies vir klavier en orkes South African Rhapsody gekomponeer. Sy komposisies word weens die unieke, persoonlike styl, allerweë gerespekteer, hoewel nie deur Jan Alleman begryp nie.

Alhoewel sy werk grotendeels in die vergeteldheid verdwyn het, het die 100 jarige herdenking van sy geboortejaar gelei tot afstof. Trumpet Mass, gekomponeer deur Kratz, is op ‘n christelike fees, Feast of the Holy Encounter in Tirool uitgevoer.

Sy nalatenskap bestaan onder andere uit sewentig orkeswerke. Hy het verskeie werke vir groot koperblaasorkeste en klein ensambles gekomponeer en ‘n aantal boeke het uit sy pen verskyn.

Lambaréné, Gaboen 1964. Albert Schweitzer en Erich Kratz