ANNA SIBILLA SCHUMACHER - Aennchen
* Maandag, 22 Januarie 1860, Bad Godesberg, Bonn, Duitsland
† Dinsdag, 26 Februarie 1935, Bad Godesberg, Bonn, Duitsland
Gedig
Kom, Afrikaners
Toonsetter, skrywer, herbergeienaar, studente-moeder. Sy het haar noemnaam na Aennchen verander en het nooit getrou nie
Gertrud (1817 – 1900) en Wilhelm Schumacher (1828 – 1878) se gesin het bestaan uit 12 kinders – tien gebore uit Getrud se eerste huwelik, en daaropvolgend hul dogter Aennchen toe Getrud reeds 42 was, en ‘n jaar later haar boetie Josef. Pa Wilhelm, die seun van ‘n bosbouer, het sy gesin onderhou as eienaar-bestuurder van die Gasthof zum Godesberg, aan die voet van die Godesberg, naby Bonn (Duitsland). Die jonge Aennchen se musikale talent was van meet af aan opvallend en gevolglik het sy, benewens die tradisionele opleiding in huishou, ook klavieronderrig ontvang. Vanaf ouderdom 12 tot 14 het sy as koshuisganger ‘n skoolleerplan gevolg wat klavierlesse ingesluit het. Volgens haar eie mededeling het haar prestasie met die klavier haar akademiese sukses verreweg oortref. Aennchen het saam met haar broer Josef, die joviale ekstrovert en gewilde pianis, in die studentekroeg van die Gasthof zum Godesberg opgetree en gou geliefd geraak. Na sy troue het Josef egter sy pad as besigheidsman buite die gastehuis-omgewing uitgekerf.
Toe pa Wilhelm in 1878 sterf, neem die 18 jarige Aennchen saam met haar ma en een suster, Gertrud Rieck, noodgedwonge die bestuur van die herberg oor. Op 4 Desember 1891 koop die susters die herberg van hul ma. Met Aennchen as toegewyde studente-moeder raak die herberg toenemend bekend en gewild deur die ganse Duitse Ryk. Oorlewering wil dit hê dat tot soveel as 500 studente uit nabygeleë universiteite saans die herberg besoek het om mee te doen aan die samesang en bierdrink en in die gesellige atmosfeer te kuier. Aennchen het die Gasthof zum Godesberg tot aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog bedryf. Die herberg het in 2016 finaal sy deure gesluit.
In die laat 1920’s is Aennchen se gewildheid bevestig deur ‘n drie-bedryf liriese studente-opvoering met die titel Aennchen. Sy, haar suster Träudelchen en die sanger Ferdinand Schroeder het die musiekstuk, gekomponeer deur Edmund Saltin, op die planke gebring. Die wyse waarop Aennchen van die Keet gedigte bewus geword het, is nie bekend nie, maar die feit dat Saltin óók een van die Keet gedigte (Groot Suid-Afrika) getoonset het, bevestig dat toonsetters in Duitsland kennis gedra het van die werk van die Suid-Afrikaanse dokter-digter.
Teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog was Aennchen 58. Sy verlaat die herberg en verhuis na ‘n wooneenheid in Friesdorfer Strasse 3, minder as 300 meter van die Schumachers se gesinswoning af. In hierdie gesellige huis, waar sy tot haar dood gebly het, het sy ‘n klein drukkery en ‘n posdiens op die been gebring om haar musiek, toonsettings, poskaarte en memoires te druk en te versprei. Sy het reeds in 1903 haar eerste boek gepubliseer, wat bekendgestaan het as die Kleines Kommersbuch, ‘n tipe sangbundel wat destyds kenmerkend was van die studentekultuur in veral Duitsland en Oostenryk. Aennchen se bundel het die liedere bevat wat studente jare lank tydens byeenkomste by die Gasthof zum Godesberg gesing het en waarvan sy en veral haar broer Josef heelparty getoonset het en ander versamel en neergeskryf het. Hierdie bundel is in 1924 uitgebrei en as Aennchen’s Liederbuch gepubliseer. ‘n Enkele uitgawe van die geïllustreerde weergawe het as kleinood behoue gebly en word ten toon gestel in die ou familiewoning, deesdae bekend as Aennchenheim, in Bad Godesberg. Dit bevat onder andere 468 liedere, fotografiese illustrasies en fotos van digters en toonsetters.
Alhoewel dit algemene kennis was dat die latere ontwikkelinge en veranderinge aan die Gasthof zum Godesberg haar dwars in die krop gesteek het, het Aennchen se bekendheid en gewildheid voortgeleef en is daar goediglik na haar verwys as dat sy die “gees van Godesberg” verpersoonlik. Daar is mettertyd ‘n straat en ‘n plein in Bad Godesberg na Aennchen vernoem en in 1925, in haar 65ste jaar, is ere-burgerskap aan haar toeken. Met haar vyf en sewentigste verjaarsdag – wat dwarsoor Duitsland herdenk is - het sy bykans 5000 briewe met goeie wense van aanhangers van wyd en syd ontvang. Daar het selfs ‘n briefie van Keiser Wilhelm II opgedaag en ‘n poskaart van ‘n aanhanger uit Kiautschou in China. Só wyd was sy bekend dat heelwat posstukke bloot geadresseer was aan Aennchen, Deutschland. Skaars 5 weke later het honderde Godesbergers en oudstudente wat die kameraderie by die Gasthof zum Godesberg dekades lank gekoester het, opgedaag om haar te begelei op haar laaste reis na die Kasteel Godesberg, waar sy ter ruste gelê is.
Op 22 Januarie 2010, wat Aennchen se 150ste verjaarsdag sou wees, het die eietydse eienaars van Gasthof zum Godesberg ‘n brons gedenkplaat op die fasade van die eertydse herberg aangebring. Dit beeld Aennchen uit waar sy onder ‘n groot lindeboom twee studente bedien en as klavierspeler in die herberg optree. Dit sinspeel ook op haar bynaam, Lindenwirtin, wat verwys na ‘n bekoorlike, aantreklike gasvrou wat mense onder ‘n lindenboom, die simbool van romanse en somervreugde, bedien – inderdaad ‘n akkurate uitbeelding van ‘n uitsonderlike vrou.
Ander Afrikaanse digters getoonset
Omdat die Musiekkomitee van die Volksangbundel wou verseker dat die woorde van Kom, Afrikaners van AD Keet behoue bly, is Dirkie de Villiers gevra om vir die 1979-uitgawe ‘n nuwe toonsetting te maak.
Theo Wassenaar, By die Mylpaal, opgeneem in FAK saksangbundel.
Uitgave van de N.V. Uitgevers-Mij. “Neerlandia”, 83e Jaargang, Limburg Koerier, Woensdag 24 September 1930, Tweede Blad, no 224; Utrechtsch Provinciaal en Stedelijk Dagblad 25 Januarie 1930
Toonsetting: Kom, Afrikaners