ABRAHAM HARGREAVES ASHWORTH - Alec
* 24 Julie 1895, Leeds, Yorkshire, Engeland
† 20 Desember 1959, Leeds, Yorkshire, Engeland
Gedigte
Klaas Vakie/The Sandman: 1923
Adoratio: 1921, 1937, 1950, 1951, 1952
‘n Lied van die see: 1921, 1922, 1923, 1947, 1953
Sonnedaal: 1921, 1947
Vlindertjies / Kinderlied: 1921, 1923, 1944, 1950, 1951, 1952
Musiekkritikus, komponis, skrywer, digter
Die name Hargreaves en Ashworth word al in die agtiende eeu in verband met geestelike musiek van die Baptiste genoem.
Alec se pa, Abraham Hargreaves Ashworth (1861 – 1944), is gebore in Uley, Gloucestershire, Engeland, as die seun van 'n Baptiste prediker. Hy was musiekonderwyser, dirigent en koormeester. Alec snr is in Pietersburg, Suid-Afrika oorlede. Alec se Moeder, Louisa Winder, was ‘n sanger, pianis, orrelis en musiekonderwyser. Gebore in Leeds (1866), sterf sy in 1943 te Kimberley. Die egpaar is in 1887 getroud. Alec jnr het latere jare sy moeder in haar sangloopbaan begelei. Alec Ashworth is ‘n neef van Arthur James Ellis, wat Keet se gedig Maar één Suid-Afrika getoonset het.
In 1902 emigreer Alec se vader alleen na Suid-Afrika en vestig hom in Kimberley. Die volgende jaar het Alec jnr met die hele gesin van sewe kinders en sy moeder na Suid-Afrika verhuis.
Alec het aan die Boys’ High School in Kimberley, waar sy vader onderwyser was, leerling geword. Hy slaag nie daarin om die BA graad aan die South African College (Univ van Kaapstad) te behaal nie, maar na oorlogsdiens het hy in 1916 wel gegradueer en klerk in die Kaapse Onderwysdepartement geword.
‘n Paar van sy komposisies het onder die aandag van WH Bell, van die Universiteit van Kaapstad gekom, wat sy invloed gebruik het om vir Alec in 1918 toelating te verkry tot die Suid-Afrikaanse Musiekkollege, waar hy ‘n jaar lank onder Bell studeer het. Aan die einde van die jaar het hy die goue medalje van die Kaapstadse Stadsraad ontvang vir sy talent en vir die bevordering van mede-studente se belangstelling in musiek.
Bell het sy rol as beskermheer verder gevoer en vir Ashworth ‘n aanstelling as student-assistent in harmonie, kontrapunt en musiekgeskiedenis en om met die kollege se adminstratiewe werk te help, gekry. Danksy hierdie hulp kon Alec ’n verdere twee jaar studeer en ook die lisensiaat van die Kollege en die Kaapse Musiek Onderwysers-diploma verwerf.
Hierna is hy aan die Boy’s High School in Kimberley as onderwyser in instrumentale musiek aangestel, maar in 1922 het hy hierdie pos ten gunste van verdere studie aan die Royal College of Music (RCM) in London laat vaar, waar hy in 1923 ‘n vennoot geword het.
Die volgende jaar het hy tot die personeel van die Yorkshire Post as assistent bibliotekaris toegetree en mettertyd ‘n verslaggewer en uiteindelik die plaasvervanger van die musiekkritikus, Herbert Thompson, geword. Hy het vir sy onbevange aanprysing van die destyds minder bekende komponiste bekend geword.
In 1941 keer hy terug na die onderwys as dosent in musiek en skilderkuns vir die Britse troepe en later musiekonderwyser aan die Leeds and Barnsley Grammar School.
Tydens die laaste jare van sy aktiewe loopbaan aan die Teachers’ Training College in Staffordshire was hy musiek-dosent. Na sy aftrede het hy hom in sy geboorteplek, Leeds, gaan vestig.
Afgesien van sy joernalistieke werk, het Ashworth ook vir Engelse musiektydskrifte bydraes gelewer en die program-aantekeninge vir die Northern Philharmonic Orchestra geskryf. Ashworth was ook die digter van heelwat ernstige en satiriese verse. Sy vernaamste werk was ‘n tesis oor Modern Choral Music, waarvoor die Music and Letters Prize in 1940 aan hom toegeken is.
Weinig van sy werk is gepubliseer en manuskripte het verlore gegaan. Die uitsondering was die bundeltjie Drie Afrikaanse Liedere, op tekste van JFE Celliers wat in 1922 deur Nasionele Pers uitgegee is, en baie gewild was in Suid-Afrika, Nederland en Vlaandere. Ashworth was ‘n Engelsman wat deur die keuse van sy liedtekste pleidooie vir Afrikaans gelewer het en dit reeds in 1922.
In die loop van die volgende jaar publiseer Nasionale Pers, Kaapstad, Ashworth se Afrikaanse toonsettings van ‘n totaal ander aard: Klaas Vakie / The Sandman en ander Kinderliedjies. Tussen 1922 en 1953 het Ashworth agt Afrikaanse toonsettings gemaak, waarvan ses van Keet se gedigte is. Hierdie toonsettings is bewaar in die Jagger Biblioteek by die Universiteit van Kaapstad, wat op 18 April 2021 afgebrand het. Net die toonsetting van Klaas Vakie / The Sandman het behoue gebly.
Op grond van sy kennis is Alec Ashworth in 1954 gevra om vir die vyfde uitgawe van Grove’s Dictionary of Music and Musicians ‘n bydrae te skryf.
Ten tye van sy dood in 1959 was hy besig om ‘n handboek oor skoolmusiek te skryf.
Ander Afrikaanse digters getoonset
JFE Celliers, CF Leipoldt, JRL van Bruggen en EN Marais.
Die Burger, 27 Februarie 1970
Toonsetting: Klaas Vakie