Oor AD Keet

ALBERTUS DANIëL KEET

* 14 Oktober 1888, Alice, Oos-Kaap, Suid-Afrika

† 12 Februarie 1972, Senekal, Vrystaat, Suid-Afrika

Aangename kennis! Ek heet AD, of Bertie, en soms Dokter Keet. My kleinkinders noem my oupa Senekal, in assosiasie met die Oos-Vrystaatse dorpie waar my mediese praktyk jare lank in ‘n ruim dubbelverdieping huis in Zuiderstraat 14, oorkant die kerk gevestig was. Die kerk en ons familiewoning is van dieselfde sandsteen uit die distrik gebou en was in die winter ewe koud. Vanaf die breë rooibaksteentjiestoep kon ek my gereeld verwonder aan die dosyne versteende boomstamme wat die kerkplein omring.

Gepraat van verwondering – dit verwoord gewis my gevoel oor die toonsettings van ‘n aantal van my gedigte wat in hierdie bundel byeengebring is. Hoe het dít gebeur?

My lewensverhaal – ook maar beskeie – is aangeteken in die boekie “AD Keet aan die woord. ‘n Skakel met die Lae Lande.”[1] Sonder om te veel te herhaal, en hopelik deur iets nuuts neer te pen, deel ek graag enkele gewaarwordings rondom die gebeure wat daartoe bygedra het dat my woorde mense laat musiek maak.

As jongeling gee ek die eerste treë van my skoolloopbaan in Humansdorp en ek matrikuleer in 1907 as 17-jarige aan die Muir Kollege op Uitenhage. Weens ‘n tekort aan finansies (ek is die jongste van 6 pastoriekinders wat grootliks deur ‘n weduweemoeder versorg is) gaan bestudeer ek noodgedwonge tale aan die South African College School (later die Universiteit van Kaapstad). Met Grieks, Latyn, Nederlands, Duits en Engels is onderwyser word my voorland. My Godgegewe talent om opstelle te skryf en my ontluikende passie vir die Filosofie bring mee dat ek in 1908 as topstudent in die Honneursklas prestasiebeurse verwerf. Plotseling is die onderwys nie meer die enigste opsie nie – ek kan nou my droom om oorsee in die medisyne te studeer, ontgin. Terloops, die maak van ‘n keuse tussen ‘n loopbaan in die filosofie, teologie of skryfkuns enersyds en ‘n roeping na die medisyne andersyds bly jare lank ‘n tema. Lees gerus verder.

In April 1909 vertrek ek aan boord van die Duitse passasierskip die Burgermeister na Amsterdam, waar ek in 1918 aan die Gemeentelijke Universiteit en die Universiteitshospitaal, die Wilhelmina Gasthuis, as arts kwalifiseer. My kennis van die klassieke tale blyk toe ‘n aanwins te wees, aangesien verskeie vakgedeeltes in Duits aangebied is. Gedurende my senior studentejare saai die Eerste Wêreldoorlog (1914 – 1918) in Europa verwoesting. Hoewel Nederland neutraal gebly het en ek my studie kon voortsit, was verhongering aan die orde van die dag – oor hierdie belewenis praat ek liefs nie. Ek volstaan daarmee dat ek diep geraak is deur die gebeure wat hierdie tydperk kenmerk, soos ook deur die geskiedkundige gebeure in Suid-Afrika tydens my leeftyd. Die teregstelling van Jopie Fourie en die lyding van my landgenote tydens die Anglo Boereoorlog bly my lewenslank by.

Ondanks die veeleisende mediese kursus was ek, getrou aan my weetgierige natuur, vasbeslote om by sport- en kulturele aktiwiteite betrokke te bly. Ek leef my lewenslange belangstelling in sport uit – aanvanklik as begeesterde deelnemer en in later jare as toegewyde toeskouer en radioluisteraar – en geniet veral staptogte, fietsry, rugby en krieket. Dit word “student Keet” se voorreg om die eerste amptelike rugbydrie (wat destyds wel 3 punte getel het!) in Holland aan te teken: “Dit was toe twee Suid-Afrikaanse studentespanne in ‘n vertoonwedstryd teen mekaar gespeel het. Die veld was ’n modderbad en dit het maar swaar gegaan. Totdat die Springbok Stevie Joubert ’n gaping slaan, gly-gly deurglip en die bal aan my gee. En die eerste drie word op Hollandse bodem geplant.”

Algemeen Nederlandse Sportblad, eerste jaargang, datum onbekend. Keet staan in die middel met donker trui en wit broek.

