Anneli VAN ROOYEN

ANNELI VAN ROOYEN

* 25 Februarie 1961

Gedig

Muskietejag

Anneli beskryf haar lewensreis

“Ek is ‘n gebore en getoë Pretorianer wat op 25 Februarie 1961 die eerste lewenslig met entoesiasme aanskou het!

Ek het van baksteenhoogte af gehardloop, gespring en veral gesing, wat meegebring het dat my eerste sangoptredes sommer op Kleuterskool afgeskop het. My jare op Laer- en Hoërskool Menlopark was gevul met swem, atletiek, velditems, kultuur en sing, maar dit is eers na ‘n ernstige skouerbesering wat musiek die eerste plek ingeneem het.

As eerstejaartjie op Tukkies is ek in 1979 aangewys as die algehele wenner van ATKV Crescendo, waarvoor die eerste prys ‘n plaatopname by EMI Brigadiers was. Dit was die Genade-sleutel wat my sangloopbaan oopgesluit het en my eerste album, “Neem my saam”, is in 1980 uitgereik. So het my lewensreis ‘n musiekreis geword.

Die geskiedkundige Musiek en Liriek beweging waarvan ek in die vroeë tagtigs, deel was en Jannie du Toit se Margarethastraat samekomste het die weg gebaan vir die destydse TRUK om betrokke te raak by ligte Afrikaanse musiek. In 1983 is ek gevra om ‘n nuwe eksperimentele Afrikaanse liedjieprogram saam te stel en aan te bied by die Staatsteater in Pretoria en wat beplan was vir ses maande, het ‘n verstommende eerste speelvak van tien agtereenvolgende jare tegemoet gegaan. Met Kerslig, Vers & Melodie kon ek bo en behalwe bekende en briljante kunstenaars, ook die kollig laat val op die skeppings- en vertolkingswerk van talle van ons begaafde liedjieskrywers.

My eerste liedjie “See en die wind”, is gekomponeer by Nature’s Valley, enkele weke nadat ek op veertien ‘n kitaar by my ouers persent gekry het. Hoewel ek op laerskool klavierlesse geneem het, was my aanklank met die kitaar diep en oombliklik. Talle liedjies en lirieke het gevolg waarvan sowat vyf en vyftig komposisies en meer as honderd lirieke opgeneem is.

Skeppingshoogtepunte is daar te veel om op te noem, maar die temaliedjies vir televisiereekse was heerlik, en toonsettings beklee ‘n ereplek in my musiekbelewenis. Die skatkis van Afrikaanse gedigte is ‘n eindelose bron van die wondere van ons taal, en ons weergalose digters wat wêrelde ontsluit met hulle woorde.

Om te dig is eintlik “kleinkuns”, “enkelkuns”. Net die digter en die woorde op papier. Om daaraan te raak met musiek, maak die enkelkuns wyer, stel dit voor aan ‘n groter gehoor, maar ek wil altyd onthou dat dit in die eerste plek die digter se spreekbeurt is.

My musiekreis het my regoor Suid-Afrika geneem vir die ondervindings van ‘n leeftyd! Talle albums, treffers, toere, orkes- en spanvriende, stukkende voertuie, onvergeetlike konserte, gehore en herinneringe!

Die mense van ons land is onlosmaakbaar deel van my storie en hulle volgehoue liefde, ondersteuning en gebede – ook en veral - toe ek nie meer kon optree nie, bly vir my ‘n kosbare, onvervangbare lewenslyn.

Want my lewensreis het bitter skielik en skokkend geskei van musiek – amper ‘n splitsing van my DNA – toe ek in 2007 tydens ‘n dagprosedure ‘n besering aan my regterkaakgewrig opgedoen het, asook onherstelbare skade aan my regter trigeminale gesig- en mondsenuwee. Onwrikbare geloof was my anker en my geliefde ouers en klein sorgkring my vangnet.

So het my lewensreis vermeng geraak met versengende pyn, mediese praktisyns en regslui - totaal ander wêrelde as musiek. Ek moes talle klipharde lesse leer uit hierdie koersaanpassing, deurloop onder gewetenlose mense en agterkom dat die stelsel so aanmekaargesit is dat selfs die waarheid nie goed genoeg is nie. “It’s not about the truth, it’s about the proof”!

Ontnugtering is ‘n betekenisvolle slypskool indien mens besluit om met ‘n oop kop, ‘n dapper hart en in liefde wat alles bedek, jou pad te vind. Elke dag te kies vir Lig.

Daar’s baie stof-bytery, slaggate en slap rieme! Moeg-geploeg se vlaktes, val, lê, opstaan.

Maar op hierdie afdraaipaaie is daar ook ontelbare stukke vars, onverdiende Genade, voorsiening, vreugde, seëninge, hartsmense, voorregte, gawes en vrugte van die Gees.

Na ‘n verbintenis van meer as vyftig jaar met die lieflike Tuinroete en die Suid-Kaap, het ek in 2022 tot ruste gekom in George, waar ek diep dankbaar en gelukkig is.

Die wêreld het radikaal verander en meer lê voor. Het my lewensreis se afdraaipaaie my beter voorberei as wat die hoofpaaie sou gedoen het? Ek hoop en glo so!

Tussen alles wat onseker is, is daar een onveranderlike Waarheid waaroor ons nooit hoef te twyfel nie. Niks, niks, absoluut niks, kan ons skei van die Liefde van God, wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”

Toonsetting: Muskietejag

Briewe

Tussen al die briewe uit die Nalatenskap van AD Keet, is verskeie stories oor Muskietejag gevind. Hier skryf Keet aan sy seun oor Fanus Rautenbach op 23 November 1963:

Keet skryf aan sy seun op 14 Maart 1962:

Cobie, Keet se dogter uit sy eerste huwelik het die gebeurtenis aan haar pa vertel, wat in ‘n brief aan sy seun gevind is: ‘n Lesing in Amerika van 1 Junie 1959:

Musiek: Muskietejag op YouTube

Muskietejag op YouTube