Toonsettings van AD Keet se Gedigte
Oor Ons
Die eerste toonsetting van een van die volksdigter-dokter AD Keet se verse het in 1918 in Nederland in druk verskyn – twee jaar voordat sy eerste digbundel deur Swets en Zeitlinger in Leiden, Nederland, gepubliseer is. In die 107 jaar wat sedertdien verloop het, is toonsettings van 46 van Keet se gedigte deur 63 individue uit ‘n verskeidenheid agtergronde en lande van herkoms geskep - die mees onlangse ‘n 2024 produk van Kunsmatige Intelligensie (KI).
Die reikwydte van die toonsettings het gedurende die Covid inperkingstyd in 2021 aan die lig gekom toe Keet se kleindogter, Ilse, haar oupa en haar pa se dokumentêre nalatenskappe deurgewerk het. Sy het haarself ten doel gestel om die toonsettings wat behoue gebly het, te vind. Hierdie soektog kulmineer in ‘n bundel wat, alhoewel dit nie primêr ‘n naslaanwerk is nie, die invloed van Keet se werk op musiek en die reikwydte daarvan dokumenteer.
Die speurtog na toonsettings het begin in universiteits- en dorpsbiblioteke, kerkargiewe, konservatoriums en stowwerige solders in sowel Suid-Afrika as die buiteland. Vervolgens is gepoog om die soliste, komponiste, musikante, predikante, ‘n herbergier, plantkundige, onderwyser, skilder en studente wat gedigte getoonset het (of hul nakomelinge) in lande soos Vlaandere, Oekraïne, Switserland, Wallis, Paraguay, Nederland, Duitsland, Australië en die VSA op te spoor en skriftelike toestemming te verkry om toonsettings in hierdie bundel op te neem. In die uitsonderlike gevalle waar geen kontakpersoon of instansie wat kopiereg op materiaal het opgespoor kon word nie, of indien toestemming weerhou is, is die persoon en sy werk weggelaat.
Tydens die ontginning van die inligting het gebeure uit die lewe van die toonsetters na vore gekom wat vir Ilse aan die hart gegryp het. Ten einde outentiekheid voorop te stel en te verseker dat elke toonsetter se storie so lewensgetrou as moontlik oorvertel word, is daar besluit om nie tradisionele “curriculum vitaes” in te sluit nie. Kontakpersone is spesifiek versoek om ‘n narratiewe penskets te maak wat die unieke menswees van die betrokke toonsetter sou toelig. Die styl van sketse varieer gevolglik – soms word op ‘n enkele episode uit die lewe van die toonsetter gefokus en in ander gevalle word ‘n breër oorsig van die persoon se lewensreis weergegee. Indien geen nakomelinge van die ouer (reeds gestorwe) toonsetters opgespoor kon word nie, is staatgemaak op ander bronne om inligting te bekom.
Rakende die struktuur van die bundel: na hierdie Oor Ons konteks en ‘n toeligtende grepie oor AD Keet is toonsetters se stories in van-alfabetiese volgorde ingesluit. Van elke toonsetter word ‘n lewenskets, geboorte- en sterfdatums (indien bekend) foto (indien beskikbaar), bladmusiek van een van die Keet gedigte wat getoonset is en toekennings wat die persoon ontvang het, weergegee. Laastens word die gedigte van Keet, sowel as werk van ander Afrikaanse digters wat die betrokke persoon getoonset het, gelys.
Variasies op elders gepubliseerde detail oor byvoorbeeld geboorte-, sterf- en ander datums, vertellings en gebeure kom geredelik voor, veral ten opsigte van die ouer toonsetters. Ondanks uitvoerige raadpleging van meervoudige primêre sowel as sekondêre bronne en doen van kruisverwysings kon die juistheid van inligting nie deurgaans geverifieer word nie.
In die lys van bronne wat geraadpleeg is word verskeie items gelys as deel van die “Keet Nalatenskap”. Dit verwys na die magdom plaaslike en internasionale knipsels uit koerante en tydskrifte wat hoofsaaklik uit die pre-digitale era kom, en waarvan die oorspronklike bron nie noodwendig geïdentifiseer kon word nie. Die briewe in die Keet Nalatenskap is meestal gedateer en handgeskrewe en het behoue gebly danksy AD Keet (snr en jnr onderskeidelik) se versamelinstink. In enkele gevalle was briewe en toonsettings grootliks onontsyferbaar en fotos onduidelik, maar aangesien duideliker alternatiewe nie beskikbaar was nie is dit volledigheidshalwe ingesluit. ‘n Unieke bydrae is die insluiting van bladmusiek wat (ondanks 2 wêreldoorloë, politieke omwentelinge en brande in biblioteke) behoue gebly het – in enkele gevalle in die toonsetter se eie handskrif. Aangesien etlike van die bronne nie gedetailleerd gedokumenteer kon word nie, heet hierdie gedeelte Bronne – en nie Bronverwysings nie.
Die kritiese vraag oor hoe Europese toonsetters reeds gedurende die vroeë 1900’s met Keet se werk kennis gemaak het, kon slegs deels beantwoord word. Dit is waarskynlik dat, aangesien Keet gedurende sy 10 jaar in Nederland betrokke was by gevestigde kulturele netwerke rondom musiek, sang en die digkuns, hierdie forums aanvanklike bewuswording van sy werk gefasiliteer het. Dit blyk uit terugvoer van medewerkers aan hierdie bundel dat die kenmerkende sangerige styl en toeganklike fokusareas van Keet se gedigte ‘n eeu later steeds toonsetters inspireer.
Ons dra hierdie werk op aan oupa Senekal, AD Keet en sy nakomelinge, wat reeds in hul wiegies sy gedigte gehoor het en op hul oudag steeds saamsing en gediggies opsê vir die agter-agter kleinkinders.
Ons dank gaan aan die Hemelse Vader vir uithlouvermoë. Spesiale dankies aan die Personeel van die Musiekbiblioteek, Universiteit Stellenbosch; Die Musiekbiblioteek en Suid-Afrikaanse Musiekversameling van die Universiteit van Pretoria; die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns; SABC; NALN en die Nederlands Muziek Instituut, Den Haag; ou vriende, nuwe vriende en nasate van toonsetters in Suid-Afrika, Europa, Australië en Amerika.
Ten slotte is dit die samesteller se hartsbegeerte dat die leser deur hierdie bundel sal kennismaak met mense van reg oor die wêreld wat tydens hul lewensreis só geraak is deur ons moedertaal dat dit hulle geïnspireer het om musiek te maak.
Ilse Keet
(Samesteller)
Kontak ons met terugvoer, inligting oor verdere toonsettings van Keet se werk, korreksies en/of aanvullings vir hierdie publikasie.