Op kulturele gebied sluit ek aan by die florerende Afrikaanse Studentevereniging, waar ek en medestudente onsself verdiep in onder meer die Letterkunde, Geskiedenis en Filosofie. Terugskouend reken ek dat die grondslag vir my vaderlandsgedigte tydens hierdie periode vasgelê is. My begeesterdheid met my Vaderland bring mee dat ek gereeld genooi word om as spreker die woord te voer oor aktuele aangeleenthede aldaar en sodoende bou ek kontak op met openbare figure soos Onse Jan Hofmeyer, genl JBM Hertzog, Emily Hobhouse en JW Leyds. ‘n Wonderlike hoogtepunt was die ontdekking van die sogenaamde Europese Tagtigers, die room van die Nederlandse en Duitse digters. My voorgraadse taalstudie het dus weer eens onvoorsiene vrugte afgewerp! Terselfdertyd het die Tweede Afrikaanse Taalbeweging in Suid-Afrika onder leiding van digters soos Marais, Celliers, Totius, Malherbe en Leipoldt tot stand gekom. Ek het kontak met hulle behou, en selfs die studiestuk “Jan FE Celliers, Als digter en denker”, geskryf. Terloops, die oorsponklik gedrukte kopie (1917) het behoue gebly en is dekades later opgespoor tussen die dokumente wat ek nagelaat het. Ek verneem dat my nakomelinge na die bonte versameling dokumente en tekste wat in Senekal in my studeerkamer agtergebly het, verwys as die “Keet Nalatenskap”. Min kon ek voorsien dat van die knipsels, artikels en briewe in my nalatenskap ‘n eeu later wetenswaardig sou wees – ek aanvaar dus aanspreeklikheid vir die ontbrekende of onvolledige bronverwysings by menige van die geskrifte.

Oor my groeiende betrokkenheid by die joernalistiek: “Ek het ’n bietjie baie nodige sakgeld daarmee verdien deur aan die grootste koerante, soos Dietsche Stemmen, De Toorts en De Nieuwe Rotterdamsche Courant … bydraes te stuur oor Suid-Afrikaanse politiek en kulturele sake.” Alhoewel ek dus aanvanklik om den brode begin skryf het, lei my woordvaardigheid en breë belangstellingsveld spoedig tot jarelange verbintenisse met publikasies soos De Nieuwe Rotterdamsche Courant, vir wie ek tot 1926 as korrespondent optree. Ek was ook bevoorreg dat ek uit Nederland bydraes aan die Suid-Afrikaanse pers kon voorsien. ‘n Artikel in Die Brandwag (1914) belig my lewenslange verbintenis aan beide Nederland (as stamland) en Suid-Afrika (as leefland): “Ik hoor nog die refrein van meer dan één studenteliedjie. Als ik so die pragtige Vlaamse liedere hoor, als ik hulle toneelspelers sien, als ik mij midde in hul beskawing vind, dan voel ik als Groot-Nederlander trots, maar als Afrikaner ook ’n beetjie jaloers, moet ik erken. Wanneer bring ons dit nog ééndag so ver? Maar ons is nog maar jong…”

Ná die voltooiing van my mediese studies (op daardie tydstip was ek boonop baie verlief) aanvaar ek ‘n huisartspos by die Stedelike Hospitaal in Arnhem, op die grens met Duitsland. Toe die hoofdokter aldaar in 1919 weens die Groot Griep oorlede is, het ek, tesame met dr BJ Havenga (broer van oudminister Klasie Havenga), die bestuur van daardie en verskeie ander noodhospitale in Arnhem oorgeneem.

In dieselfde jaar tree ek toe in die eg met die 25 jarige Neeltje Nulda Cornelia (Nell) Van der Poll, ‘n jonkvrou (uit die Nederlandse adel) van Amsterdam. Sy, die vonkel in my oog en die inspirasie vir my liefdesgedigte, kwalifiseer ‘n jaar na my as mediese dokter. Knap na die sluiting van die Vredesverdrag van Versailles in 1919 verlaat ons as jonggetroudes Nederland – my geliefde Dr Nell Keet-Van der Poll sou haar Vaderland nooit weer besoek nie. Tydens ons seereis word haar bruidskat in die skeepsruim geplunder en ons besittings verwoes - vermoedelik deur Australiese soldate wat via Suid-Afrika onderweg was huistoe. Ons gaan in Suid-Afrika aan land met feitlik geen besittings, klompe studieskuld en harte vol drome en ideale.

Na ‘n blitsbesoek aan Humansdorp (Oos-Kaap) om my eggenote aan die familie voor te stel, maak ons vroeg in 1920 ons staning in Senekal (OVS). Weer eens steek die moontlikheid van ‘n loopbaan in die joernalistiek kop uit in die vorm van ‘n werkaanbod van die Nasionale Pers om Redakteur van Die Volksblad te word: “Ek het aangebied om hulle te help net tot na die algemene verkiesing in Maart 1920, maar hulle het toe iemand anders gekry. Nou ja, ná langdurige mediese studie en met baie skuld, het ek nie kans gesien vir die ‘job’ (met ‘n besonder powere salaris) nie.”

