Anna Catharina LAMBRECHTS-VOS

ANNA CATHARINA LAMBRECHTS-VOS

* 29 Junie 1876, Rotterdam, Nederland

† 16 Januarie 1932, Utrecht, Nederland

Gedigte

Groot Suid-Afrika, 1924
Aan my Moedertaal, Soest, 1925
Sing uit jou lied
Kom Afrikaners, 1924

Anna het bekend gestaan as ‘n Mennonite musikant, orrelis, dirigent en komponis

Sy was die jongste van vier kinders, drie meisies en een seun, uit ‘n Doopsgesinde gesin in Rotterdam. Haar broer was Karel Vos, ‘n Mennonite predikant en ‘n uitstaande historikus. Haar vader was Matthijs Vos (1842 – 1904), ‘n onderwyser wat kerkraadslid was. Anna se ma was Wilhelmina Wijbrands (1842 – 1904).

Na haar laerskoolopleiding volg sy kortstondig ‘n opleidingsprogram aan die Hogere Burgerschool, maar sy verlaat skool op vyftienjarige ouderdom om haarself aan musiek toe te wy.

Anna kry al van vroegsaf klavier-, orrel-, en harmonieleer van Joz. Schravesande. Klaviertegniek leer sy by JH Sikemeier, kontrapunt by B Zweers en instrumentasie leer sy by W Hutschenruyter. Haar hoofinstrumente was klavier en orrel.

Op tienjarige ouderdom skryf sy haar eerste komposisie - musiek op die gedig van Vondel, Waar werd opregter trouw.

Vos trou op 22 November 1902 met Wilhelmus Hendrikus Lambrechts (1875 – 1926), ‘n boekhouer van beroep in Rotterdam. Geen kinders is uit die huwelik gebore nie. Na haar troue het sy studente begin oplei. Sy komponeer vir hulle en komponeer ook kinderliedjies, waarvoor sy self die teks skryf. Ook begin sy ‘n klein uitgewery tuis.

Van 1894 - 1928 is Anna orrelis van die Doopsgesinde Gemeente in Rotterdam. Sy komponeer veral kamermusiek. In 1895 verower sy die derde prys in ‘n komposisiewedstryd van die T.A.V.E.N.U. maandblad met haar Te Meie. Die musiektydskrif Caecilia publiseer in Mei 1898 ‘n resensie vol lof oor een van haar orrelkonserte.

In 1905 organiseer sy ‘n musiekkonsert in die Koninginnen Zaal van De Doelen. Hier word haar eie kinderliedjies so suksesvol uitgevoer dat die liedjies in boekvorm, genaamd Het Boekje van Tante An, in dieselfde jaar gepubliseer word. Die boek word ook in Engels uitgegee as The Dutch Dolls’s Ditties. Saam met die sangeres Emmy Denijs-Kruijt het sy landswyd en in Parys, Frankryk, opvoerings met die kinderliedjies op die planke gebring.

As komponis maak Anna in 1907 ‘n internasionale deurbraak met twee strykkwartette, waarvoor sy een eerste prys en een buitengewone onderskeiding in Triëst, Italië ontvang. Die Quartetto Triëstino voer hierna die werke internasionaal op.

In 1910 is Anna dirigent van die Rotterdamse sangvereniging Amphion. As gevolg van gesondheidsprobleme moes sy hierdie pos in 1914 verlaat.

Tuis het sy begin orkeswerke komponeer en dirigeer sy die Utrechtsche Stedelijk Orkest by die eerste vertoning van haar eie Stemmingsbeelden voor Strijkorkest. W Mengelberg het haar mentor gebly.

Anna publiseer artikels en skryf resensies in Het Leven, De Kunst der Vrouw en Groene Amsterdammer. Sy was twee jaar lank as korrespondent verbonde aan die Weekblad voor Musieki in Rotterdam, en aan Zingende Stemmen, waarvan JPJ Wierts die redakteur was.

In 1911 word sy lidmaatskap aangebied deur die Genootschap van Nederlandse Componisten. Dit was ‘n besonderse groot eer wat haar te beurt geval het in ‘n tydperk toe manlike komponiste die musiekwêreld oorheers het.

Drie van haar kinderliedjies is opgeneem in Kun je nog zingen, zing dan mee!

In haar woning te Grovensingel 12, Rotterdam het Anna in 1925 Suid-Afrikaanse liedere onder die titel Groot Suid-Afrika – Nuwe Suid-Afrikaanse Liedere getoonset op tekste van Suid-Afrikaanse digters. Hierdie liedere in Groot Suid-Afrika is onder andere uitgevoer tydens die herdenking van die 100ste geboortedag van Pres. Paul Kruger.

Jan Bouws skryf in Die Huisgenoot van 22 November 1946: Anna Lambrechts-Vos was besonder ontvanklik vir Afrikaans. Deur bemiddeling van Danie Smal, voordrag kunstenaar en kritikus van Keet gedigte, het sy ‘n meer as oppervlakkige kennis van Afrikaanse gedigte gekry, sodat onder haar liedere tekste is, wat in die twintiger jare vir die meeste Nederlanders nog onbekend was. Een van haar vyf bundels Groot Suid-Afrika bevat selfs uitsluitend tekste van ID du Plessis, ‘n digter wat feitlik eers in die afgelope jare meer bekendheid in Nederland gekry het. Behalwe die vyf bundels, het sy ook nog enkele liedere in Die Nuwe Brandwag gepubliseer. Onder haar tydgenote was nog enkele komponiste, wat Afrikaanse tekste vir hul liedere gekies het, o.a. Cornelis Dopper en Hendrik C Van Oort.

Na die afsterwe van haar man in 1926 gaan woon Anna in haar huis buite Soest. Sy is ses jaar later, op die ouderdom van vyf en vyftig, in die Diaconessenhuis in Utrecht, oorlede. Sy is ter ruste gelê langs haar man in die Algemene Begraafplaas te Crooswijk.

Anna Lambrechts Vos se werk word beskryf as Zeer belangrijke werken. Men merkte overal op dat de componiste de stof beheerscht, dat zij phantasie heft en dat zij de vormen weet te kneden naar het beeld, dat in haar binneste leefde.

In Gorinchen is ‘n Anna Lambrechts-Vosstraat ter nagedagtenis aan ‘n besonderse skeppende musikant.

Ander Afrikaanse digters getoonset

D Mostert, JFE Celliers, JRL van Bruggen, ID du Plessis, J du Toit, FCL Bosman, TW Jandrell, CL Leipoldt, H Martins, Lodevikus en J du Toit.

Rotterdamsch Nieuwsblad, Maandag 18 Januarie 1932

De Indische Courant, Saterdag 27 Februarie 1932

Toonsetting: Aan my Moedertaal

Toonsetting: Groot Suid-Afrika

Toonsetting: Kom, Afrikaners

Toonsetting: Sing Uit Jou Lied