Ons gesamentlike mediese praktyk in Senekal groei deurgaans en ons ontwikkel en resepteer medikamente en salwe, maar die finansies knyp, onder meer weens wanbetaling van my salaris as distriksgeneesheer deur die destydse Departement van Gesondheid. Vir my vrou word die aanpassing by die Suid-Afrikaanse leefwyse vergemaklik toe John en Sanna Tsatsi by ons huishouding inskakel. Hierdie Basutu egpaar sou dekades lank kosbare, onmisbare staatmakers in ons gesin wees as onderskeidelik tolk en huishoudster. My eggenote het haar in die 12 jaar voordat sy op 32-jarige ouderdom voortydig oorlede is, veral toegespits op diens aan die vroue en kinders van die plaaslike gemeenskappe. Ek moes as distriksgeneesheer dikwels die gruwelike paaie trotseer onderweg na plase of na hofsake, waarby ek as regstegniese deskundige moes getuig. John was as navigator en vertroude skakelpersoon met anderstalige pasiënte immer aan my sy.

Ek was geseënd om jare later in Catharina (Rina) van der Merwe ‘n nuwe lewensmaat te vind wat vanaf ons troue in 1939 vir my ‘n geliefde geesgenoot en steunpilaar sou bly.

Terug na die skrywerskant. Ondanks my veeleisende mediese praktyk (ek was sawens dikwels doodmoeg) en latere gesondheidsprobleme (die ouderdom eis sy tol!) het ek probeer om lewenslank ‘n nougesette, ywerige korrespondent te bly. Via land-, see- en later lugpos kon ek wêreldwyd vriendskappe in stand hou met onder andere die Vlaminge Modest Lauwerijs, Emiel Hullebroeck en René de Clerq. Ek het ook nie gehuiwer om plaaslike staatsmanne te karnuffel of te trakteer met (volgens my kritici) “knap verwoorde briewe en my ondeunde sin vir humor” nie. Onder my gewaardeerde korrespondente tel (as voorbeeld) CR Swart, MC Havenga, MT Steyn, EG Jansen, JWF Grosskopf en JP du Buisson.

Ander digters, predikante en kunstenaars soos Jan FE Cilliers, JD Kestell, BB Keet, F Rompel, DF Malherbe, S le Roux Marais, JRL van Bruggen, C Louis Leipoldt, Anton van Wouw en JH Pierneef was gerekende penvriende. Ellelange briewe aan my kinders en familielede voltooi hierdie prentjie. Dit word tong in die kies vertel dat daar uit die letterlik honderde briewe in my nalatenskap ‘n presiese verslag van toentertydse rugbywedstryde tussen die Springbokke en die All Blacks saamgestel sou kon word!

Oor my gedigte: die eerste gepubliseerde bundel, Gedigte, verskyn in 1920 in Nederland en beleef 5 herdrukke. Die meerderheid van daardie gedigte het weliswaar vantevore in die reeds gemelde Nederlandse tydskrifte en/of Suid-Afrikaanse tydskrifte soos Die Brandwag, Ons Moedertaal en Die Huisgenoot verskyn. In 1931 volg “Verspotte gediggies vir verspotte kinders”, opgedra aan die kinders van Kroonstad vir wie ek ‘n sagte plekkie gehad het. Hierdie twee bundels het gegroei uit my “…begeerte en drang om iets by te dra tot die opbou van ons volk se leesstof.” My laaste bundel, “In Memoriam”, word met ‘n beperkte oplaag van 300 gepubliseer na die heengaan van my eggenote, en verwoord my intense rousmart.

As finale mymering: Gedurende die vormende, produktiewe studentejare in Nederland kon ek ‘n netwerk opbou met kultureel eendersdenkendes. Met hul ondersteuning en te danke aan my deelname aan en kontak met verskeie kulturele organisasies het my werk aanvanklik deur die Lae Lande, en metterjare na ander uithoeke, versprei. Tot my spyt is geen rekord gehou van presies hoe en na wie kopieë van my gedigte oor die wye wereld heen versprei het nie. Twee van my gewaardeerde kritici en vriende, Piet Nien(aber) en Gerhard Beukes vat die aard van my werk raak: “Keet was nie ‘n digter met ‘n gekompliseerde gemoedslewe nie en hy het ook nie gestrewe na grootse kuns nie. Krag, sterkte, sterk momente sal ons nie in sy poësie vind nie, maar heel dikwels bevalligheid, bekoorlikheid en ‘n hoë mate van sangerigheid.” Dit was dus hierdie toevallige musikale ondertoon van my gedigte – al is ek introvert bly ek immer ‘n romantikus – wat deur medekunstenaars ge-eien is, en as bladmusiek getoonset is. Vandaar hierdie bundel. Wat ‘n voorreg!

[1] Keet, AD. 2004. AD Keet aan die woord. ‘n Skakel met die Lae Lande. Disa-Uitgewers. Tygervallei. Kaapstad. Kopieë is vir aankoop beskikbaar - kontak die samesteller vir meer inligting